Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
‘Sigarette in SA móét nagespoor kan word’
Die inmenging van die tabakbedryf in regeringsbeleid het die instelling van wetgewing vertraag. Foto: Bloomberg

Die inmenging van die tabakbedryf in regeringsbeleid het die afgelope jaar daartoe gelei dat die inwerkingstelling van ’n na- en opsporingstelsel uitgestel is.

Volgens Savera Kalideen, hoof van die Nasionale Raad teen Rook (NCAS), moet dié na- en opsporingstelsel vir die tabakbedryf dringend deur die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) ingestel word om onwettige sigarette in die mark op te spoor.

Dit is een van die aanbevelings in die 2020-verslag van ’n internasionale studie oor tabakgroepe se inmenging by beleid wat Kalideen Donderdag bekend gestel het.

Die studie word jaarliks uitgevoer om op grond van ’n paar aanwysers te bepaal hoe groot tabakgroepe se inmenging in ’n land se beleid is, en wat regerings doen om dit teen te werk.

In die verslag word gesê die plaaslike tabakbedryf het in 2019 op verskeie maniere die regering se pogings om meer beheer oor tabakprodukte te verkry vertraag. Die inmenging het daartoe gelei dat die SAID die spertyd vir die tender vir die nasporingstelsel twee keer uitgestel het.

Sy en ander kundiges, wat by die bekendstelling van die verslag gepraat het, beweer dat baie van die onwettige sigarette in die mark juis afkomstig is van die tabakgroepe wat hulle as wettig voordoen.

Die studie toon Suid-Afrika het van 72 punte tot 58 punte verbeter (laer is beter) danksy die SAID wat weer sy sake in orde begin kry het.

Die verslag is deel van navorsing wat gebruik word om ’n indeks op te stel oor die tabakbedryf se inmenging by openbaregesondheidsbeleid wêreldwyd.

Nog ’n bevindinge is dat die inmenging van tabakgroepe plaaslik die finalisering van die Wetsontwerp op die Beheer van Elektroniese en Ander Tabakprodukte vertraag.

Langverwagte veranderings aan die bestaande Wet op die Beheer van Tabakprodukte het met die bekendstelling van die voorgestelde wetsontwerp ’n werklikheid geword. Die nuwe wetsontwerp sal drastiese veranderinge meebring en ’n verreikende impak op openbare gesondheid hê, luidens die verslag.

“Maar dit kry voortdurende teenkanting van die bedryf en sekere verbruikersgroepe.”

Die wetsontwerp is in 2018 vir openbare kommentaar gepubliseer, maar is nog nie weer parlement toe nie.

Die verslag beveel aan dat die wetsontwerp dringend en met die minimum wysigings goedgekeur word. Dit sluit in dat dit ’n verbod op enige vorm van skenkings deur die tabakbedryf, soos aan politieke partye, plaas.

Die bestaande wet verbied bydraes van die tabakbedryf vir korporatiewe projekte vir maatskaplike verantwoordelikheid, maar laat bydraes vir welsyn toe solank dit nie vir bemarkingsdoeleindes gebruik word nie.

Ander aanbevelings is:

  • Dat ’n beleid en protokol ontwikkel word om alle interaksie tussen staatsamptenare en die tabakbedryf openbaar te maak;
  • Dat die Wet op die Finansiering van Politieke Partye in werking gestel word omdat dit die openbaarmaking van private finansiering (soos van die tabakbedryf af) verpligtend sal maak.
Meer oor:  Tabakprodukte  |  Sigarette
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.