Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Shoprite pleit vir inenting van sy 140 000 werkers

Die Shoprite-groep het ’n dringende beroep op die regering gedoen om die inenting van sy werknemers te prioritiseer noudat die derde vlaag Covid-19-infeksies skerp styg.

shoprite
Shoprite, wat ook Checkers, OK en Usave besit, pleit dat werknemers aan die voorste linie in die kleinhandel ingeënt word. Foto: Shoprite

Die groep, wat onder meer Checkers, Shoprite, OK en Usave besit, het al voorheen gevra dat hy as werkgewer toegelaat word om sy meer as 140 000 werknemers in te ent, op eie koste en met behulp van sy eie logistieke en farmaseutiese infrastruktuur.

Pres. Cyril Ramaphosa het Sondagaand aangekondig dat die vierde stroom inentings spesifieke groepe werknemers sal teiken. Ná onderwysers, wat reeds ingeënt word, sal polisielede, mynwerkers, taxibestuurders, mense wat in vervaardiging werk en joernaliste volg.

Shoprite wys daarop dat sy winkels meer as 25 miljoen mense per maand bedien. Die groep is die grootste enkele werkgewer in die private sektor.

“Ons glo dis noodsaaklik dat die regering die toewysing van entstowwe aan sy werkers aan die voorste linie prioritiseer,” sê Peter Engelbrecht, uitvoerende hoof, luidens ’n verklaring.

Engelbrecht sê werknemers aan die voorste linie, insluitend kassiere, bevoorraders en winkelbestuurders, “was elke dag sedert die aanvang van die pandemie by die werk, en werk onverpoos om te verseker dat ons kos, noodsaaklike kruideniersware en medisyne aan die land verskaf”.

“Ons mense aan die voorste linie kom elke maand in ons winkels met 25 miljoen mense in aanraking en dis noodsaaklik dat hulle ingeënt word. Ons voel sterk hulle moet geprioritiseer word. Ons is gereed om namens die regering inentings aan ons werknemers toe te dien, wat onder uitdagende omstandighede steeds meer as hul plig doen om klante te bedien.”

Die groep besit die apteek MediRite en die verspreider van farmaseutiese middels Transpharm.

“Soos die afgelope twee weke gewys het, sal Suid-Afrika vir toekomstige vlae van Covid-19 kwesbaar wees totdat ons ’n beduidende persentasie van ons bevolking ingeënt het. Die groep is gretig dat die inentingsprogram versnel word en ons kan help om entstowwe te bekom en toe te dien, en sal self al die koste dra.”

Engelbrecht sê die groep is oortuig hy sal inentings baie vinnig kan toedien indien hy toegelaat word.

Verskeie ander firmas het ook reeds gesê hulle het die vermoë om hul werknemers in te ent en wil dit graag doen. Hulle is bereid om self daarvoor te betaal. Teen Dinsdag is nagenoeg 2,9 miljoen Suid-Afrikaners, oftewel 4,83% van die bevolking, ingeënt.

Mense van 50 jaar en ouer mag vanaf Donderdag 1 Julie vir inentings registreer.

Meer oor:  Shoprite  |  Pieter Engelbrecht  |  Covid-19  |  Kleinhandelaars  |  Entstowwe  |  Kruideniersware  |  Inentings  |  Kos  |  Kleinhandel  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.