Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Skikking: Steinhoff sukkel nog om almal se steun te kry

Ná twee maande het Steinhoff steeds nie al die partye wat eise teen hom ingestel het se instemming oor sy skikkingsvoorstel gekry nie.

The headquarters of Steinhoff International Holdin
Die hoofkantoor van Steinhoff in Stellenbosch. Foto: Getty Images

Dit blyk uit ’n verklaring wat die maatskappy Vrydag uitgereik het waarin aangekondig is ’n proses is begin om amptelike goedkeuring van sy krediteure vir die voorstel te kry.

Steinhoff het einde Julie bekend gemaak wat sy voorstel is om hopelik ’n einde te bring aan die meer as 90 hofsake waarin meer as R136 miljard van hom geëis word.

Die groep het al in Mei gesê hy is besig met onderhandelinge met die eisers wat hom hof toe gesleep het.

Steinhoff bied nagenoeg R18,5 miljard aan eisers en ander aandeelhouers aan.

Die groep is reeds sedert Julie in gesprekke met die litigante, hul regsverteenwoordigers, krediteure en ander betrokke partye oor die voorstel.

“Die getal partye wat betrokke is, oor verskillende jurisdiksies heen, het die proses meer kompleks en tydrowend gemaak as wat aanvanklik verwag is. Daar was egter vordering gemaak om belangrike punte uit te klaar en met die voorbereidingswerk voort te gaan om die voorstel in werking te stel en die talle eise teen Steinhoff te skik.

“Terwyl daar nog verder gewerk moet word om dit te bereik – soos om die ondersteuning te kry van sekere eisers wat nog nie daartoe ingestem het nie – bly die proses op dreef.”

Minstens twee van die eisers het voorheen aan Netwerk24 gesê die voorstel sal nie aanvaar word nie.

Die voorstel benodig ook die goedkeuring van Steinhoff se skuldeisers en ’n toestemmingsproses is Vrydag van stapel gestuur om hul amptelike ondersteuning te kry.

steinhoff
Louis du Preez, uitvoerende hoof van Steinhoff. Foto: Adrian de Kock

Dit sal na verwagting sowat drie weke duur om die proses af te handel.

Steinhoff verwag hy sal in dié tyd die nodige toestemming kry.

Vir sekere finansiële instrumente is almal se goedkeuring nodig. As dit nie bereik word nie, sal ’n reëlingskema in Britse howe oorweeg word om die nodige goedkeuring te kry. Dit sal nog sowat agt weke duur om so reëlingskema af te handel.

Steinhoff het ook intussen aansoek gedoen by die Reserwebank om goedkeuring te kry om betalings aan buitelandse eisers en aandeelhouers te maak.

Die helfte van die skikkingsbedrag word in kontant betaal en die ander helfte met aandele in Pepkor, wat in Suid-Afrika genoteer is.

“Die skikking van die eise teen Steinhoff bly ons belangrikste prioriteit,” sê Louis du Preez, uitvoerende hoof.

“Die gesprekke met die partye vorder en die stappe wat vandag aangekondig is, toon dat vordering gemaak word.”

Meer oor:  Steinhoff  |  Pepkor  |  Louis Du Preez  |  Skikkingsooreenkoms
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.