Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Shoprite: Skokbedanking ná omstrede vergadering

Prof. Shirley Zinn, hoof- onafhanklike direkteur van die Shoprite-groep, het onverwags met onmiddellike ingang bedank.

Zinn
Prof. Shirley Zinn, wat van 9 Mei vanjaar die Shoprite-groep se hoof- onafhanklike direkteur was.

Dit kom ná die omstrede jaarvergadering Maandag waarop 61% van gewone aandeelhouers teen Christo Wiese, voorsitter, se verkiesing as direkteur gestem het.

Hy is egter herverkies omdat hy self spesiale stemregaandele het wat verseker het die besluit word goedgekeur. Die direksie het daarna op ’n direksievergadering Wiese se heraanstelling as voorsitter goedgekeur.

Zinn is ook lid van die nominasiekomitee waarvan Wiese die voorsitter en dr. Anna Mokgokong die derde lid is.

Haar bedanking kom binne ses maande ná haar aanstelling op 9 Mei. Sy het Edward Kieswetter opgevolg nadat hy as hoof van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens aangestel is.

Shane Watkins, beleggingshoof van All Weather Capital, sê hy is “heeltemal geskok” oor haar bedanking.

“Ek het ná die jaarvergadering met haar gepraat en sy het geen aanduiding gegee dat sy gaan bedank nie. Iets moes daarna gebeur het wat haar oortuig het dat sy nie meer haar pligte kan uitoefen nie,” meen hy.

All Weather Capital het in ’n ongewone stap in Shoprite se geskiedenis verlede week ’n direkteur benoem vir verkiesing tot die direksie deur van die akte van oprigting van die groep gebruik te maak.

Jan le Roux, die grootste individuele aandeelhouer naas Wiese, wat benoem is as onafhanklike nie-uitvoerende direkteur, is nie verkies nie, grootliks omdat Wiese sy spesiale stemaandele gebruik het om teen hom te stem.

“Wanneer die hoof van die onafhanklike direksie onverwags bedank, hou dit gewoonlik daarmee verband dat hulle groot bedenkinge het of hulle hul pligte as hoof- onafhanklike direkteur onder die omstandighede kan uitvoer,” meen Watkins.

Hy meen dit is “skandalig” dat dit dalk die gebeure vandeesweek is wat haar genoodsaak het om te bedank.

“Sy is waarskynlik ’n etiese mens en iets het gebeur wat hiertoe gelei het.”

Sy is ook die voorsitter van die vergoedingskomitee van die Shoprite-groep.

Sy moes op die jaarvergadering vandeesweek met Wiese se herverkiesing tot direkteur die vraag hanteer wat die direksie doen ten opsigte van opvolgplanne vir hom omdat hy al 28 jaar lank die voorsitter is.

Zinn het daarop geantwoord daar is ’n opvolgplan wat op die direksievergadering ná die jaarvergadering gefinaliseer sal word.

Zinn wou nie kommentaar lewer op jaar bedanking nie.

Wiese het by navraag beaam dit was onverwags. “Sy het ’n notatjie geskryf en gesê dat sy om persoonlike redes bedank.”

Op die vraag hoekom dit nie in die Sens-verklaring staan nie, sê hy hy dink nie dit word gewoonlik daarin gemeld nie.

Oor Watkins se stellings sê Wiese dit maak nie sin nie.

“Daar was ’n algemene jaarvergadering en na die algemene jaarvergadering ’n verkiesing van die voorsitter. Dit was eenparig. Dit kan nie daaroor wees nie.”

Meer oor:  Shoprite  |  Titan  |  Christo Wiese  |  Shirley Zinn  |  Direksie  |  Onafhanklike Direkteur  |  Bedanking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.