Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Skikking met Ford oor Kuga teen November verwag

Die motorreus Ford wil met die Nasionale Verbruikerskommissie (NVK) oor die Ford Kuga-saak skik, het Sunday Times Sondag berig.

’n Ma en haar seun kon betyds ontsnap nadat die Ford Kuga waarin hulle gery het in April 2017 aan die brand geslaan het. Foto: Twitter / IPSS Rescue

Die onderhandelinge het begin kort ná die kommissie einde April gesê het hy is nou reg om Ford te vervolg oor die oortreding van verskeie dele van die verbruikersbeskermingswet.

In daardie stadium het Sunday Times berig die kommissie het ná sy ondersoek van twee jaar besluit hy gaan die Verbruikerstribunaal vra om die maatskappy te vervolg.

Die kommissie se woordvoerder het toe gesê die ondersoek is voltooi en negatiewe bevindinge is teen Ford gemaak.

“Die aansoek om die maatskappy te vervolg word tans voorberei en sal binne drie week reg wees om by die tribunaal aanhangig gemaak te word.”

Thezi Mabuza, adjunkkommissaris van die NVK, het gesê die skikking sal na verwagting einde November afgehandel word. Mabuza het gesê Ford het die kommissie genader net voor die saak teen hom aanhangig gemaak is.

“Die onderhandeling is ver gevorder en daar is al amper ’n skikking oor die terme bereik.”

Volgens haar sal ’n saak sonder enige verdere kennisgewing by die tribunaal aanhangig gemaak word indien die onderhandeling misluk.

Sunday Times het berig talle van die slagoffers van die Ford Kuga-brande is baie ontevrede oor die onderhandelinge.

Netwerk24 het in Januarie 2017 berig die NVK en Ford het aangekondig dat 4 556 Ford Kugas om veiligheidsredes herroep word.

LEES OOK: Ford herroep 4 556 Kugas in SA

Die kommissie het daarna in Maart aangekondig hy begin met ’n ondersoek na Ford se gedrag.

Daarna is oor nog voorvalle berig van Ford Kugas wat aan die brand geslaan het.

LEES OOK: Ma, kleuter ongedeerd ná Ford Kuga brand

Teen Augustus 2017 het Netwerk24 berig Ford het weer sekere Kuga-voertuie herroep. Dit was die derde herroeping in 2017 van dié motors om veiligheidsredes.

AfriForum het in November verlede jaar aangekondig hy gaan die familie van een van die mense wat dood is in ’n brand, Reshall Jimmy, bystaan in hul hofsaak teen Ford.

LEES OOK: Ford ’n boelie, sê Gerrie Nel

Reshall is in 2015 dood toe hy in sy Kuga in Wildernis verbrand het.

Die geregtelike ondersoek na die dood van Jimmy het in Februarie in die hooggeregshof in Kaapstad begin. Die familie is deur adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se eenheid vir private vervolging, bygestaan.

In ’n geregtelike ondersoek word bepaal of ’n party aandadig is aan die dood van iemand. Dit kan lei tot strafregtelike klagte teen die aandadige.

AfriForum het in Augustus sy deel van die hofsaak afgehandel.

Regter Robert Henney gaan na verwagting in Oktober sy uitspraak lewer.

Moneyweb het reeds in Augustus berig Ford het met onderhandelinge oor ’n skikking met die kommissie begin kort ná die aankondiging in April dat die motormaatskappy by die tribunaal aangekla gaan word.

Mabuza het toe aan Moneyweb bevestig Ford het met onderhandelinge vir ’n skikking begin. Mabuza het gesê die onderhandelinge sal na verwagting einde Oktober afgehandel word.

Sunday Times het Sondag berig die spertyd vir die afhandeling van die gesprekke is nou einde November.

’n Prokureur wat in verbruikersbeskermingsake spesialiseer, het aan die koerant gesê dit beteken nie Ford gaan nie ’n boete kry nie. – Saamgestel deur Nellie Brand-Jonker

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.