Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Oorlog teen plastiek: Só vaar groot winkelgroepe

Die Shoprite-groep se inkopiesakke word al vir agt jaar 100% uit herwinde materiaal gemaak.

Shoprite is klaar gereed vir die komende nuwe regulasies rondom plastieksakke. Foto: Argief

Die groep voldoen dus al klaar aan die departement van omgewingsake se nuwe regulasies hieroor.

Woolworths het intussen verlede week laat weet nog 50 winkels tesame met twee nuwe winkels gaan teen einde April glad nie meer plastieksakke aan klante gee nie, as deel van sy bydrae tot die vermindering van plastiekbesoedeling.

Dit kom nadat die departement onlangs regulasies gepubliseer het wat bepaal inkopiesakke moet teen 2023 50% uit herwinde materiaal bestaan, teen 2025 uit 75% en teen 2027 uit 100% herwinde materiaal.

Sanjeev Raghubir, volhoubaarheidshoof by Shoprite, sê sowat 7 000 ton plastiek per jaar word reeds sedert 2013 danksy sy skuif na 100% herwinde plastieksakke van stortingsterreine en ander ná-verbruikersbronne herwin.

Ná-verbruikersbronne beteken die plastiek word deur informele versamelaars uit huishoudings se vullis of van stortingsterreine versamel, eerder as wat dit plastiekafval is wat deur nywerhede geskep is.

Shoprite dra sodoende nie net by tot minder druk op munisipaliteite se krimpende ruimte vir vullisterreine nie, maar ook tot werkskepping in die informele herwinningsektor.

Raghubir verduidelik dat anders as winkels of voorstedelike verbruikers wat voel plastieksakke moet heeltemal verbied word, sy klante dikwels uit armer gebiede kom wat nie hul eie inkopiesakke kan bekostig nie.

Vir dié klante is inkopiesakke ook geensins slegs vir een keer se gebruik nie. Dit is mense wat openbare vervoer gebruik en wat plastieksakke oor en oor gebruik vir enigiets van om klere in te verpak of skoolboeke in te dra skooltoe.

Hy verduidelik die nuwe regulasies kan wel uitdagings hê vir winkelgroepe, soos van die klerekleinhandelaars wat wit plastieksakke gebruik.

Die wit plastieksakke kan nie van herwinde materiaal gemaak word nie. Dit moet van nuwe materiaal gemaak word.

Kalsiumbymiddels word in die produksieproses bygevoeg om die sakke so wit te kry, maar die bymiddel veroorsaak dat die sak nie herwinbaar is nie. Dis hoekom die Shoprite-groep sy sakke se kleur na groen verander het vir Checkers en rooi vir Shoprite.

Oor kritiek oor ander verpakkingsmateriaal in winkels wat nie herwinbaar is nie, sê Raghubir Shoprite mik om teen 2025 al die verpakking van sy eie inhuis-produkte ten volle herwinbaar, herbruikbaar of komposteerbaar te hê.

Volgens Raghubir kan dié sakke verskeie kere herwin word omdat dit van laedigtheid-poli-etileen (LDPE) gemaak word, anders as poli-etileentereftalaat (PET), die plastiek wat tipies vir waterbottels gebruik word, wat slegs sowat 4 tot 5 keer herwin kan word voordat dit veselsterkte verloor.

plastieksakke
Die Shoprite-groep se Planet-inkopiesak wat deur die WNNR in 'n studie aangedui is as die omgewingsvriendelikste van 16 inkopiesakke wat vir volhoubaarheid getoets is.

Ander inisiatiewe van Shoprite was om sedert 2018 ’n hoër gehalte, dikker plastieksak te ontwerp, juis omdat klante hul plastieksakke so baie keer hergebruik.

Dié sak is volgens Raghubir tans teen R3 die goedkoopste herbruikbare inkopiesak op die mark, en boonop word klante beloon elke keer as hulle die sak vir inkopies gebruik. Hulle kry 50c terug vir elke keer as hulle die sak by ’n Shoprite-winkel gebruik.

