Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Shoprite se verkope styg ondanks pandemie
Verkope by winkels soos Checkers het gestyg, ondanks die staat van inperking. Foto: Argief

Verkope by Shoprite se winkels het ondanks die Covid-19-pandemie gestyg.

Die maatskappy waarsku dat hy waardedalings van R1,3 miljard vir die jaar tot 28 Junie moes inreken “weens die agteruitgang in die huidige en toekomstige ekonomiese vooruitsigte” van die land.

Shoprite sê Maandagoggend in ’n handelsverklaring op die JSE se nuusdiens, Sens, dat sy verkope met 6,4% tot R156,9 miljard gestyg het. Dit is teenoor ’n jaar gelede, en is vir die 52 weke tot 28 Junie.

Wanneer nuwe produkte en dienste wat deur die loop van die jaar in werking gestel is buite rekening gelaat word, was groei steeds 4,4% meer as ’n jaar tevore.

Sy nuwe Checkers Sixty60-diens, het veral baie gehelp om die groei te bewerkstellig.

Dié diens – waarin Checkers onderneem om ’n aanlyn bestelling binne 60 minute by ’n klante af te laai – was teen einde Junie by 87 winkels in Suid-Afrika beskikbaar.

Shoprite sê verkope by sy supermarkte in Suid-Afrika, wat die verkoop van drank insluit, het met 8,7% gestyg. Die groei was veral in die tweede helfte van die jaar. Die maatskappy sê die gemiddelde mandjieprys van goedere wat gekoop is, het met 18,4% gedurende dié tydperk gestyg.

Die staat van inperking het egter ’n groot invloed gehad op die aantal klante wat winkels besoek het. Shoprite sê dit het in die tweede helfte van die jaar met 7,4% gedaal.

Verkope in supermarkte in ander lande in Afrika het met 1,4% gedaal.

Shoprite het ook aangekondig dat hy nou, na 15 jaar, sy meerderheidsbelang gaan verkoop in sy supermarkte in Nigerië. Hy gee geen verdere besonderhede hieroor nie.

Waar die groep swaar getrek het, was met die verkoop van meubels. Verkope het in die tweede helfte van die jaar met 23,1% gedaal. Dit bring die totale daling vir die jaar op 11,9% te staan.

Die maatskappy waarsku ook dat hy al hoe meer sukkel om uitstaande skuld vir meubels in te vorder. Hy waarsku nou dat hy voorsiening maak dat 50,5% van skuld nie betaal gaan word nie.

Die maatskappy sê gegewe die uitdagende omstandighede waarin Checkers, Checkers Hyper, Shoprite en Usave moes funksioneer, is die maatskappy baie trots op hoe hulle die krisis hanteer het.

Die maatskappy sê in die aanloop tot die begin van die staat van inperking einde Maart, was daar ’n beduidende toename in verkope.

Die verbod op drankverkope het meegebring dat die verskillende supermarkte se drankwinkels 29,5% minder drank in die tweede helfte van die jaar verkoop het.

Drankverkope verteenwoordig 5,8% van die plaaslike verkope by supermarkte.

Shoprite sê hy het R327,2 miljoen bestee om te verseker dat sy winkels aan al die maatreëls voldoen vir die pandemie..

Hy het ook R116,9 miljoen bestee om werknemers finansieel by te staan.

Shoprite sê hy verwag dat wanneer hy sy resultate op 8 September bekend maak, dat sy basiese verdienste per aandeel met tussen -3,7% tot 4,3% gaan verander tot tussen R6,01 en R6,52.

Die verwagte basiese wesensverdienste per aandeel gaan met tussen 7% en 15% tot tussen R7,48 en R8,04 styg.

Shoprite se aandeelprys begin Maandag teen R104,57 op die JSE verhandel.

Meer oor:  Shoprite  |  Checkers  |  Supermark  |  Winkelgroep  |  Handelsoorsig
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.