Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Shoprite-transaksie: Wiese 0, aandeelhouers 1
A customers carries a Shoprite-branded shopping ba
Christo Wiese is tans die grootste aandeelhouer in die Shoprite-groep. Foto: Getty Images

Genoeg minderheidsaandeelhouers van die Shoprite-groep is ontevrede oor die R3,3 miljard-transaksie wat met sy voorsitter Christo Wiese beoog is, wat gemaak het dat dié transaksie nou gekanselleer is.

Die transaksie word gekanselleer omdat meer as 15% van die res van die aandeelhouers, uitgesluit die maatskappye van Wiese wat sou deelneem aan die transaksie en ander verwante partye, teen einde Mei vir Shoprite skriftelik verwittig het hulle gaan nie dit goedkeur nie.

Shoprite het einde Februarie die eerste keer aangekondig hy beoog om die spesiale stemaandele wat Wiese se maatskappy Thibault Square hou, te kanselleer.

In April is meer besonderhede gegee wat getoon het 20 miljoen gewone aandele gaan teen R3,3 miljard aan Wiese se ander maatskappy Titan Premier uitgereik word om die stemaandele van Thibault te koop. Dit sou Shoprite dan ingevolge sy akte van oprigting die reg gee om die spesiale stemaandele te kanselleer. Titan, Thibault en verwante partye sou nie kon stem oor die transaksie nie.

Netwerk24 het onlangs berig oor die groot teenkanting teen die transaksie.

Een van die opskortende voorwaardes van die transaksie was dat aandeelhouers wat daarteen sou stem, teen 31 Mei Shoprite skriftelik daarvan moes verwittig. As dit meer as 15% van die ander aandeelhouers beloop het, kan die transaksie nie voortgaan nie.

Volgens Shoprite se direksie was dit in belang van goeie korporatiewe bestuur om selfs verder te gaan as wat die vereistes vir ’n spesiale resolusie is.

Shoprite het in ’n verklaring gesê hy het die aandeelhouers van meer as twee derdes van sy gewone aandele omvattend gekonsulteer.

Volgens hom het hy “breë ondersteuning in beginsel vir die kansellering van die spesiale stemaandele” gekry.

Ten spyte daarvan het meer as 15% van die aandeelhouers hom verwittig hulle gaan nie ten gunste van die transaksie stem nie.

Dit kan beteken, soos ontleders al vir Netwerk24 gesê het, hulle keur die besluit om die aandele te kanselleer goed, maar die prys is te hoog.

Die ooreenkoms tussen Shoprite, Thibault en Titan wat in April oor die voorgestelde transaksie gesluit is, is op 3 Junie gekanselleer.

Dit beteken die voorgestelde transaksie gaan nie geïmplementeer word nie.

Die direksie en bestuur het aandeelhouers bedank vir hul insae.

Meer oor:  Tradehold  |  Shoprite  |  Christo Wiese
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.