Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Shoprite: Só na is Wiese aan dié stemreg verloor
Christo Wiese Foto: Jaco Marais

Die getal gewone aandele van die Shoprite-groep wat Christo Wiese, voorsitter, se beleggingsmaatskappy Thibault Square Financial Services hou, is baie naby die kerf waaronder Wiese sy spesiale stemaandele in die maatskappy sal verloor.

Wiese besit hierdie spesiale stemaandele sedert 2000 via Thibault. Dit gee aan hom hoër stemregte in Shoprite as wat gewone aandeelhouers het.

Shoprite het in April gesê Wiese se totale stemreg (ingesluit die spesiale stemaandele) kom op 42,3% neer.

Spesifieke reëls geld egter vir hierdie “uitgestelde aandele”, soos die stemaandele bekend staan.

Dit behels onder meer dat die persentasie gewone Shoprite-aandele wat Thibault hou nooit mag val tot onder 10% van die Shoprite-groep se uitgereikte aandele in 2000, toe die stemaandele uitgereik is nie.

Die Shoprite-groep het vandeesweek by navraag gesê Thibault het einde Maart 60 miljoen gewone aandele gehou. (Dit word regstreeks gehou of deur maatskappye wat as sy genomineerdes optree, soos Titan Nominees, Titan Sharedealers en Lavender Sky Investments.)

Dit is 11% van die 543,4 miljoen gewone uitgereikte aandele in 2000. Om 10% te hê, moet hy minstens 54,3 miljoen gewone aandele hou en hy is dus net-net bo dié kerf.

Thibault het in die nadraai van die gebeure by Steinhoff, waar Wiese ook die voorsitter en grootste aandeelhouer was, in Desember 2017 sowat 9 miljoen gewone Shoprite-aandele verkoop.

Wat gebeur as hy onder 10% val?

Kragtens Shoprite se akte van oprigting word die spesiale stemaandele “onmiddellik en in geheel aflosbaar” teen 0,1c per aandeel as Thibault se gewone aandeelhouding in Shoprite tot onder 10% val.

Die Shoprite-groep het in April gesê hy oorweeg ’n transaksie om sy aandeelstruktuur te vereenvoudig en dit in die pas te bring met die beste internasionale korporatiewe praktyk.

Hiervolgens sou 20 miljoen nuwe aandele aan Wiese se Titan Premier Investments uitgereik word. Die waarde daarvan is op R3,3 miljard gestel.

Titan sou dan ook Thibault se gewone aandele in Shoprite bekom, wat Shoprite in die posisie sou plaas om al die spesiale stemaandele terug te koop.

Die transaksie is egter vandeesweek gekanselleer weens teenkanting van aandeelhouers – meestal omdat baie gedink het die uitreiking van 20 miljoen nuwe aandele aan Wiese is ’n buitensporige prys om in die posisie te kom om die stemaandele af te los.

Geskiedenis van die aandele

Die spesiale klas aandele het ontstaan toe die beheermaatskappy Pepgro eers vir Pepkor ontknoop het en Pepkor toe vir Shoprite en Tradehold ontknoop het. Voor dié transaksie is Pepkor deur Pepgro beheer, wat op sy beurt deur Wiese se familietrust en private maatskappye beheer is.

Die spesiale stemaandele is uitgereik aan Wiese se maatskappye om die beheer voort te sit.

Kragtens die akte van oprigting is Thibault Square Financial Services die enigste gemagtigde houer van die stemaandele en mag dit nie aan ’n ander maatskappy oorgedra word nie. (Wiese hou ook deur ander entiteite gewone aandele in Shoprite, maar dit word nie hierdeur beïnvloed nie.)

Niks verhoed egter vir Wiese of Titan om sy aandeelhouding in Thibault Square aan iemand anders te verkoop nie.

Shoprite het ook as een van die redes vir die transaksie aangevoer dat dit “die onsekerheid verwyder oor die moontlikheid dat Thibault verkoop word en wesenlike invloed oor Shoprite sodoende na iemand anders oorgedra word”.

