Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Skrif is aan die muur vir SAL – DA
Die DA sê dit is hoog tyd dat die SAL gelikwideer word. Foto: Bloomberg

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) se dae is getel. Die bankrot lugdiens moet nou gelikwideer word.

Ghaleb Cachalia, DA-LP, sê Maandag in ’n verklaring gegewe dat die tesourie nie meer geld vir die SAL wil gee nie en dat die departement van openbare ondernemings hom nou van die raadplegende leierskapsforum oor die lugdiens onttrek het, is daar geen ander uitweg as om die lugdiens te likwideer nie.

Die departement het Sondag aangekondig hy onttrek hom met onmiddellike ingang van dié forum.

LEES OOK: Pravin se forum oor SAL van die baan

Cachalia sê gegewe die huidige ekonomiese klimaat gaan moeilike besluite geneem móét word. Een hiervan is om die SAL te sluit.

Hy sê ook in die verklaring Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het sy geloofwaardigheid groot skade aangedoen deur daarop aan te dring dat die SAL uit die as moet herrys.

Gordhan is voorheen geprys vir die goeie werk wat hy veral by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) gedoen het.

“Op hierdie manier het hy die swak skakel geword in die tesourie se hervormingsprogram, aangesien twee belangrike graderingsagentskappe waarsku dat Suid-Afrika op pad kan wees na verdere afgraderings as hy nie sy beloftes nakom om sy skuld onder beheer te kry nie.”

Derek Mans, Solidariteit se lugvaartverteenwoordiger, het Maandagoggend in ’n telefoniese onderhoud aan Netwerk24 gesê dié vakbond is ook baie bekommerd dat likwidasie na dese die voorland van die SAL is.

Dit volg nadat die vergadering waar krediteure oor die voorgestelde reddingsplan moes stem, Donderdag afgelas en tot 14 Julie uitgestel is.

Mans sê die groot rede waarom die krediteure vir SA Airlink en drie ander vakbonde gesteun het, was omdat daar na sy mening nog groot tekortkominge in die sakereddingsplan is.

Hy sê die departement het byvoorbeeld sedert die plan uitgereik is, in ’n verklaring gesê hy sal voorstelle deur private beleggers in die SAL oorweeg, maar dit word nie in die plan genoem nie.

Die departement sê Sondag in ’n verklaring “in plaas van om voorwaardes te skep om beleggings en geskoolde Suid-Afrikaners te lok, het drie vakbonde die SAL op die pad na moontlike likwidasie geplaas”.

Die drie vakbonde is Numsa, die Suid-Afrikaanse Kajuitpersoneelvereniging (Sacca) en die SAL Vlieëniersvereniging (Saapa).

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.