Die WNNR het boonop dié sak as die omgewingsvriendelikste inkopiesak aangewys in ’n onafhanklike studie van 16 inkopiesakke wat betref herwinbaarheid en of dit uit herwinde materiaal gemaak is.

Oor kritiek oor ander verpakkingsmateriaal in winkels wat nie herwinbaar is nie, sê Raghubir Shoprite mik om teen 2025 al die verpakking van sy eie inhuis-produkte ten volle herwinbaar, herbruikbaar of komposteerbaar te hê.

Hy verduidelik sommige PET-houers vir voedselverpakking kan nie herwin word nie, asook sekere polistireen. Dit is omdat daar in Suid-Afrika nog nie die geriewe is om dié soort voedselgraad-plastiek te herwin nie. Die herwinde polistireen word wel as bymiddel vir die maak van bakstene gebruik.

Oor klagtes oor dun plastiekfilm oor vrugte of groente wat nie herwin kan word nie, verduidelik Raghubir daar is ook die faktor van kosvermorsing. Sonder die beskerming sal meer kos gouer vermors word, ten koste van herwinning, wat in ’n land soos Suid-Afrika onverantwoordelik kan wees.

Wat doen die ander?

Woolworths gaan teen einde April 52 winkels in Gauteng en die Wes-Kaap hê wat glad nie meer plastiekinkopiesakke verskaf nie. Dit bring die totaal op 200 van sy takke in Suider-Afrika wat plastieksakloos sal wees, sê Latiefa Behardien, hoof van voedseltegnologie en veiligheid by Woolworths.

Woolworths mik om teen 2027 glad nie meer plastiek-inkopiesakke te voorsien nie, en wil klante eerder aanmoedig om herbruikbare sakke te gebruik, het 'n woordvoerder gesê.

Woolworths probeer wegbeweeg van verpakking wat moeilik herwinbaar is, byvoorbeeld:

  • Hy het sy plastiekverpakking vir tamaties en avokado's met herwinbare kartonverpakking vervang, wat jaarliks meer as 240 ton plastiek sal spaar. Die dun plastiekfilm oor die avokado’s is nou ten volle herwinbaar.
  • By sy Earth Friendly-reeks seepprodukte is die metaalvere in die houers vir vloeibare seep verwyder sodat dit tenn volle herwinbaar is.
  • Sy To Go-reeks produkte se verpakking is waar moontlik met herwinbare karton vervang wat 4,3 miljoen plastiekbakkies per jaar vervang, en 6,1 miljoen etikette word vermy want drukwerk word regstreeks op die karton gedoen.

Pick n Pay het ’n teiken om teen 2025 ook al sy verpakking herwinbaar of herbruikbaar te maak, om gemiddeld 30% van sy verpakking uit herwinde materiaal te maak, om verpakkingsmassa 30% minder te laat weeg as in 2018, om die verkope van herbruikbare inkopiesakke met 30% te verhoog, en om al sy papier- en kartonverpakking van omgewingsverantwoordelike bronne te kry.

Pick n Pay se inkopiesakke is al sedert 2018 100% van herwinde materiaal gemaak, sê André Nel, volhoubaarheidshoof by die winkelgroep. Dit hou meer as 3000 ton plastiek per jaar uit die omgewing.

Pick n Pay het in 2019 sy groen People n Planet inkopiesak bekend gestel. Dit vat twee herwinde groen 500-ml-plastiekbottels om een sak te vervaardig. Die sak kos R6. Klante kan ook papiersakke teen R2 in winkels koop.

Meer oor:  Shoprite  |  Herwinning  |  Plastiek  |  Verpakking  |  Omgewingsake  |  Vervaardiging  |  Besoedeling  |  Inkopies  |  Kleinhandel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.