Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Skotte dink nie dié SA ‘whiskies’ is oulik nie

Dit lyk miskien soos whisky en ruik dalk soos whisky, maar dié goed is beslis nie whisky nie, het die hooggeregshof in Pretoria bevind.

Whisky? A nee a!

Die Skotse Whisky-vereniging (SWA) in Edinburg het ’n interdik gekry teen Suid-Afrikaanse ondernemings wat hul vodka of rietsnaps (cane spirit) bemark het as whisky-gegeurde drank.

Die Skotte was erg gebelg deur die Royal Douglas- en King Arthur-drankprodukte wat as whisky verkoop is.

Die SWA het gesê op dié produkte se etikette was daar ’n wanvoorstelling dat dit whisky of Skotse whisky of whisky-gegeur is terwyl dit net gegeurde rietsnaps en vodka is.

Die SWA was ook beswaard dat die etikette sê dit het 43,5% alkohol, terwyl dit 34,98% is.

Die whiskyvervaardiger Chivas Brothers, wat Skotse whisky-handelsmerke in Suid-Afrika verskaf, en Pernod Ricard South Africa, verspreider van Chivas-produkte in dié land, was mede-aansoekers om die interdik.

Hulle het die aansoek ingedien teen Milestone Beverage, wie se alleendirekteur Sean Peter Haupt (28) is.

Waynel Distributors, waarin Haupt se pa die ledebelang gehad het, het aanvanklik die Royal Douglas- en King Arthur-produkte vervaardig en Milestone het dit bemark, versprei en verkoop. Ná Haupt sr. se dood, het Milestone ook die pligte van Waynel oorgeneem.

Die SWA het gesê die publiek word onder die indruk gebring dat dit whisky is deur die vorm van die bottels, die kleur van die drank, die tradisionele etikettering en bewoording soos “double distilled” en “premium quality”.

Haupt-hulle het in die hof ontken dat hulle ooit probeer het om die produkte as whiskies te bemark en beslis nie as die ware Skotse Jakob nie.

Die produkte se nuwe etikette mag nie nie na whisky verwys nie.

Haupt-hulle het gesê Royal Douglas en King Arthur word bemark en verkoop as whisky-gegeurde dranklusmakertjies (spirit aperitifs) en die mark verstaan dit presies só.

Regter Elizabeth Kubushi het van hulle verskil en Milestone en Waynel nou verbied om die drank as whiskies te smous.

Die woorde “whisky”, “whiskey” of enige afgeleide woorde daarvan oor enige produk wat nié aan die wetsvereistes vir whisky voldoen nie, is taboe.

Ook die woorde “Scotch”, “Scotland”, “Scottish” of enige woord of frase waarvan dié woorde deel vorm, mag nie gebruik word nie.

Hulle mag ook nie sê dis “whisky-gegeur” nie.

Kortom: Jy mag nie sê iets is Skotse whisky as dit nie Skotse whisky is nie, lui die bevel.

Kubushi het verder gelas dat ’n ondersoek gedoen word oor die skade wat die applikante gely het.

Sy het gesê die SWA het ’n groot belang in die Suid-Afrikaanse whiskymark. Feitlik al die bekende handelsmerke wat in Suid-Afrika verkoop word, behoort aan die SWA se lede.

Die goeie naam en integriteit van Skotse whisky moet beskerm word, het sy gesê.

Meer oor:  Chivas  |  Drankbedryf  |  Drank  |  Whisky
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.