Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Shoprite moet R1 m. opdok oor roekelose uitlening

Shoprite se filiaal Shoprite Investments het krediet aan pensioentrekkers en ander lae-inkomste-groepe toegestaan wat volgens sy eie berekeninge dit nie sou kon bekostig om dit terug te betaal nie. 

Die Shoprite-groep is op die vingers getik oor leningspraktyke.

Dit was vir die koop van meubels, toestelle en elektronika op afbetalingsplanne.

Die winkelgroep moet nou ’n boete van R1 miljoen aan die Nasionale Kredietreguleerder (NKR) opdok en boonop betaal vir skuldberading vir die verbruikers wat geraak is.

Dié uitspraak van die hooggeregshof in Pretoria is einde 2019 gelewer in ’n saak wat nou al sedert 2014 sloer.

Die NKR het in September 2014, terwyl hy besig was met navorsing, tekortkominge opgemerk in die prosesse wat Shoprite volg as hy bepaal of mense krediet kan bekostig. Dit het tot ’n volledige ondersoek gelei, waarna die NKR Shoprite by die Nasionale Krediettribunaal (NKT) aangekla het.

Bekostigbaarheidstoetse – waardeur kredietverskaffers moet seker maak mense kan wel die geld terugbetaal in ag genome hul inkomste en ander skuld wat hulle reeds het – is ’n vereiste van die Nasionale Kredietwet van 2007, wat later selfs strenger gemaak is. As geld aan iemand geleen word wat dit nie kan bekostig nie, kom dit op roekelose uitlening neer en kan verbruikers vrygespreek word van dié skuld.

Die NKT het Shoprite in September 2017 daaraan skuldig bevind dat hy nie behoorlike bekostigbaarheidstoetse gedoen het nie en geld roekeloos uitgeleen het.

Shoprite het na die hooggeregshof in Pretoria geappelleer, maar dié appèl is op 18 Desember van die hand gewys.

Volgens die NKT het Shoprite verbruikers se bestaande skuldverpligtinge geïgnoreer of te lig geskat, wat strydig is met die wet.

Shoprite het ook die inligting van kredietburo’s “aangepas” in gevalle waar die buro’s se verslae gewys het verbruikers is reeds te swaar belaai met skuld.

Die hooggeregshof het in sy uitspraak gesê een van die “verstommendste” aspekte van Shoprite se benadering tot bekostigbaarheidstoeste was dat hulle kredietburo’s se inligting aangepas het, maar in sommige gevalle het dit nietemin getoon verbruikers kan nie nog skuld bekostig nie – en tog het Shoprite stééds vir hulle krediet voorgeskiet.

Shoprite het in reaksie gesê die hofuitspraak hou verband met krediet wat aan slegs nege verbruikers toegestaan is van Junie 2013 tot Junie 2014, “uit duisende” mense. 

Die NKR verskil egter van dié siening. Nomsa Motshegare, uitvoerende hoof, sê die NKR se ondersoeke bestaan uit die ontleding van ’n steekproef.

By Shoprite is 60 kredietooreenkomste ontleed. Die nege waarna Shoprite verwys en waaroor die hof bevind het roekelose praktyke het plaasgevind, verteenwoordig volgens die NKR 15% van die krediet wat toegestaan is: “Ons het dus nie ’n presiese getal verbruikers wat geraak is nie, maar ons raming sal wees dat dit tot 15% van al Shoprite se krediet-klante kan wees.”

Shoprite verseker die nege mense is reeds tegemoet gekom: “In al die gevalle is die krediet wat toegestaan is, ten volle vereffen met die verbruikers wat raak word.” 

Shoprite sê ook hy het sy stelsels aangepas: “Vorige prosesse vir bekostigbaarheidsassessering by Shoprite Investments is in September 2015 met ’n nuwe stelsel vervang wat in pas is met die regulasies oor bekostigbaarheidsassessering in die Nasionale Kredietwysigingswet wat in Maart 2015 uitgereik is.”

Verbruikers wat voel hulle was ’n slagoffer van roekelose uitleenpraktyke deur Shoprite, kan die NKR by complaints@ncr.org.za kontak.

Meer oor:  Shoprite  |  Nkr  |  Kredietwet  |  Kleinhandelaars  |  Nasionale Kredietreguleerder  |  Krediet  |  Kleinhandel  |  Skuld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.