Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Shoprite se wins val dalk met meer as 20%

Shoprite het Dinsdag tot ná die sluiting van die JSE gewag om ’n droewige handelsverklaring uit te reik.

Pieter Engelbrecht, uitvoerende hoof van die Shoprite-groep. Foto: Verskaf

Die verklaring toon dat die kleinhandelreus se wins met tot 29% kan val vir die ses maande tot Desember, vergeleke met dieselfde halfjaar van 2017.

Die groep se basiese wesensverdienste per aandeel gaan met tussen 16% en 26% daal en sy basiese verdienste per aandeel met tussen 19% en 29%.

Shoprite sê die groep se inkomste het traag gegroei weens lae stygings in kospryse, probleme met die beskikbaarheid van voorraad en die swak geldeenhede in baie van die lande waarin hy sake doen. Daar was verskeie eenmalige uitgawes en die handelsomgewing is “uitdagend”.

Die groep het reeds ’n week gelede aangekondig sy syfers gaan nie waffers lyk nie, maar meer besonderhede is nou verskaf. Maatskappye moet ingevolge JSE-regulasies die mark waarsku as hul syfers met 20% van die vergelykbare tydperk gaan verskil.

Buite Suid-Afrika was dit veral Angola wat Shoprite geknou het. Dié land se geldeenheid teenoor die dollar het met 85% geval. Dit het meegebring dat inwoners ingevoerde goedere nie sou kon bekostig nie en Shoprite moes heelwat prysstygings self absorbeer: “Dit kon eenvoudig nie in die huidige ekonomiese resessie aan verbruikers deurgegee word nie.”

Shoprite wys daarop dat sy huur buite Suid-Afrika in dollar vasgestel word, wat dit baie moeilik gemaak het om koste te beperk.

In Suid-Afrika het kospryse gedaal. Teen Desember was daar steeds 10 719 soorte produkte op Shoprite se rakke wat goedkoper was as ’n jaar gelede.

Die voorraadprobleme waarna Shoprite verwys, word toegeskryf aan stakings, sowel as die ontplooiing van ’n nuwe IT-stelsel. Dis nou in werking en Shoprite verwag dinge sal nou klopdisselboom gaan.

Shoprite het ook gesukkel om die styging in uitgawes aan huur, krag, sekuriteit, vervoer en afskrywings te beperk in pas met die laer as verwagte inkomstegroei.

Shoprite sê hy bly positief oor “verbruikers se steun vir sy handelsmerke”.

Die groep sê ook Januarie se verkope was reeds beter en hy verwag dat die tweede helfte van sy boekjaar aansienlik beter sal wees.

Die volledige stel resultate word na verwagting op 26 Februarie uitgereik.

Shoprite het in Augustus vir die eerste keer in 17 jaar ’n winsdaling in sy resultate vir die boekjaar tot einde Junie bekend gemaak. Dit het toe met 4% tot R5,2 miljard gedaal.

Shoprite se aandeelprys het Dinsdag 0,85% laer op R178,50 gesluit, maar die impak van die handelsverklaring sal eers Woensdag blyk.

Meer oor:  Shoprite  |  Angola  |  Kosprysinflasie  |  Kleinhandelaars  |  Kleinhandel  |  Kospryse  |  Winkelgroepe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.