Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
‘Skok’ kom te laat: Clover-fabriek gáán toemaak

Clover het in ’n kort en kragtige verklaring bevestig sy kaasfabriek in Lichtenburg in Noordwes skuif na Queensburgh in Durban.

kaas
Clover se kaasfabriek in Lichtenburg het tot 350 000 liter melk per dag verwerk. Foto: Clover

Dit kom ondanks pogings ter elfder ure van die provinsiale regering om die sluiting van die fabriek te probeer stuit.

Prof. Tebogo Mokgoro, premier van Noordwes, het ’n afvaardiging onder leiding van Desbo Mohona, LUR vir landbou en landelike ontwikkeling, gevra om met Clover te vergader. Hy sê hulle wil “alles in hul vermoë” doen om die fabriek en werkgeleenthede te red.

Volgens Johann Vorster, uitvoerende hoof van Clover, het die suiwelgroep egter reeds ’n paar maande gelede begin om die fabriek te ontruim.

Dié aanleg is die land se grootste kaasfabriek en met die sluiting daarvan gaan sowat 380 mense hul werk kwyt wees. Die aanleg verwerk nagenoeg 350 000 liter melk elke dag, waarvan 100 000 liter deur boere in Noordwes verskaf word. Die sluiting raak dus ook heelwat onregstreekse poste.

Clover sukkel al jare lank met swak dienslewering soos water- en kragonderbrekings, dienste wat die Ditsobotla-munisipaliteit in die distrik lewer, asook met slaggate in paaie na die aanleg toe.

Die aanleg kan volgens Vorster nie doeltreffend kaas vervaardig met al die onderbrekings nie en die situasie in Lichtenburg het uiteindelik vir Clover “onhoudbaar” geword.

“Ten spyte van verskeie pogings deur ons om met die munisipaliteit oor dié sake te gesels, is die probleme steeds nie opgelos nie.”

Dis nie net die fabriek wat swaarkry weens die munisipaliteit se swak dienslewering nie. Rapport het Sondag berig die hele dorp ly onder gebrekkige munisipale dienste en vullis word blykbaar al weke lank nie meer verwyder nie.

LEES OOK: Clover sluit fabriek; honderde werkloos

Clover sê hy het reeds alles in sy vermoë gedoen om die aanleg suksesvol te bedryf en probleme saam met die munisipaliteit te probeer oplos. Duisende briewe, verskeie vergaderings en selfs pleit-oproepe het uiteindelik op niks uitgeloop nie.

Johann Vorster, uitvoerende hoof van Clover.

Ná die nuus dat die fabriek finaal gesluit word, was ANC-politici egter gou om klippe te gooi.

Noordwes se portefeuljekomitee vir ekonomiese ontwikkeling, omgewingsake, toerisme en landbou het in ’n verklaring gesê hy is “geskok” oor die nuus.

Die komitee is veral “verbaas” dat dit gebeur terwyl die provinsie sukkel met onder meer die impak van die Covid-19-pandemie en ’n hoë werkloosheidsyfer.

Die komitee het ook die nasionale departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling en die provinsiale departement van landbou en landelike ontwikkeling gekritiseer omdat hulle nie ’n program van vaardigheidsoordrag begin het sodat plaaslike gemeenskappe en boere beter daaraan toe sou wees ná die sluiting van die fabriek nie.

Die komitee onderneem in sy verklaring om die twee departemente voor stok te kry oor hoe departementele toelae bestee word.

Chris Hatting, DA-raadslid van Potchefstroom en voorheen leier van die DA in Noordwes, sê die komitee gebruik woorde soos “geskok”, “teleurgesteld” en “verbyster”, maar dit sou veel nuttiger gewees het as hulle na die “wortel van die kwaad” verwys het “wat die provinsie in ’n spiraal van ondergang beet het, naamlik die ontplooiing van kaders en faksiegevegte in Noordwes”.

Verlore poste?

Clover is in 2019 vir R4,8 miljard uitgekoop deur Milco, ’n konsortium onder leiding van ’n Israelse maatskappy en Clover-bestuurders. Clover is toe op die JSE gedenoteer.

’n Lang lys voorwaardes is vir die verkryging gestel, insluitend dat afleggings weens die verkryging nie vir drie jaar mag plaasvind nie én dat Clover binne vyf jaar 550 nuwe poste moet skep.

Een van die twispunte wat sowel die Mededingingskommissie as vakbonde geopper het, was ’n projek bekend as Projek Sencillo wat toe reeds by Clover aan die gang was. Dié projek is begin om Clover se produksie en verspreiding te verbeter en sou tot die aflegging van 516 mense lei.

Die kommissie het aangevoer dat die afleggings beskou sou kon word as ’n uitvloeisel van die verkryging, terwyl Clover en Milco aangevoer het dat dit met bedrywighede verband hou. Uiteindelik het Milco ingestem om afleggings weens Projek Sencillo tot ’n maksimum van 277 te beperk vir tot drie jaar vanaf die verkryging.

Aan die ander kant onderneem Milco om 550 permanente poste met Projek Masakhane te skep. Dis ’n projek om die verspreiding van Clover-produkte na onderbediende gebiede te verhoog. Die nuwe poste sal grootliks verkoopsverteenwoordigers, drywers en afleweringsassistente wees.

Meer oor:  Clover  |  Lichtenburg  |  Suiwelbedryf  |  Munisipaliteite  |  Kaas  |  Suiwel  |  Melk  |  Kosvervaardigers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.