Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Shoprite: Wiese sê waarom baie teen hom stem

Hy glo nie dit toon wantroue in hom nie, het Christo Wiese, voorsitter van die Shoprite-groep, Maandag ná afloop van die jaarvergadering gesê nadat ’n baie groot persentasie van die aandeelhouers teen hom gestem het om as direkteur herverkies te word.

Wiese
Christo Wiese (78) Maandagoggend voor Shoprite-groep se jaarvergadering begin het. Hy het die jaarvergadering as voorsitter gelei. Hy is al 28 jaar voorsitter van die groep. Foto: Nellie Brand-Jonker

Hoewel bykans 40% teen hom gestem het, is hy vir nog drie jaar as direkteur herverkies.

Of die direksie hom weer heraanstel as voorsitter, sou na die jaarvergadering op 'n direksievergadering besluit word, waarvan die uitslag later bekend sal wees.

“Daar is die toenemende neiging dat institusionele aandeelhouers onafhanklike voorsitters wil hê. Dis dwarsdeur die wêreld die geval. Ek verstaan dit heeltemal en ek het geen probleem daarmee nie,” het hy ná die vergadering aan Netwerk24 gesê oor hoe hy daaroor voel. “Ek sien dit nie as ’n vreeslike stem van wantroue (in my) nie.”

“Daar sal nou van jou kollegas wees wat iets daarvan wil maak, soos hulle met Brait gedoen het. Ek steur my nie daaraan nie.”

Dit is met verwysing na sowat 30,8% van Brait se aandeelhouers wat in Augustus teen hom gestem het. Hy is die grootste aandeelhouer in dié beleggingsmaatskappy.

LEES OOK: Brait se stemme verkeerd getel op vergadering

Oor diegene wat sê dat beleggers sedert die Steinhoff-debakel nie meer soveel vertroue in hom het nie, sê hy: “Hopelik glo mense nie hul geloof in my is wat werklik tel nie. Dit is die geloof in die bestuurspan wat tel en hoe ek met die bestuurspan saamwerk. Dis wat tel.

“Van die institusionele aandeelhouers is baie duidelik daaroor dat hulle daardie soort verandering wil sien, dat ’n voorsitter onafhanklik moet wees, met ander woorde nie so ’n groot, en eintlik beherende aandeelhouer, in aanhalingstekens, moet wees nie,” sê Wiese.

Ordelike wyse

Hy sê wat wel moet gebeur wanneer ’n nuwe voorsitter gekies word “is dat dit op ’n ordelike wyse gedoen word”.

“Ons het genoeg goeie mense wat ons kan kry wat op die direksie kan dien. En ek is seker daar is genoeg kandidate...wat kwalifiseer as onafhanklik.”

Hy gee te kenne dat die voorsitterskap wel in die komende drie jaar gaan verander – in die tydperk wat hy direkteur is. “Dit sal op die regte tyd gebeur.”

Sy plan is om nog aan te bly as direkteur as daar ’n nuwe voorsitter aangestel word.

Gomolemo Seete, ’n ontleder van All Weather Capital, wou met die resolusie oor Wiese se herverkiesing weet wat die opvolgplanne is ten opsigte van die voorsitter wat al 28 jaar daar is.

Prof. Shirley Zinn, hoof- onafhanklike direkteur, het geantwoord daar is ’n opvolgplan wat gefinaliseer sal word op die direksievergadering ná die jaarvergadering.

Wiese het later daaroor gesê: “Ons is nie sonder ’n plan nie maar gaan in die komende jaar meer aandag gee aan die plan om ons die beste vir die era vorentoe te posisioneer. Daar gaan veranderinge kom in die komende jaar.”

Ongewone verkiesing

Dié jaarvergadering van Shoprite sal nog vir lank onthou word vir die ongewone wyse waarop ’n aandeelhouer ’n direkteur benoem het.

Die fondsbestuurder All Weather Capital het vir Jan le Roux, ’n bekende in landboukringe en wat 20 jaar gelede Pepkor se uitvoerende hoof was, as direkteur benoem.

Sowat 16% van aandeelhouers het vir hom gestem, is na die stemme getel is op die vergadering gesê.

Shane Watkins, beleggingshoof van All Weather Capital, het voor die vergadering hul redes vir die benoeming aan Netwerk24 gegee, insluitende Le Roux se ervaring in die kleinhandel, maar ook omdat daar ’n direkteur gesoek word wat onafhanklik van Wiese is omdat hy te veel invloed oor die groep het.

Wiese is in 1991 as voorsitter van Shoprite aangestel en hou die grootste stem van 42,3% weens die aandele met spesiale stemreg wat hy hou.

Wiese het voor die benoeming gesê Shoprite het ’n spesifieke manier hoe om nie-uitvoerende direkteure aan te stel.

“In hierdie geval het All Weather Capital besluit om nie die proses te volg nie maar gebruik te maak van ’n voorwaarde in die akte van oprigting ingevolge waarvan enige aandeelhouer enigiemand as direkteur kan benoem met vier dae kennisgewing. Behalwe vir die feit dat dit ’n redelike ongewone prosedure is, het dit nog nooit in die geskiedenis van Shoprite gebeur nie.”

Dit was Vrydagoggend nog onduidelik of die besluit daaroor sou kon voortgaan, omdat dit indruis teen die noteringsvereistes van die JSE wat ’n langer tydperk vereis vir ’n gewone benoeming.

Vrydagmiddag het Pieter du Preez, die maatskappysekretaris, aangedui dit gaan wel ter tafel gelê word.

Wiese is ná die vergadering gevra hoe hy gestem het, maar wou nie kommentaar lewer nie.

By navraag of All Weather meer suksesvol sou wees as hulle dit op die normale wyse gedoen het, het hy gesê: “Dit moet deur die proses gaan. Daar is ’n proses. Dit is wat my beswaar is. Hoekom het hulle nie gekom en gesê dit is wat hulle wil doen nie, dat hulle so ’n man wil voorstel nie. Dan vat ek dit na die nominasiekomitee en dit gaan deur die proses. Dit is nie vir my alleen om te besluit nie, dit is die nominasiekomitee en die direksie, en dan uiteindelik die aandeelhouers.”

Normaalweg word tussen 80% en 83% van die totale stemme op die jaarvergadering uitgebring. Op hierdie vergadering is 90% van die stemme uitgebring, wat die belangstelling in die vergadering toon.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.