Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Shoprite: 61% van gewone beleggers stem teen Wiese

Dit is as ’n duidelike boodskap van minderheidsaandeelhouers beskryf toe 61% van gewone aandeelhouers Maandag op Shoprite se jaarvergadering teen Christo Wiese se herverkiesing as direkteur gestem het.

Ingesluit Wiese se spesiale stemregaandele in die groep het hy egter die vereiste aantal stemme gekry om weer as direkteur herverkies te word.

Christo Wiese Foto: Jaco Marais

Wiese het 42% van die stemme in die Shoprite-groep. Sowat 32% van sy stemreg is van spesiale stemaandele afkomstig. Hy het ook amper 10% se gewone stemme vanweë soveel gewone aandele wat hy hou.

Hy het 38,8% van die gewone stemme wat uitgebring is op die jaarvergadering vir sy herverkiesing gekry (dus uitgesluit sy spesiale stemme). As mens sy gewone aandele se stemreg ook buite rekening sou laat, kom dit waarskynlik daarop neer dat net sowat 28% van die ander gewone aandeelhouers vir sy herverkiesing gestem het.

“Dit is ’n groot boodskap van minderheidsaandeelhouers,” het Shane Watkins, beleggingshoof van die fondsbestuurder All Weather Capital, gesê.

“As hy nie die spesiale aandele gehad het nie, sou hy uit gewees het.

“Ek dink dit is ’n groot oomblik in Shoprite se lewe. Ek dink beleggers wil op korporatiewebestuursvlak dinge anders gedoen hê.”

Dié stemme, wat aandui hoe gewone aandeelhouers gestem het, uitgesluit Wiese se spesiale aandele, is ná die sluiting van die mark eers uitgereik.

Wiese het Maandag ná die jaarvergadering toe die gesamentlike stemme wat uitgebring is reeds getoon het dat baie teen hom gestem het, gesê hy glo nie dit toon dat aandeelhouers hom wantrou nie.

“Daar is die toenemende neiging dat institusionele aandeelhouers onafhanklike voorsitters wil hê. Dit is oor die wêreld heen die geval. Ek verstaan dit heeltemal en ek het geen probleem daarmee nie,” het Wiese ná die vergadering gesê. “Ek sien dit nie as ’n vreeslike stem van wantroue (in my) nie.”

Hy is reeds 28 jaar die voorsitter en het in 2017 laas vir herverkiesing gestaan.

Oor diegene wat sê dat beleggers sedert die Steinhoff-debakel van einde 2017 nie meer soveel vertroue in hom het nie, het hy gesê: “Hopelik glo mense nie hul geloof in my is wat werklik tel nie. Dit is die geloof in die bestuurspan wat tel en hoe ek met die bestuurspan saamwerk.”

Herverkies

Wiese het laataand gesê hy is op die direksievergadering ná die jaarvergadering herverkies as voorsitter.

Hoe lank Wiese nog as voorsitter gaan dien ná die jaarvergadering is nou ’n groot vraag.

Prof. Shirley Zinn, hoof- onafhanklike direkteur, het op die jaarvergadering by navraag gesê daar is ’n opvolgplan in plek en dat die direksie ná die jaarvergadering dit verder sou bespreek.

Wiese het te kenne gegee daar kan in die komende jaar ’n verandering ten opsigte van die opvolgplan op direksievlak kom.

Hy het na afloop van die jaarvergadering aan die media gesê hy sal aanbly as direkteur as daar ’n nuwe voorsitter aangestel word. Hy het gesê Shoprite kan genoeg goeie mense kry wat in die direksie kan dien en dat daar genoeg kandidate is wat kwalifiseer as onafhanklik.

’n Nuwe voorsitter moet net op “ordelike wyse” aangestel word, volgens hom.

Ongewoon

Dit is in verwysing na die ongewone wyse waarop All Weather Capital ’n direkteur benoem het.

Dié fondsbestuurder het vir Jan le Roux, ’n bekende in landboukringe, wat 20 jaar gelede Pepkor se uitvoerende hoof was, as direkteur benoem.

Le Roux het 26% van die gewone stemme wat uitgebring is op die jaarvergadering ten gunste van sy herverkiesing gekry.

Watkins meen dit is “ongelooflik” gegewe dat Le Roux amper net soveel steun as Wiese gekry het, slegs binne ’n week sedert die voorstel om hom te benoem verlede Maandag aan aandeelhouers gestuur is.

“Dit toon aandeelhouers wil ’n verandering hê.”

Ek dink dit is ’n groot oomblik in Shoprite se lewe. Ek dink beleggers wil op korporatiewebestuursvlak dinge anders gedoen hê.
Shane Watkins, All Weather Capital

Watkins het voor die vergadering gesê hul benoem vir Le Roux oor sy ervaring in die kleinhandel, maar ook omdat daar ’n direkteur gesoek word wat onafhanklik van Wiese is omdat hy (Wiese) te veel invloed oor die groep het.

Wiese het voor daar gestem is gesê Shoprite het ’n spesifieke manier hoe om nie-uitvoerende direkteure aan te stel.

“In hierdie geval het All Weather Capital besluit om nie die proses te volg nie, maar gebruik te maak van ’n voorwaarde in die akte van oprigting ingevolge waarvan enige aandeelhouer enigiemand as direkteur kan benoem met vier dae kennisgewing. Behalwe vir die feit dat dit ’n redelik ongewone prosedure is, het dit nog nooit in die geskiedenis van Shoprite gebeur nie.”

Dit was Vrydagoggend nog onduidelik of die besluit daaroor sou kon voortgaan omdat dit indruis teen die noteringsvereistes van die JSE, wat ’n langer tydperk vereis vir ’n gewone benoeming. Laat Vrydagmiddag het die groep aangedui dit gaan wel ter tafel gelê word.

Dit blyk Wiese het met minstens sy spesiale stemme (dus sowat 32%) teen Le Roux se verkiesing gestem.

Hy wou nie ná die vergadering kommentaar lewer oor hoe hy gestem het nie.

Of All Weather meer suksesvol sou wees as hulle Le Roux op normale wyse voorgestel het, het hy wel gesê: “Daar is ’n proses. Dit is wat my beswaar is. Hoekom het hulle nie gekom en gesê dit is wat hulle wil doen nie? Dan vat ek dit na die nominasiekomitee en dit gaan deur die proses. Dit is nie vir my alleen om te besluit nie, dit is die nominasiekomitee en die direksie, en dan uiteindelik die aandeelhouers.”

Meer oor:  Pepkor  |  Shoprite  |  Christo Wiese  |  Shane Watkins  |  Jan Le Roux
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.