Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Shoprite maak bekend 224 winkels is geplunder

Altesame 224 winkels in die Shoprite-groep en ’n verspreidingsentrum is verlede week in die onluste in KwaZulu-Natal (KZN) en Gauteng geplunder, het die winkelgroep Dinsdag in ’n verklaring bekend gemaak.

TSHWANE, SOUTH AFRICA - MAY 13:  Shoprite during G
’n Argieffoto van ’n Shoprite in Shoshanguve, Gauteng. Foto: Gallo Images

Winkelgroepe maak nou die een ná die ander bekend presies hoe hulle deur die onluste geraak is en hoe hulle vorder om winkels te heropen.

Pieter Engelbrecht, uitvoerende hoof van Shoprite, het sy “opregte dank” uitgespreek aan Shoprite se werknemers in die streke wat geraak is. Hy het ook lof uitgespreek vir die groep se afdelings vir verliesvoorkoming, verskaffingskettings- en vlootbestuur, wat skitterende werk in die krisis gedoen het.

“Aan ons lojale Usave-, Shoprite- en Checkers-klante: Jul dawerende gesamentlike steun het bygedra tot ons vermoë om ons onderneming te heropen en te herbou en gemeenskappe in KZN en Gauteng verlede week te bedien. Ons kan julle nie genoeg bedank nie.”

Die Shoprite-groep as geheel het verlede week landwyd groei in sy verkope beleef. Dis ondanks die regstreekse impak van die onluste op winkels in die twee provinsies, die sluiting van ander winkels as voorkomingsmaatreël én die sluiting van LiquorShop-winkels die afgelope drie weke weens die vlak 4-regulasies.

Die groep sê dat hy “voldoende verseker is vir wesentlike skade aan bates, voorraad en sake-onderbreking”.

“Hoewel noodsaaklike en onverhaalbare eenmalige koste aangegaan is om ons bedrywighede te beskerm, gaan dit na verwagting nie wesentlik op groepvlak wees nie. Dit sal uitgelig word as deel van ons roetine-verslagdoening.”

Die bedrywighede wat geraak is, sluit in:

  • 119 supermarkte (69 Shoprite-, 44 Usave- en ses Checkers-winkels), dus nagenoeg 10% van die groep se 1 189 supermarkte landwyd, is geplunder en van hulle is in brandstigting beskadig.
  • 54 LiquorShop-winkels, ook sowat 10% van die 537 drankwinkels in die land, is geplunder.
  • 35 meubelwinkels (House & Home, OK Furniture en OK Power Express) is geplunder, beskadig en/of afgebrand uit 340 winkels in die land, dus meer as 10%. Altesaam 48 meubelwinkels is nog toe, die meeste van hulle omdat verhuurders sentrums as ’n voorkomingsmaatreël nog nie heropen het nie.
  • Die groep se Freshmark-verspreidingsentrum in Durban is geplunder, maar sy bedryfsvermoë is teen Sondag ten volle herstel.
  • Die verspreidingsentrum vir droë goedere in KwaZulu-Natal het teen Donderdag 15 Julie aflewerings hervat.
  • Die verspreidingsentrum in Gauteng het deurgaans ononderbroke gewerk en het ook so vroeg as Donderdag 15 Julie produkte aan winkels in KZN gelewer soos winkels stuk-stuk heropen is.
  • Die meerderheid winkels wat as voorsorgmaatreël gesluit het, is heropen. Plek-plek dring verhuurders nog aan dat winkels toe bly, maar Shoprite sê hy bly daartoe verbind om bedrywighede so vinnig as moontlik te herbou en te herstel.
  • 16 OK-koswinkels is geplunder en beskadig (minder as 4% van die 444 OK-winkels in die land). Van hulle is net twee nog toe.
  • Goeie nuus in die lig van Covid-19 is dat die bedrywighede van Transpharm, Checkers se groothandelaar in medisyne, glad nie geraak is nie. Dit lewer grootliks voorraad aan die groep se MediRite-apteke en ook aan hospitale in KZN.

Woolworths het Maandag bekend gemaak nege winkels in KZN en twee in Gauteng is geplunder en ernstig beskadig. Woolworths se Maxmead-verspreidingsentrum in KZN is betree, maar die infrastruktuur is nie ernstig beskadig nie.

Altesame 184 winkels in die Spar-groep is beskadig, naamlik 91 Spar-, 62 Tops- en 31 Build it-winkels. Dit verteenwoordig nagenoeg 7% van Spar se hele netwerk winkels in Suider-Afrika.

Die bedrywighede word stelstelmatig hervat.

Pick n Pay het nog nie uiteengesit hoeveel winkels beskadig is nie.

Duisende winkels, restaurante, fabrieke, verspreidingsentrums, skole, selfoontorings, banke, kitsbanke en selfs welsynsorganisasies het verlede week deurgeloop onder die vandalisme. Dit het ontstaan nadat oudpres. Jacob Zuma weens minagting van die hof in hegtenis geneem is.

Die Shoprite-groep het, soos baie ander maatskappye, sy verbintenis tot Suid-Afrika herbevestig met ’n advertensie wat met ’n aanhaling van wyle oudpres. Nelson Mandela begin.

Ander maatskappye het mense gevra om nie geplunderde goedere te koop nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.