Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Shoprite spring amper 9% ná kontantvloei verbeter

Die Shoprite-groep se aandeelprys het Dinsdagoggend met amper 9% gestyg nadat sy resultate vir die boekjaar tot einde Junie getoon het hoe sy kontantvloei verbeter het.

Shoprite store.
Shoprite boer vooruit ten spyte van die staat van inperking. Foto: Argief

Die groep se verkope het met 6,4% tot R156,9 miljard gestyg.

Dit is ten spyte van die inperking en sekere produkte wat lank nie verkoop kon word nie, insluitende drank wat R7 miljard tot sy verkope bydra, het Pieter Engelbrecht, uitvoerende hoof, aan beleggers met die aanbieding van die resultate gesê.

Die direkte koste weens die Covid-19-pandemie om personeel en klante veilig te hou, het hom meer as R327 miljoen gekos.

Die groep het meer as 654 000 handelsure verloor.

In Suid-Afrika het sy supermarkte se verkope ten spyte van die inperking met 8,7% gestyg.

Volgens Engelbrecht het die volume van produkte wat verkoop is, met 1,5% tot 7,7 miljard produkte toegeneem.

Hy sê die groep het sy markaandeel met 1,2% vergroot en dit is winsgewende markaandeel wat gewen is. Volgens hom is die styging in markaandeel gelykstaande aan R4,9 miljard se verkope.

Die handelswins het, uitgesluit die impak van hiperinflasie wat in Afrika-lande ervaar word, met 10% tot R8,3 miljard gestyg.

Uitgesluit die impak van hiperinflasie het die groep se handelswinsmarge verhoog.

Investec het in ’n nuusbrief vroegoggend gesê die syfers vir die boekjaar is in pas met die aanduiding wat die groep aan die mark gegee het.

“Maar die feit dat die groep nou in ’n netto kontant posisie is, is werklik positief.”

Dit sal na verwagting ’n positiewe uitwerking op sy aandeelprys hê.

Sy netto kontant en kontantekwivalente het met R6,4 miljard verbeter danksy die kontantvloei uit bedrywighede wat verbeter het, kapitale besteding wat verminder is en bates wat verkoop is.

Sy kontant uit bedrywighede het R15,8 miljard beloop vergeleke met verlede jaar se R9 miljard.

Die groep het ’n dividend verklaar, wat skaars is in die huidige omstandighede, met talle maatskappye wat al hul dividend laat vaar het.

’n Finale dividend van 227c (2019:163c) is verklaar. Dit het die totale dividend vir die jaar met 20% verhoog tot 383c (2019: 319c).

Meer oor:  Shoprite  |  Supermarkte  |  Staat Van Inperking  |  Resultate  |  Kleinhandel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.