Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Shoprite styg amper 11% ná goeie nuus
Pieter Engelbrecht, uitvoerende hoof van die Shoprite-groep. Foto: Verskaf

Die Shoprite-groep se aandeelprys het Dinsdagoggend met byna 11% gestyg ná ’n handelsoorsig wat toon sy verkope in Suid-Afrika het herstel en bedrywighede is weer volstoom aan die gang.

Die styging in sy aandeelprys volg ten spyte daarvan dat die groep se wins in die boekjaar tot einde Junie laer gaan wees.

Ontleders van Investec het in ’n nuusbrief gesê ’n groter daling in wins is verwag en die fokus is eerder op hoe die supermarkte in Suid-Afrika vertoon het.

Die groep het in die eerste helfte probleme ervaar toe ’n betoging by sy grootste verspreidingsentrum die beskikbaarheid van produkte op sy rakke benadeel het.

Pieter Engelbrecht, uitvoerende hoof van die groep, het in ’n handelsoorsig oor die boekjaar tot einde Junie gesê verkope het in die tweede helfte van sy boekjaar verbeter.

Verkope by supermarkte in Suid-Afrika het in die tweede helfte met 7,4% gestyg en nog vinniger in die laaste kwartaal van die boekjaar (dus die kwartaal tot einde Junie vanjaar).

“Die markaandeel wat gewen is in die onlangse kwartaal toon ons Suid-Afrikaanse bedrywighede is weer volstoom aan die gang.”

Klante kry swaar by Shoprite

Checkers was die uitblinker in die boekjaar ten opsigte van sy omsetgroei.

Dit is toegeskryf aan die beter aanbod van vars produkte en die markaandeel wat hy in vars produkte en klaar bereide maaltye wen.

Die groei in Shoprite-winkels se verkope was gedemp gegewe die afhanklikheid van sy kernteikenmark op baie van die kos wat in deflasie is en hoe kwesbaar hulle vir die huidige ekonomiese probleme is.

“Shoprite se primêre groep klante bly onder wesenlike druk in die moeilike ekonomiese toestande, maar die handelsnaam het sy leierskap met pryse behou en dit kan gesien word in die markaandeel wat in die onlangse kwartaal gewen is.”

Volgens hom is ’n nuwe IT-stelsel ook nou suksesvol in gebruik geneem.

“Die beskikbaarheid van produkte op rakke is nou beter as wat voor die nuwe stelsel beleef is.”

In die boekjaar is meer as 1,1 miljard klante bedien.

“Beter diensvlakke en die onlangse markaandeel wat gewen is, toon die probleme wat tot die staking in die boekjaar gelei het, is nou agter die rug en toon die suksesvolle ontplooiing van die nuwe IT-stelsel.”

In die jaar is 80 nuwe supermarkte geopen.

Pryse in Shoprite se supermarkte het in die jaar gemiddeld met net 1,2% gestyg. Teen die einde van die boekjaar het dit effens verhoog, maar die interne inflasie het vir langer as verwag laag gebly, volgens hom.

Altesame 9 679 artikels was in Junie nog in deflasie (pryse was laer as ’n jaar gelede) en baie van dié produkte is in kategorieë waarin die groep ’n bogemiddelde markaandeel het.

Volgens Investec is dit juis die terugkeer van inflasie wat vergeleke met geen kosprysinflasie in 2018 nie, voedselwinkelgroepe wind in hul seile gee.

Ander winkelgroepe se aandeelpryse het ook gestyg, insluitende Pick n Pay met 2,7% en Spar met 2%.

Meer oor:  Shoprite  |  Pieter Engelbrecht  |  Kruideniersware
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.