Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Sigarette: Fita-lede ‘ontduik taks op enorme skaal’

Plaaslike sigaretvervaardigers is besig om op ’n enorme skaal belasting te ontduik en die onwettige handel in sigarette aan te moedig.

Die onwettige handel in sigarette in Suid-Afrika ná die rookverbod het buitensporig gegroei en ontneem nou die fiskus van miljarde rande per jaar. Foto: Unsplash

Die waghond en drukgroep Tax Justice South Africa (TJSA) het ’n geheime studie met versteekte kameras gedoen om te bepaal in watter mate onwettige sigarette ’n houvas op die land het – en dus hoeveel miljarde rande die fiskus aan verlore aksyns ontneem word.

“Ons skat dat twee uit elke drie sigarette wat in Suid-Afrika verkoop word, nou onwettig is,” sê Yusuf Abramjee, stigter van TJSA.

“Die jaarlikse R8 miljard wat aan onbetaalde ‘sondebelasting’ verlore gaan, sou kon betaal om die helfte van alle Suid-Afrikaners teen Covid-19 in te ent.”

Die TJSA beskryf die skaal van die handel in onwettige sigarette in Suid-Afrika as bedryfsdiefstal van die fiskus.

Die vervaardigers onder die sambreelorganisasie Fita ontduik belasting “opsetlik”, al beweer hulle dat hulle wel belasting betaal.

Die TJSA het bevind dat pakkies sigarette bykans oral waar hy gegaan het, beskikbaar was vir minder as die minimum verhaalbare belasting (MVB) op ’n enkele pakkie.

Die MVB van ’n pakkie van 20 sigarette is R20,01 weens die R17,40 aksyns en die R2,61 belasting op toegevoegde waarde (BTW) wat verhaalbaar is.

TJSA bereken as pakkies vir minder as R25 verkoop word, kan die sigaretvervaardiger onmoontlik wins maak op die produk indien alle belasting wél op die produk betaal word.

TJSA ag dus enige pakkie sigarette wat vir minder as R25 vir 20 verkoop word as onwettig.

Die jaarlikse R8 miljard wat aan onbetaalde ‘sondebelasting’ verlore gaan, sou kon betaal om die helfte van alle Suid-Afrikaners teen Covid-19 in te ent.
Yusuf Abramjee van Tax Justice South Africa

Vir die doeleindes van sy studie het hy die vlak egter verlaag tot R20 om bo alle redelik twyfel te kan sê dat nie eens die MVB betaal word wanneer die sigarette verkoop word nie.

Die TJSA kon by 42 uit die 43 winkels wat hy in Kaapstad, Johannesburg, Pretoria en Durban besoek het pakkies sigarette vir onder R20 aanskaf. Alle transaksies is verfilm.

In sekere gevalle kon die TJSA pakkies sigarette vir minder as ’n derde van die MVB bekom. Die laagste prys wat betaal is vir ’n pakkie van 20, was R7,20.

“Om aksyns van R17,40 plus 15% BTW te betaal en dan die produk teen ’n fraksie van dié prys te verkoop, is nie regtig ’n geloofwaardige sakemodel nie,” sê die TJSA in sy verslag.

“Geen onderneming sal kan oorleef nie, wat nog te sê floreer, deur konsekwent meer belasting op hul produk te betaal as waarvoor dit verkoop word nie.

“En dit is sonder om eens vir die koste van grondstowwe, produksie, verspreiding en verpakking voorsiening te maak.

“Ons is daarom van mening dat die enigste geloofwaardige verklaring vir die pryse wat ons navorsingspan landwyd op kamera aangeteken het, is die wydverspreide misdadige ontduiking van belasting- en aksynsbetalings deur die vervaardigers van die betrokke handelsmerke, en die mislukking van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) en die polisie om die wet op te dwing en diegene wat die rampokkery pleeg, voor die gereg te bring.”

Die TJSA het 34 verskillende handelsname in sy studie teëgekom. Die maatskappye waarvan pakkies onder die MVB verkoop is, is:

  • Gold Leaf Tobacco Corporation (8 handelsname)
  • Carnilinx (6)
  • Best Tobacco (4)
  • Afroberg (4)
  • Amalgamated Tobacco Manufacturing (4)
  • Pacific (4)

Gold Leaf Tobacco en lede van Fita was verantwoordelik vir 23 van die handelsname.

Dis nie die kleinhandelaars wat die pryse dokter nie, wys TJSA.

Die TJSA sê in sy verslag dat hy by elke onderneming ook groot handelsname van multinasionale tabakprodusente aangeskaf het as ’n kontrole vir sy studie, en dié pakkies is altyd teen beduidend hoër pryse verkoop wat die MVB gemaklik sou kon betaal.

Dit is dus die vervaardigers wat nie die belasting betaal nie en die sigarette teen sulke lae pryse aan kleinhandelaars beskikbaar stel.

“Duidelik word die wet oor die hele Suid-Afrika oortree en nou dat die TJSA dit duidelik op film gedokumenteer het, kan dit nie meer deur politici of wetstoepassers ontken word nie.

“Korrupsie en die klaarblyklike versuim deur vervaardigers van onwettige handelsmerke om alle belasting en aksyns op al hul sigarette te betaal, beroof die regering en Suid-Afrika se burgers van miljarde rande per jaar. Dit is geld wat broodnodig is om die land se toekoms te finansier – ons infrastruktuur, gesondheid en die opvoeding van ons kinders.

“Volgens ons steel onwettige sigaretvervaardigers die geld en die toekoms van die land deur hul belastingverantwoordelikhede te ontduik en die SAID slaag nie daarin om die vervaardiging, verskaffing en openbare verkoop van dié handelsmerke in ons strate te voorkom nie.”

Afskrifte van die verslag en die videobewyse is aan die owerhede oorhandig in ’n poging om optrede aan te moedig.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.