SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Maatskappye
Skrap van e-tol word oorweeg, sê Mbalula

Die skrap van die Gautengse e-tolstelsel word oorweeg en ’n gesamentlike komitee is gestig om dit te ondersoek, het Fikile Mbalula, minister van vervoer, Dinsdag in sy begrotingsposdebat gesê.

'n E-tol installasie in Gauteng. Foto: Argief

Hy het herhaal dat pres. Cyril Ramaphosa teen Augustus ’n aankondiging hieroor sal doen. Dit kom ná ’n Twitter-debat onlangs oor die skrap van e-tol tussen Tito Mboweni, minister van finansies, en David Makhura, premier van Gauteng.

’n Nuwe wet sal vanjaar ingedien word om ’n enkele vervoerreguleerder te skep wat al die vervoersektore ekonomies sal reguleer, het Mbalula aangekondig.

Die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) sal boonop sy eie ministeriële strategiekamer kry om by die sukkelende treinpendeldienste in te gryp wat die land lamlê. Van die spesifieke teikens vir die volgende 100 dae is om te sorg dat 85% van Metrorail se treine betyds is teenoor die huidige 73,3%.

Die teiken vir die langafstandpassasierspoordiens Shosholoza Meyl is dat sy treine meer as 50% van die tyd betyds arriveer pleks van die huidige 13%. Die lokomotief-beskikbaarheid by Shosholoza Meyl moet van 45% tot 60% verbeter word.

By Metrorail sal die getal treinstelle van die huidige 200 tot 291 verhoog moet word.

Verkeersowerhede behoort 24 uur van die dag en sewe dae van die week aan diens te wees, sê Mbalula oor die hoë padsterftes en wetteloosheid op paaie. Hy sê daar word met die arbeidsektor gepraat om dit moontlik te maak dat verkeersdienste nie net vyf dae van die week en agt uur per dag werk nie.

Hy het hom ook sterk uitgespreek teen korrupsie en die aanvaarding van omkoopgeld in verkeersowerhede.

Sy departement gaan moeite doen om jonger en vrouedirekteure in die direksies van staatsbeheerde vervoer-ondernemings aan te stel. Talle van die ondernemings het nie eens tans permanente uitvoerende hoofde nie en hy sal werk maak daarvan om permanente aanstellings te doen.

Mbalula belowe verder om oor die volgende 100 dae daadwerklike stappe te doen om dienslewering in die vervoersektor te verbeter wat busdienste insluit.

Hy sal aandag daaraan gee om ’n vervoerstelsel te bou wat die koste daaraan verbonde om sake te doen verlaag. Deel daarvan is om te sorg dat Metrorail se treine nie laat is nie en dat hulle betroubaar is sodat mense betyds by die werk kan uitkom.

Die Moloto-spoorkorridor en ’n hoëspoedtreindiens tussen Johannesburg en Durban sal geprioritiseer word. Die Moloto-korridor is ’n projek om Gauteng, Mpumalanga en Limpopo met ’n nuwe passasierspoorlyn te verbind en die padnetwerk op te knap.

Chris Hunsinger, DA-woordvoerder oor vervoer, het in sy repliek op Mbalula se toespraak gesê Mbalulua is die vierde minister van vervoer in net drie jaar. Hy wys op die meer as R640 miljoen wat nie in die afgelope boekjaar deur die departement van vervoer bestee is nie.

Die DA sal hom daarvoor beywer om Transnet en Prasa te laat saamsmelt, want meer as R1 miljard word jaarliks tussen die twee entiteite verwissel, terwyl hulle dieselfde spoorlyne, platforms en sinjaaltoerusting deel, sê Hunsinger. Met R1 miljard sou die DA 250 treinstelle kon koop en genoeg spoorlyne kon bou om die Moloto-korridor moontlik te maak.

Die werklikheid is volgens Hunsinger dat nie ’n enkele meter spoorlyn in die afgelope vyf jaar gekoop is nie. Hy sê die DA dring steeds daarop aan dat die Wes-Kaapse regering die Metrorail-treindienste in die provinsie behoort te bestuur.

Meer oor:  Sanral  |  Fikile Mbalula  |  E-Tol  |  Tolpaaie  |  Openbare Vervoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.