Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Shoprite: Wiese nomineer self ook direkteur

Die beleggingsbestuurders Oryx Partners het bevestig Iaan van Heerden, een van sy medestigters, is as direksielid van die Shoprite-groep genomineer.

Wiese
Christo Wiese (78) Maandagoggend voor Shoprite-groep se jaarvergadering begin het. Hy het die jaarvergadering as voorsitter gelei. Hy is al 28 jaar voorsitter van die groep. Foto: Nellie Brand-Jonker

Die nominasie is deur Christo Wiese, voorsitter van die groep, se beleggingsmaatskappy Titan gedoen.

Paul Roelofse, medestigter van Oryx, het dit by navraag bevestig. 

Volgens hom is die nominasie na die nominasiekomitee van Shoprite se direksie gestuur wat daaroor moet besluit.

Dit kom nadat die beleggingsmaatskappy Brait, waarin Wiese 'n groot belang het, onlangs aangekondig het Roelofse is as alternatiewe direkteur vir hom, in die plek van sy seun Jacob Wiese (38), op dié maatskappy se direksie aangestel.

Brait het in dié verklaring bekend gemaak Oryx Partners gaan die familiebelange van Wiese bestuur. Brait het in die verklaring gesê Oryx gaan Wiese se familiekantoor bestuur en ’n strategiese sakevennoot van die Wiese-familie word.

“Titan het spesifiek vir Iaan benoem omdat hy as oudbankier oor bepaalde kennis en ondervinding beskik wat die Shoprite-direksie kan aanvul en versterk,” het Roelofse gesê.

Van Heerden het net soos Roelofse vir lank vir RMB gewerk.

In die geval van die Shoprite-groep is Van Heerden se benoeming vir ’n normale nie-uitvoerende direkteur en nie alternatiewe direkteur vir Wiese nie. 

Wiese het op 10 September vanjaar 78 jaar oud geword.

“Ons kyk na opvolging omdat ons na die Wiese-familie se belange omsien en daarom kyk ons ook na verteenwoordiging op die direksies (waar hy dien),” het Roelofse ook oor die veranderinge verduidelik.

Hy het gesê Shoprite het duidelike reëls en prosesse vir die aanstelling van raadslede en Van Heerden se nominasie en aanstelling sal deur die normale prosesse gaan.

Dit is in teenstelling met die proses wat die fondsbestuurder All Weather Capital gevolg het om Jan le Roux te benoem wat direk aan aandeelhouers op die jaarvergadering voorgelê is. Hy is nie as direkteur verkies nie omdat Wiese van sy spesiale stemaandele gebruik het om teen die besluit te stem.

LEES OOK: Shoprite: 61% van gewone beleggers stem teen Wiese

Dit was die eerste keer in die geskiedenis van die maatskappy wat ’n aandeelhouer ingevolge die akte van oprigting van die groep dié proses gevolg het.

Die inligting oor Van Heerden het eers ná die jaarvergadering bekend geword nadat Business Day daaroor berig het.

Wiese is pas op die jaarvergadering as direkteur herverkies ten spyte daarvan dat 61% van die gewone stemme teen sy verkiesing uitgebring is. Hy is ná die jaarvergadering op 'n direksievergadering as voorsitter herverkies. 

Op die jaarvergadering het All Weather Capital gevra wat die planne is om 'n opvolger vir Wiese te kry wat al 28 jaar voorsitter is. 

Wiese self meen die teenkanting teen hom hou daarmee verband dat beleggers 'n onafhanklike voorsitter soek. Hy is nie onafhanklik nie omdat hy so groot belang in die maatskappy hou.

Roelofse het ontken dat Van Heerden se nominasie te doen het met die proses om ‘n voorsitter te kry en het gesê dat dit inderdaad ten doel het om die raad te versterk.

Meer oor:  Shoprite  |  Oryx Partners  |  Titan  |  Paul Roelofse  |  Christo Wiese  |  Iaan Van Heerden  |  Direkteur  |  Nomineer  |  Jaarvergadering  |  Nominasie  |  Direksie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.