Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Sigaret-skandaal: Fita kap ‘ondersoek’

Pleks van probeer ontken dat plaaslike sigaretvervaardigers belasting op groot skaal ontduik, het die Fair-Trade Independent Tobacco Association (Fita) ’n teenaanval op Tax Justice South Africa (TJSA) gedoen.

Onwettige sigarette stroom die mark in, maar Fita reken dis nie sy lede se skuld nie.

Die TJSA het Woensdag die resultate van ’n landwye ondersoek uitgereik en bevind Fita-lede se sigarette word vir so min as R7,20 per pakkie verkoop – baie minder as die R20,01 in aksyns en belasting op toegevoegde waarde (BTW) wat op ’n pakkie van 20 sigarette betaalbaar is.

“Ons wil geen legitimiteit aan die TJSA en sy sogenaamde ondersoek verleen nie,” sê Sinenhlanhla Mnguni, voorsitter van Fita. Hy het geen van Netwerk24 se vrae beantwoord nie.

Die TJSA het bevind plaaslike sigaretvervaardigers is besig om op ’n enorme skaal belasting te ontduik en die onwettige handel in sigarette aan te moedig.

Hy het ’n geheime studie met versteekte kameras gedoen om te bepaal in watter mate onwettige sigarette ’n houvas op die land het – en dus van hoeveel miljarde rande die fiskus aan aksyns ontneem word.

“Korrupsie en die klaarblyklike versuim deur vervaardigers van onwettige handelsmerke om alle belasting en aksyns op al hul sigarette te betaal, beroof die regering en Suid-Afrika se burgers van miljarde rande per jaar. Dit is geld wat broodnodig is om die land se toekoms te finansier – ons infrastruktuur, gesondheid en die opvoeding van ons kinders,” sê die verslag.

Die TJSA reken enige pakkie sigarette wat vir minder as R20 verkoop word, word verkoop vir minder as die wettige minimum verhaalbare belasting (MVB) op ’n pakkie sigarette – van R20,01 – en daarom is dit onwaarskynlik dat die belasting wel betaal word.

Die meeste pakkies sigarette van Fita-lede is landwyd beskikbaar vir minder as R20.

In ’n verklaring val Fita Yusuf Abramjee, stigter van die TJSA, persoonlik aan. Die liggaam beweer ook multinasionale handelsname word vir minder as die MVB verkoop, iets wat die TJSA nie ondervind het nie.

In geen stadium ontken Fita summier die aantygings nie.

Netwerk24 het duidelik aan Fita gevra of sy lede belasting betaal op elke pakkie sigarette wat vervaardig word.

Dié, en ander vrae, is geïgnoreer.

Mnguni sê Abramjee is ’n “skoothondjie” van “Groot Tabak”.

Hy beweer ook totdat die finansierders van die TJSA bekend gemaak word, sy ondersoeke nie vertrou kan word nie.

“Ons vind dit uiters kommerwekkend dat die media nou gebruik word deur diegene met platforms om die kommersiële belange van sekere spelers in die tabakbedryf te bevorder, terwyl hulle hul mededingers aanval,” sê Mnguni.

’n Dokumentêre program oor die TJSA-ondersoek is Dinsdagaand op eNCA uitgesaai. Fita is veral hieroor boos.

“Die televisieprogram is gebruik as ’n platform om verkeerde inligting oor sekere praktyke in die tabakbedryf te versprei, inligting wat al jare lank deur die multinasionale ondernemings versprei word, veral met betrekking tot pryse en die wettigheid daarvan.

“Ons het byvoorbeeld deur die jare gesien hoe multinasionale handelsmerke onder die MVB verkoop, maar Abramjee maak om die een of ander rede nie dieselfde geraas oor die onwettigheid van hierdie handelsmerke nie. Dit laat die vraag ontstaan: Waarom?”

Fita wys dus die vinger na ander vervaardigers wat hy beweer ook onder die MVB-prys sigarette verkoop, maar ontken nie dat sy lede dit doen nie.

Vrae oor hoe Fita-lede dan hul belasting kan bekostig, bly onbeantwoord.

“Om aksyns van R17,40 plus 15% BTW te betaal en dan die produk teen ’n fraksie van dié prys te verkoop, is nie regtig ’n geloofwaardige sakemodel nie,” sê die TJSA in sy verslag.

“Geen onderneming sal kan oorleef nie, wat nog te sê floreer, deur konsekwent meer belasting op hul produk te betaal as waarvoor dit verkoop word.

“En dit is sonder om eens vir die koste van grondstowwe, produksie, verspreiding en verpakking voorsiening te maak.”

Fita sien die ondersoek as ’n georkestreerde aanval op mededingers van multinasionale tabakvervaardigers in Suid-Afrika.

British American Tobacco South Africa (Batsa) sê in sy eie verklaring Woensdag hy is “woedend” oor die gedrag van Fita-lede wat ontbloot is deur die TJSA-ondersoek.

’n Woordvoerder van Batsa sê: “Dit is diep kommerwekkend om te sien hoe sigarette verkoop word teen pryse wat daarop dui dat belasting nie aan die staat betaal word nie.

“Elke tabakvervaardiger moet aksyns betaal sodat ons die waardeketting bewaar en waarde tot die ekonomie toevoeg.”

Batsa skroom egter nie om voorstelle te maak wat tabakvervaardigers sou dwing om belasting te betaal nie.

Batsa het die regering versoek om die protokol oor sluikhandel van die Wêreldgesondheidsorganisasie te bekragtig, aangesien dit die regering in staat sal stel om aan dieselfde standaarde as die internasionale mark vir die tabakbedryf te voldoen.

“Dit sal ’n opsporingstelsel moontlik maak, wat sou vereis dat tabakondernemings verantwoording doen vir elke sigaret wat hulle produseer, en belasting daarop betaal.”

Abramjee antwoord Fita

Abramjee sê die sinspeling dat die TJSA geld van multinasionale tabakvervaardigers kry, is twak.

Hy beskuldig Fita daarvan dat hy vrae ontwyk ten einde die aandag af te lei daarvan dat sy lede op heterdaad betrap is.

Mnguni is die kans gegee om op die eNCA-program te reageer en het belowe om die getuienis te ondersoek.

“Mnguni moet ondersoek hoe sy lede se produkte enigsins teen dié blatant misdadige pryse verkoop kan word en ons nasie van broodnodige geld beroof. Pleks daarvan wys hy vingers na ander produkte en maak hom skuldig aan ongegronde en lasterlike aanvalle op my integriteit.

“Ek het ’n lang geskiedenis van onafhanklike aktivisme teen misdaad en ek sal daarop fokus.”

Meer oor:  Fita  |  Tjsa  |  Batsa  |  Yusuf Abramjee  |  Rampokkery  |  Sigarette  |  Tabak  |  Aksyns  |  Tabak-Verbod  |  Onwettige Sigarette  |  Belastingontduiking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.