Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Skok-getuienis oor OBK se belegging in Ayo

Die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) het al in Mei 2018 geweet daar was probleme met die belegging in Ayo Technologies.

Lufuno Nemagovhani, hoof van interne oudits by die OBK. Foto: Elvira Wood

’n Roetine-oudit het gewys dr. Daniel Matjila, voormalige uitvoerende hoof van die OBK, het die belegging goedgekeur nog vóórdat die transaksie aan die beleggingskomitee van die OBK voorgelê is.

Die feit dat die belegging vooraf goedgekeur is, beteken daar is nooit ’n noulettendheidstudie oor Ayo gedoen nie, het Lufuno Nemagovhani, hoof van interne oudits by die OBK, Woensdag getuig.

Hy het voor die Mpati-kommissie van ondersoek na gebeure by die OBK getuig hoe dié ongerymdhede opgespoor is, maar nooit opgevolg is nie.

Net die vorige dag het Fidelis Madavo, geskorste hoof van genoteerde beleggings by die OBK, volgehou daar was geen ongerymdhede met beleggings nie - ook nie die belegging in Ayo nie.

Die OBK het R4,3 miljard in dr. Iqbal Survé se Ayo belê voor Ayo se notering in Desember 2017. Die OBK het R43 per aandeel betaal. Sedertdien het Ayo se aandeelprys tot R23 geval.

Nemagovhani het getuig die OBK het 100% van die private plasing van aandele wat Ayo beskikbaar gemaak het, gekoop.

Hul oorspronklike ondersoek het gewys die transaksie om in Ayo te belê is al op 14 Desember 2017 goedgekeur.

“Die uitvoerende hoof het op 19 Desember, nog voordat die transaksie aan die komitee voorgelê is, die betalingsinstruksie geteken. Die geld is eers ná 20 Desember – die dag waarop die transaksie aan die beleggingskomitee voorgelê is – betaal. Maar die transaksie is voor die tyd goedgekeur,” het hy getuig.

“Dit was teenstrydig met OBK-beleid,” sê Nemagovhani oor dié verloop van sake.

Volgens hom het hy die kwessie aan die ouditkomitee en die beleggingskomitee van die OBK voorgelê.

“En dit is waar dit geëindig het. Daar het niks verder gebeur nie.”

Nemagovhani sê die kwessie het eers weer aandag gekry nadat die OBK se nuwe direksie en bestuur verantwoording aan die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) oor onder meer die Ayo-transaksie moes gaan doen.

Mondli Gungubele, adjunkminister van finansies en voorsitter van die direksie, en Matshepo More, finansiële hoof en waarnemende uitvoerende hoof, het op 6 Desember voor Skoor verskyn.

“Die waarnemende uitvoerende hoof het my ná die voorlegging aan Skoor ingeroep en gevra ek moet weer na dié transaksie kyk,” het Nemagovhani getuig.

Hy sê die ondersoek is toe hervat.

Dit het Maandag gelei tot die onverwagse skorsing van Madavo en Victor Seanie, assistent-portefeuljebestuurder.

Deon Botha, hoof van korporatiewe sake van die OBK, het Dinsdag in ’n verklaring gesê “die voorlopige verslag weerspieël ’n blatante verontagsaming van die korporatiewebeheer- en goedkeuringsprosesse van die OBK.”

Nemagovhani het bevestig die ondersoek oor die aangeleentheid duur voort.

Hy sê hy was egter bekommerd daaroor dat ’n werknemer by die OBK die verslag oor die Ayo-transaksie aan hom gestuur het.

Dié verslag is met ’n wagwoord beskerm. Die betrokke werknemer behoort nie die verslag te gehad het nie.

Nemagovhani het nie uitgebrei oor wat oor dié saak gedoen gaan word nie, maar net dat hulle wel gevind het dit het intern uitgelek.

Die verslag is nog nie bekendgestel nie.

Die OBK belê die pensioenfonds van staatsamptenare (GEPF) se geld. Daar is groot kommer oor hoe beleggingsbesluite geneem word en of dit die volhoubaarheid van die GEPF in gedrang bring.

Pensioentrekkers sê selfs al is die GEPF ’n vastevoordelefonds waarvan uitbetalings deur die staat gewaarborg word, vrees hulle op die minste dat hul verhogings weens swak besluite nie inflasie sal aanhou klop nie.

Die staat waarborg verhogings van 75% van die inflasiekoers, maar verhogings van meer as die inflasiekoers is die afgelope jare gereeld toegestaan.

Meer oor:  Obk  |  Lex Mpati  |  Lufuno Nemagovhani  |  Obk-Ondersoek  |  Gepf  |  Skoor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.