Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Shoprite se verkope herstel, maar wins geknou
Shoprite het 'n uitdagende boekjaar agter die rug.

Die verkope van die Shoprite-groep se supermarkte in Suid-Afrika het in die laaste helfte van sy boekjaar herstel, maar sy winsgewendheid was onder druk.

Die groep het in die eerste helfte verkope verloor weens ’n staking by sy grootste verspreidingsentrum.

Pieter Engelbrecht, uitvoerende hoof van die groep, het in ’n handelsoorsig oor die boekjaar tot einde Junie gesê dat verkope in die tweede helfte verbeter het.

Die verkope van supermarkte in Suid-Afrika het 7,4% in die tweede helfte gestyg en nog vinniger in die laaste kwartaal van die boekjaar.

“Die markaandeel wat gewen is in die onlangse kwartaal toon ons Suid-Afrikaanse bedrywighede is weer volstoom aan die gang.”

Vir die volle boekjaar het die verkope in Suid-Afrika 4,9% gestyg. Op ’n vergelykende grondslag, uitgesluit nuwe winkels wat geopen het, is dit ’n groei van 1,9%.

Die markaandeel wat gewen is in die onlangse kwartaal toon ons Suid-Afrikaanse bedrywighede is weer volstoom aan die gang.
Pieter Engelbrecht

Die vertoning is meegebring deur beter beskikbaarheid op rakke en doeltreffende promosies.

Engelbrecht het gesê die volle jaar se vertoning moet gesien word in die konteks van die eerste helfte wat benadeel is deur die voltooiing van ’n nuwe IT-stelsel wat die afgelope jare ingestel is asook die nadraai van die staking in Mei en Junie by die verspreidingsentrum in Gauteng.

“Supermarkte in Suid-Afrika het sterk verkope oor Paastyd gehad en die momentum het meegebring dat verkope in die vierde kwartaal met 9,4% gestyg het en die groep het markaandeel teruggewen.”

Ongeag die versnelling van verkope in die tweede helfte, het die verhoging in die koste van personeel weens nuwe wetgewing, huur en elektrisiteit, skerper gegroei as omset gegewe die eerste helfte se swak verkope, volgens hom.

Volgens Engelbrecht het die verlore verkope in die eerste helfte bygedra tot ’n laer winsgewendheid in die boekjaar vergeleke met die vorige jaar.

Hy het gesê dit is bemoedigend dat handelswins in die tweede helfte vinniger gestyg het as omset.

As gevolg van ’n tekort aan buitelandse valuta en die swak geldeenhede teen die rand, het die winsgewendheid van sy supermarkte in die res van Afrika ook “wesenlik agteruitgegaan” in die tweede helfte en dit het veroorsaak dat ’n handelsverlies in die volle boekjaar gely is.

Die groep verwag dat sy wesensverdienste vir die volle boekjaar tot einde Junie met tussen 14% en 20% laer gaan wees.

Die heraangegewe syfer vir die vorige boekjaar is 971,4c en die verwagting is nou dat dit tussen 774,2c en 832,5c gaan wees.

Meer oor:  Shoprite  |  Checkers  |  Pieter Engelbrecht  |  Kleinhandelaars  |  Kleinhandel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.