Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
‘Skraal kans om geld by Markus Jooste terug te kry’
David Loxton

Dit gaan baie hulpbronne en tyd neem om die mense wat na bewering verantwoordelik was vir die ineenstorting van Steinhoff in die hof te kry.

David Loxton, uitvoerende hoof van Africa Forensic and Cyber in Johannesburg, sê gegewe hoe sake tans by die nasionale vervolgingsgesag (NVG) staan, voorsien hy nie dat ’n substantiewe klag binne die volgende drie tot vyf jaar teen die betrokkenes in die hof aangehoor sal word nie.

“Ek glo adv. Shamila Batohi, die nuwe nasionale direkteur van nasionale vervolging, sal ongetwyfeld probeer om Markus Jooste (voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff) en ander betrokkenes te vervolg.

“Kyk net hoe lank het dit geneem om Schabir Shaik voor stok te kry. Dit het nege jaar geneem. Daardie saak was ook nie naastenby so ingewikkeld soos wat enige saak oor Steinhoff gaan wees nie,” voorspel hy.

Jooste, Ben la Grange, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff, Stéhan Grobler, voormalige maatskappysekretaris van Steinhoff, en Dirk Schreiber, voormalige finansiële hoof van ’n Europese filiaal van Steinhoff, en Siegmar Schmidt, voormalige finansiële hoof van Steinhoff Europe, is onder die agt mense wat in PwC se forensiese verslag oor Steinhoff uitgelig is as verdagtes. Hul name is onthul in ’n parlementêre voorlegging.

Shaik is in 2007 aan bedrog en korrupsie skuldig bevind met betrekking tot geld wat hy aan oudpres. Jacob Zuma gegee het. Hy is tronkstraf van 15 jaar opgelê, maar het net twee jaar daarvan uitgedien. Hy is sedertdien op parool weens mediese redes.

“Die probleem is dat daar bloot nie die geld of hulpbronne is om vinnig ’n omvattende forensiese ondersoek oor Steinhoff af te handel nie,” sê Loxton.

“In die ideale wêreld, waar hulpbronne en finansiering vir só ’n ondersoek nie ter sprake is nie, dink ek dit sou dit steeds ten minste twee jaar neem net om die nodige ondersoek af te handel wat in ’n hof gebruik kan word.”

Loxton, self ’n advokaat wat voorheen ’n aanklaer was en die forensiese ondersoekeenhede by groot regsfirmas soos Werksmans en Bowmans op die been gebring het, sê hy dink dit sal selfs nog moeiliker wees om Jooste self in ’n hof vas te vat.

“Glo my, Jooste sal ongetwyfeld ’n baie gedugte regspan kan bekostig. Hy is ook ’n baie bedrewe sakeman. Hy sou definitief al sy bates op só ’n manier verskans het dat die kans baie skraal is dat beleggers enige geld van hom persoonlik sal kan terugkry, selfs al word hy skuldig bevind in ’n hof in ’n siviele saak.”

Loxton sê waaroor hy steeds vrae het, is oor hoe beduidende aandeelhouers soos Christo Wiese en die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) nié vrae gevra het oor wat by Steinhoff aangegaan het nog voordat die aandeelprys in duie gestort het nie.

Steinhoff se aandeelprys het oor die afgrond getuimel ná sy skokaankondiging op 6 Desember 2017 dat hy nie sy geouditeerde jaarresultate kan uitreik nie omdat sy eksterne ouditeur, Deloitte, dit nie wou afteken nie.

Loxton sê die bevindinge in die PwC-verslag kan gebruik word om ’n hofsaak teen die betrokkenes van stapel te stuur, maar dit is waarskynlik nie genoeg nie.

“Ek weet nie wat die aanvanklike instruksie aan PwC was oor waarop hy in sy ondersoek moet fokus nie. Die manier hoe ’n ondersoek gedoen word, verskil wesentlik na gelang van of jy bloot wil uitvind wat gebeur het teenoor een waar jy die bevindinge as bewyse in ’n hofsaak wil gebruik.”

Loxton sê dit lyk vir hom of Louis du Preez, die nuwe uitvoerende hoof van Steinhoff, sy samewerking gee wat die ondersoeke betref.

“Dit sal die proses vergemaklik om diegene wat vir die korrupsie verantwoordelik was, voor stok te kry.”

Meer oor:  Steinhoff  |  Markus Jooste  |  Christo Wiese  |  Beleggers  |  Hofsaak  |  Bedrog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.