Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Sefa oorval met aansoeke om hulp aan kleinsake
maatskappye,
Talle kleinsake het om hulp aangeklop by die staat.

Die staat se kleinsake-finansieringsagentskap (Sefa) is sedert die begin van die Covid-19-inperking met meer as 35 000 hulpaansoeke oorval.

Sefa is verantwoordelik vir die bestuur van die regering se skuldverligtingsfonds tydens die inperking, maar die stortvloed gewone leningsaansoeke het hom oorweldig, want hy hanteer normaalweg net 250 leningsaansoeke per jaar.

Die departement van kleinsakeontwikkeling het Woensdag aan die parlement se portefeuljekomitee oor kleinsakeontwikkeling oor Sefa se kleinsakehulp tydens die inperking verslag gedoen.

Die stortvloed aansoeke het beteken aansoeke kon nie betyds verwerk word nie.

Rosemary Capa, adjunkminister van kleinsakeontwikkeling, het aan die komitee gesê sy is baie bekommerd, want die aansoeke vir hulp uit die skuldverligtingsfonds stroom steeds in terwyl die geld al op is. Haar departement is in gesprek met die tesourie om meer geld vir die fonds te kry.

Sefa het tot 22 Mei 35 865 aansoeke vir sowat R5 miljard se hulp ontvang, maar nog net 1 501 aansoeke is goedgekeur. Deur dié aansoeke is R530 miljoen uitbetaal en kon 21 580 werkgeleenthede beskerm word, het Lindokuhle Mkhumane, waarnemende direkteur-generaal van kleinsakeontwikkeling, gesê.

Sefa se sustersagentskap, die kleinsakeontwikkelingsagentskap (Seda), het Sefa bygestaan om die aansoeke te verwerk. Volgens Mkhumane was Seda se aanlyn platforms egter nie ten volle voorbereid op die krisis nie.

Mandisa Tshikwatamba, uitvoerende hoof van Seda, het gesê die beskikbare geld vir hulp aan kleinsake uit die skuldverligtingsfonds het gou opgeraak, en aansoekers is daarna na die Werkloosheidsversekeringsfonds verwys vir hulp.

Hulp vir spazas

Sefa het ook ’n steunprogram vir spazawinkels waardeur hy sowat 25 000 spazawinkels wil help. Munisipaliteite het gehelp om die program te koördineer deur handelspermitte aan spaza-eienaars uit te reik. Maar dié program het net 702 aansoeke om hulp uit 2 246 aansoeke goedgekeur.

Groothandel

Sefa het ook ’n program om kleinsake met groothandelaars te koppel om hul marktoegang te verbeter. In dié program het Sefa gevind kleinsakelui moet leer om hul produkte beter te verpak en te etiketteer. Vir die meeste van hulle is die groothandelmark nuut, en hulle sal moet leer om hul produkte aggressief te bemark. Hulle moet ook leer om betroubare en bekostigbare verskaffers vir hul onverwerkte produkte te vind. Van die ondernemings wat byvoorbeeld handreiniger vir die groothandelmark wou vervaardig, kon nie genoeg alkohol kry nie en ander kon nie verpakkingsmateriaal vind nie.

Nog ’n program om te midde van die Covid-19-inperking bedryfskapitaal aan groeiende kleinsakeondernemings te bied, is vir eers gestaak. Die geld wat daarvoor geoormerk was, is oorgedra na die skuldverligtingsfonds omdat die nood daar groter is, het Mkhumane gesê.

Betaalvakansie

’n Betaalvakansie vir kliënte van Sefa is ook ingestel, maar Mkhumane het gewaarsku dit gaan Sefa se eie bedrywighede negatief raak, want dit beteken hy het geen kontantvloei nie, en ander opsies sal gevind moet word om sy inkomste te verhoog.

Sefa het ook huurders van sy nywerheidsparke in townships ’n blaaskans met hul huurgeld gegee.

Meer oor:  Covid-19  |  Kleinsake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.