Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Shoprite: Belegger wil Wiese ‘se mag breek’

“Ons wil iemand kry wat onafhanklik is van Christo Wiese.”

Christo Wiese, billionaire and chairman of Steinho
Christo Wiese, voorsitter van Shoprite. Foto: Getty Images

Dis die mening vane Shane Watkins, beleggingshoof van die batebestuurder All Weather Capital, wat ’n direkteur vir die Shoprite-groep benoem het.

Watkins het Donderdag gesê Wiese is al 30 jaar lank die voorsitter en het “oordrewe invloed” oor die Shoprite-groep.

Netwerk24 het vroeër vandeesweek berig All Weather Capital het Jan le Roux (69), ’n oudhoof van Pepkor, benoem om as direkteur op die groep se jaarvergadering verkies te word.

LEES OOK: Oudhoof van Pepkor benoem as Shoprite-direkteur

Die Shoprite-groep het sy beleggers Maandag ingelig oor ’n gewone resolusie onder die item “ander sake” op die agenda van sy jaarvergadering.

Die benoeming is gedoen kragtens die akte van oprigting van die Shoprite-groep, maar dit is die eerste keer dat ’n direkteur so benoem word.

Pieter du Preez, Shoprite se maatskappysekretaris, het Vrydagmiddag laat bevestig dat die JSE gesê het dié gewone resolusie mag wel Maandag ter tafel gelê word. Shoprite hete uitsluitsel by die JSE oor die aangeleentheid gevra.

Business Day het berig die JSE kon dalk ’n stokkie hiervoor steek omdat aandeelhouers kragtens die noteringsvereistes minstens 15 werkdae kennis moet kry van ’n gewone resolusie.

Watkins het gesê daar heers onsekerheid oor of die besluit voorgelê kan word, want die akte van oprigting bepaal dat ’n benoeming nie later as vier werkdae voor ’n aandeelhouersvergadering ontvang mag word nie.

Shoprite het die benoeming op 23 Oktober ontvang.

Watkins sê Wiese het hom verwittig die benoeming is ’n oortreding van die JSE se noteringsvereistes en word ondersoek.

Die interne proses wat hulle in die verlede gevolg het, het die binnekring toegelaat om te besluit wie word ’n direkteur. Vars bloed word op die direksie benodig.
Shane Watkins van All Weather Capital

Watkins meen Le Roux se belange is belyn met ander minderheidsaandeelhouers s’n.

Le Roux het aan Netwerk24 gesê hy is naas Wiese die tweede grootste individuele aandeelhouer in die Shoprite-groep.

Watkins sê hulle is langtermynbeleggers in Shoprite en jaag net dit wat die beste vir die maatskappy is, na.

Jan le Roux, eienaar van die Le Roux-groep. Foto: Samantha van den Berg

Belyn met minderhede

Watkins meen dit is kommerwekkend dat baie van die onlangse sakeskandale in die land verband hou met situasies waar daar een oorheersende en magtige aandeelhouer is. Voorbeelde is Steinhoff, EOH, Resilient en Aspen, sê hy.

Hy het toegegee dat ’n groot aantal aandeelhouers vir Le Roux sal moet stem omdat Wiese rofweg 40% van die stemaandele hou.

Hy sê Le Roux is ook benoem vanweë sy kleinhandelondervinding.

Le Roux het 20 jaar gelede as besturende direkteur van Pepkor bedank en is sedertdien beter bekend in landboukringe in die Wes-Kaap as die eienaar van die baie suksesvolle sagtevrugteboerdery die Le Roux-groep.

Le Roux was van 1975 tot 1987 die finansiële hoof van Pepkor en van 1997 tot 1999 die uitvoerende hoof.

Hy is weg by Pepkor toe die groep herstruktureer is in drie bedryfsmaatskappye en sy pos weggeval het.

Le Roux sê hy is destyds deur Renier van Rooyen, stigter van die Pepkor-groep, aangestel. Volgens hom was hy die finansiële hoof van Pepkor nadat Whitey Basson in die pos gedien het.

Basson was jare lank die uitvoerende hoof van die Shoprite-groep.

‘Beproefde proses’

Wiese het aan Business Day gesê geen direkteur is al voorheen op die manier tot die direksie verkies nie.

“Ons het ’n beproefde proses wat behels ’n naam word verskaf en die benoemingskomitee oorweeg dit en ’n onderhoud word dan met die individu gevoer. As daar dan ooreenstemming is, kan die aandeelhouers oor die aanstelling stem.”

Watkins meen dit beteken as Wiese nie dink iemand is geskik nie, sal hy nie die benoemingsproses slaag nie.

“Die interne proses wat hulle in die verlede gevolg het, het die binnekring toegelaat om te besluit wie word ’n direkteur. Vars bloed word op die direksie benodig wat nie spesifiek belyn is met die huidige voorsitter nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.