Van die stemaandele wel teruggekoop

Kragtens die akte van oprigting word die spesiale stemaandele aflosbaar teen die prys waarteen dit uitgereik is (naamlik 0,1c) wanneer Thibault van sy gewone aandele verkoop. Dit geskied teen ’n vasgestelde verhouding van spesiale stemaandele teenoor gewone aandele.

Nadat Thibault in Desember 2017 9 miljoen van sy gewone aandele verkoop het, is Shoprite daarop geregtig om 40,6 miljoen van die stemaandele terug te koop en te kanselleer.

Met die aankondiging van die beoogde transaksie in April het Shoprite ook na dié terugkoop verwys. Hy het vandeesweek by navraag bevestig hy gaan steeds die 40,6 miljoen stemaandele van Thibault terugkoop teen R40 625.

Dié transaksie sal voortgaan “sodra die maatskappy en die JSE ’n ooreenkoms bereik oor die aard van die transaksie en die regulatoriese goedkeurings wat verkry moet word”.

Op die vraag hoekom die aandele nie vroeër teruggekoop en gekanselleer is nie, sê Shoprite sy akte van oprigting “plaas geen minimum of maksimum tydsbepaling op die verkryging van die stemaandele nie”.

“Die direksie het op die eerste gepaste geleentheid aandag hieraan gegee. Thibault was geregtig om sy stemreg uit te oefen tot tyd en wyl die aflosprys aan hom betaal is.”

So is spesiale stemaandele aan Thibault uitgereik

Ná die terugkoop sal Thibault 264,9 miljoen stemaandele oorhou, wat neerkom op ’n stembelang van 32,3% in die Shoprite-groep.

Shoprite het in 2000 oorspronklik 276,8 miljoen spesiale stemaandele aan Thibault uitgereik. Shoprite se uitgereikte gewone aandele en spesiale stemaandele het 12 jaar lank onveranderd gebly.

Sedert 2012 is die getal stemaandele twee keer verhoog omdat Shoprite meer gewone aandele uitgereik het en die stemaandele kragtens die akte van oprigting pro rata dieselfde stembelang moes hou.

In Maart 2012 het Shoprite 27,1 miljoen gewone aandele uitgereik as deel van ’n kapitaalinsameling van R8 miljard, waarteen 13,8 miljoen spesiale stemaandele aan Thibault uitgereik is.

Aan die einde van die 2013-boekjaar het Thibault toe 290,6 miljoen spesiale stemaandele gehou.

As deel van die kapitaalinsameling is omskepbare skuldbriewe ook aan kwalifiserende beleggers uitgereik.

Wiese se Titan Share Dealers het ’n opsie gekry om R1,7 miljard van die omskepbare skuldbriewe van Rand Merchant Bank te koop.

Die opsie is in 2017 uitgeoefen en die skuldbriewe is in 27,1 miljoen gewone aandele omgeskakel, waarna nog 13,8 miljoen spesiale stemaandele aan Thibault uitgereik is.

Dit het die spesiale stemaandele wat Thibault hou tot 305,6 miljoen verhoog.

Baie verkoop

Shoprite se 2017-jaarverslag toon dat Wiese op 2 Julie van daardie jaar 101,3 miljoen gewone aandele gehou het.

Luidens die 2018-jaarverslag hy het begin Julie dié jaar 82,2 miljoen aandele gehou.

Dit kom nadat hy altesame sowat 19 miljoen aandele verkoop het in die nadraai van die ineenstorting van Steinhoff se aandeelprys.

Die laaste aandeletransaksie wat hy gedoen het, was in Junie verlede jaar.

As hy nou 60 miljoen gewone aandele via Thibault hou, beteken dit hy hou nog sowat 22,2 miljoen aandele elders.

Dit alles kom neer op ’n ekonomiese belang van 14,7% soos in April gesê is (wanneer die tesourie-aandele buite rekening gelaat word).

Meer oor:  Shoprite  |  Christo Wiese  |  Markus Jooste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.