Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Sigarette: BAT kry moed vir sy verkope

Die vroeër as verwagte opheffing van die verbod op sigaretverkope in Suid-Afrika het British American Tobacco (BAT) moed gegee om sy verwagte verkoopsyfers vir 2020 hoër aan te pas.

’n Voorbeeld van British American Tobacco se nuwe rookvrye tabakverhittingsproduk, wat as ’n minder riskante alternatief tot tradisionele sigarette aangebied word.

Die internasionale tabakgroep het Woensdag in ’n handelsverslag in aanloop tot sy geslote periode in Januarie voor die bekendmaking van sy jaarresultate gesê hy verwag dat die uitwerking van Covid-19 op sy omset -2,5% teenoor ’n vorige verwagting van -3% sal wees.

Terwyl die verkoop van onwettige sigarette tydens die inperking opgeskiet het, het sigaretmaatskappye soos BAT se Suid-Afrikaanse filiaal die regering oor die verwarrende besluite rondom die tabakverbod tydens die staat van inperking hof toe gesleep.

Tabakverkope was verbode tot vlak 2 van die inperking, wat op 15 Augustus ingestel is.

BAT, bekend vir sigarethandelsname soos Dunhill, Lexington, Gunston, Paul Revere en Lucky Strike, verwag nou dat die daling in sy internasionale verkope van sigarette en alternatiewe produkte soos e-sigarette 5% sal wees, eerder as die aanvanklike 7% wat verwag is.

Jack Bowles, uitvoerende hoof van BAT, sê die groep mik steeds daarna om die gesondheidseffek van sy sakebedrywighede te verminder deur minder riskante alternatiewe produkte as tradisionele sigarette op die mark aan te bied. BAT sê hy is duidelik daaroor dat sigarette ernstige gesondheidsrisiko’s inhou en die enigste manier om die risiko’s te voorkom is om nie te begin rook nie of om op te hou.

Volgens Bowles moedig BAT mense wat wil aanhou rook aan om heeltemal na alternatiewe soos e-sigarette oor te skakel.

Bowles sê BAT het nou al sowat 13 miljoen verbruikers wat sy e-sigarette of ander alternatiewe produkte koop.

BAT mik om teen 2025 £5 miljard se verkope van e-sigarette of alternatiewe produkte te behaal. Dit sluit sy handelsname Vuse (damp-produkte), Velo en Grizzly (moderne en tabakvrye snuifprodukte en nikotienprodukte) en sy glo-tabakverhittingsprodukte in.

Hy verwag om in die tweede helfte van die lopende boekjaar sy belegging in die nuwe produkkategorieë met £200 miljoen te verhoog om beleggingsgeleenthede te benut en goeie momentum in dié deel van sy onderneming vol te hou.

Teen heersende wisselkoerse verwag BAT dat sy aangepaste verwaterde verdienste per aandeel vir die boekjaar met 3,3% sal krimp, en vir die volgende boekjaar kan dit tussen 2% en 3% laer wees.

BAT se aandeelprys op die JSE was Woensdagoggend byna 1% sterker op R578.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.