Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Skielike bedanking by African Bank jaag spoke op

Die skielike bedanking van African Bank se uitvoerende hoof, Basani Maluleke (43), jaag spoke op by pensioentrekkers wat lid van die staatsdiens se pensioenfonds (GEPF) is.

Basani Maluleke Foto: Verskaf

Daar is vrae oor die werklike rede vir haar bedanking nadat die African Bank-groep ’n dag ná die onverwagse nuus ’n verlies vir die boekjaar tot einde September aangekondig het. Boonop is min van die teikens wat in 2016 gestel is in die boekjaar bereik, insluitende die teiken vir opbrengs op ekwiteit.

African Bank het ontstaan uit die stof van die gelyknamige bank wat in 2014 ineengestort het. Die GEPF het saam met ander banke en die Reserwebank geld belê om die nuwe bank op die been te kry. Die GEPF besit 25% van African Bank Holdings Limited (ABHL), die beheermaatskappy.

Verskillende redes

Adamus Stemmet, woordvoerder van die groep AMAGP, ’n organisasie sonder winsbejag wat hom daarvoor beywer om GEPF-lede se voordele te beskerm, verwys na die aankondiging wat Maandag  dat Maluleke bedank om nuwe beroepsgeleenthede na te jaag. 

Stemmet sê hulle is bekommerd daaroor dat African Bank in sy verklaring oor haar bedanking ’n leuen verkondig het omdat sy daarvolgens ander weivelde gaan soek het – en twee dae later kom dit aan die lig dat die bank ’n verlies gely het.

“Enigiets in verband met African Bank is vir ons baie sensitief weens die gebeure in 2014 toe die GEPF R4 miljard verloor het,” sê 

“Ons meen steeds daardie geld is roekeloos belê. En op ons versoek is daar opgetree teen Deloitte wat ’n skoon verslag gegee het kort voordat die bank gesink het.”

Stemmet sê met die nuwe African Bank se ontstaan het die Reserwebank R5 miljard voorgeskiet (vir 50% in die beheermaatskappy) en die GEPF het R2,5 miljard voorgeskiet vir 25%. Ses ander banke, waaronder Capitec, het ook belê.

“Die nuwe bank fokus, nes die vorige een, net op ongesekureerde lenings,” sê Stemmet.

Dit is persoonlike lenings waarvoor ’n bate nie as sekuriteit nodig is nie.

Sy wins is juis geknou deur die groot voorsiening vir slegte skuld wat African Bank in die afgelope boekjaar moes maak nadat toestande vir sy kliënte erg verswak het.

Maluleke, wat deelgeneem het aan die aanbieding van die resultate aan beleggers, het die verlies, en ook die niebereiking van teikens, aan die impak van die koronaviruspandemie toegeskryf.

Konflik met voorsitter beweer

Thabo Dloti Foto: Verskaf

Business Day berig boonop ook sy het bedank omdat haar verhouding met Thabo Dloti, die voorsitter, versuur het. Die konflik duur glo al geruime tyd, volgens bronne bekend met die situasie.

Dloti het in Maart 2019 voorsitter geword, sowat ’n jaar ná Maluleke se aanstelling in April 2018.

Dit sou ironies wees, want Dloti het in 2017 onverwags as uitvoerende hoof van Liberty bedank, na wat berig is weens verskille met die direksie.

Vet vergoeding

Maluleke het in die boekjaar ’n vergoeding van R7,15 miljoen gekry vergeleke met R7,07 miljoen in die vorige boekjaar.

Sy het ’n korttermynbonus van R1,9 miljoen ontvang vergeleke met haar vorige bonus van R2,1 miljoen.

Die bonus is in die jaar betaal, maar hou met vorige jare se prestasie verband.

Haar salaris en voordele het met 5,9% gestyg.

Sy is aangestel toe die eerste uitvoerende hoof, Brian Riley, afgetree het ná twee jaar in die pos.

Die uitvoerende hoof word op ’n kontrak vir ’n onbepaalde tydperk aangestel met ’n minimum kennisgewingstydperk van drie maande.

