Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Shell skop Clicks uit, bied eie voordeel vir petrol
’n Vulstasie wat aan Shell behoort. Foto: Getty Images

Shell en Clicks se skielike egskeiding ’n paar weke gelede het motoriste onkant betrap.

Kort daarna het Clicks ’n nuwe vennootskap met Engen aangegaan waarvolgens motoriste lojaliteitspunte op hul Clicks ClubCard verdien elke keer as hulle brandstof by Engen ingooi.

Die rede vir die verbrokkeling van Shell en Clicks se verhouding was aanvanklik ’n groot geheim, maar nou het die brandstofmaatskappy erken dit was eintlik hý wat die besluit geneem het omdat hy sy eie lojaliteitsprogram wil begin.

En dis presies wat Shell toe gedoen het.

Vanaf 1 Desember kan motoriste ’n spesiale lojaliteitskaart by enige Shell-vulstasie bekom, dit aanlyn registreer en harde kontant in ruil vir brandstof ontvang.

Wat bied die nuwe lojaliteitsprogram?

Kragtens Shell en Clicks se aanvanklike ooreenkoms, wat die afgelope drie jaar gegeld het, het motoriste 10c per liter in Clicks-punte ontvang vir elke liter petrol wat hulle ingegooi het.

Shell se eie lojaliteitsprogram gee 15c per liter terug as hulle brandstof by “deelnemende vulstasies” ingooi.

Die krediet word op die motoris se sogenaamde V+-kaart gelaai.

Waar kan ek die geld gebruik?

Volgens Shell sal motoriste vanaf einde Januarie die krediet op hul V+-kaarte kan gebruik om vir nog brandstof te betaal, of om aankope te maak in enige van die gerieflikheidswinkels by ’n Shell-vulstasie.

Trouens, motoriste ontvang ook krediet vir elke rand se aankope in die gerieflikheidswinkels as hulle hul V+-kaart by die kasregister wys.

Petroljoggies sal motoriste deurlopend kan inlig hoeveel krediet tans op ’n betrokke V+-kaart is, sê Shell.

Kry dubbel soveel terug

Motoriste wat tussen 1 Desember en 31 Januarie brandstof by Shell ingooi, kan ook dubbelpunte verdien as hulle ’n V+-kaart het.

Dit beteken motoriste kry vir twee maande 30c per liter brandstof terug wat dan vanaf die einde van Januarie gebruik kan word om vir nog brandstof te betaal.

Wat van Discovery?

Shell se ooreenkoms met Discovery, waarvolgens kliënte van dié versekeraar ook punte verdien as hulle brandstof by Shell ingooi, word nie geraak nie.

Motoriste sal egter moet kies of hulle krediet op hul V+-kaart wil ontvang, en of hulle met hul Discovery-kredietkaart wil betaal en só Discovery-punte versamel.

Jy kan nie albei belonings ontvang nie.

Wat gee Clicks my nou by Engen?

Die hoeveelheid punte wat motoriste by Engen verdien as hulle hul Clicks ClubCard vertoon, bly 10c per liter.

Dubbele punte kan ook gedurende Desember en Januarie verdien word.

Volgens inligting op Shell Suid-Afrika se webblad het hy 635 vulstasies landwyd, terwyl Engen ’n totaal van 1 279 het.

Gelukkig is dit vir motoriste moontlik om punte by sowel Shell as Engen te verdien, solank hulle die regte lojaliteitskaart by die regte vulstasie gebruik.

Meer oor:  Shell  |  Clicks  |  Engen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.