“Die vertrek van ’n uitvoerende hoof is ’n belangrike gebeurtenis vir enige onderneming, veral vir ’n gereguleerde entiteit soos ’n bank,” het Dloti per e-pos gereageer op navrae van Netwerk24.

Dloti het nie geantwoord op Netwerk24 se vraag of daar konflik tussen hom en Maluleke was óf dat haar vertrek verband hou met teikens wat nie bereik is nie.

Hy het bloot verduidelik hoe die plaasvervanger gesoek gaan word. 

Volgens hom het die maatskappy ’n gebeurlikheidsplan in ooreenstemming met beste praktyk en regulatoriese vereistes om ’n opvolger te vind wanneer ’n uitvoerende hoof vertrek om die risiko’s wat daaruit voortspruit, te verminder.

Die aanstelling van Gustav Raubenheimer, die finansiële hoof, as die tussentydse uitvoerende hoof, is deel hiervan.

Die Reserwebank se afdeling wat toesig hou oor banke en versekeraars, moet Raubenheimer se aanstelling nog goedkeur.

“Die direksie is van plan om ’n uitvoerende hoof aan te stel met die instemming van dié afdeling as prioriteit.”

Dloti sê die regte kandidaat sal een wees wat die bank se strategiese rigting van transformasie kan lei om ’n gediversifiseerde en belêbare onderneming te wees. Dit sal ’n persoon wees “wat bydra tot die uitvoering en leierskap van die strategie en wat inpas by die kultuur van African Bank”.

Geen rede tot kommer

Hy sê die groep se resultate toon die werk “van die direksie en die bestuurspan om die haglike ekonomie en impak van Covid-19 te trotseer”.

Volgens hom is die toekomstige teikens verander.

“Ek glo baie banke en ondernemings doen soortgelyke aanpassings weens die ekonomiese impak van Covid-19.”

Die verlies is ook gely in ’n jaar wat verbruikers na die bank gestroom het om hul spaargeld te deponeer vanweë die goeie rente wat op deposito’s aangebied word.

Die deposito’s het met 147% tot R6 miljard gespring.

Dloti sê dié deposante moet hulle vertroos in die feit dat die bank ’n stewige balansstaat het met konserwatiewe kapitaalvlakke van R10,6 miljard en kontantbates van R6,9 miljard om skokke te hanteer.

Balansstaat ‘is sterk’

Hy sê die bank se CET1-kapitaalverhouding is ver bo die interne en regulatoriese minimum op 31,2%. “Dit toon die soliede struktuur van die balansstaat en moet beskou word as nog ’n rede om met vertroue by die bank te bly belê.”

Dloti sê beleggers behoort dit te verwelkom dat die groep in die tweede helfte van die boekjaar ’n wins getoon het danksy stappe wat die bestuur aan die begin van die pandemie en deur die loop van die jaar gedoen het.

Dloti sê African Bank is van voorneme om voort te gaan om bogemiddelde rentekoerse aan kliënte te bied vir beleggings van so min as R500.

“Ons het ’n lang pad gekom om ons produkreeks en ons finansiering te diversifiseer en het steeds ’n sterk balansstaat.

Verkrygings bekyk

“Saam met die ondersteuning van die direksie en ’n bekwame uitvoerende span, is ons van plan om voort te gaan met die groei van die onderneming. Uitgesluit enige verdere onvoorsiene skokke, is die plan dat die bank in 2021 na winsgewendheid sal terugkeer.”

LEES OOK: Reserwebank soek kopers vir sy belang

Daily Maverick berig Maluleke sê ’n verkryging is belangrik vir die groeistrategie om die bank te diversifiseer weg van net kredietverskaffing.

Volgens haar is soortgelyke ondernemings geïdentifiseer.

Die beoogde transaksie word glo gekompliseer deur die besluit van die Reserwebank om sy belang te verkoop. Bank of America, Moshe Capital en Rothchild is aangestel as die raadgewers vir die transaksie.

Meer oor:  Gepf  |  African Bank  |  Thabo Dloti  |  Basani Maluleke  |  Pensioenfonds  |  Bedanking  |  Bank
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.