Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Slegte skuld by FNB styg met 28%

FNB moes in die halfjaar tot einde Desember baie meer slegte skuld van sy kliënte afskryf as in die ooreenstemmende tyd van 2019 weens die tol wat die pandemie op die ekonomie geëis het.

Jacques Celliers, uitvoerende hoof van FNB, die bank in die FirstRand-stal.

Die moeilike ekonomiese toestande het die vermoë van verbruikers om hul skuldpaaiemente te betaal, negatief beïnvloed.

Die bank se voorsiening vir slegte skuld is met 53% verhoog. Die totale kredietafskrywingskoste het met 41% tot R5,4 miljard gestyg.

Die wesenlike verhoging in afskrywings het sy wins voor belasting met 17% afgetrek, van R10,6 miljard in die ooreenstemmende halfjaar tot R8,8 miljard.

FNB is ’n afdeling van FirstRand Bank, ’n volfiliaal van die genoteerde groep FirstRand Bpk. FirstRand Bank het drie groot afdelings: First National Bank (FNB), Rand Merchant Bank (RMB) en WesBank.

FirstRand Bank sê ten spyte van ’n verbetering in die bedryfsomgewing in die ses maande, vergeleke met die eerste ses maande van 2020, bly die uitset in die ekonomie ver onder wat dit in 2019 was.

Meer mense slaan oor na app

Die bank se groei in nierente-inkomste is gedemp weens laer volumes transaksies gedurende die inperkings.

Die transaksievolumes by kitsbanke en depositomasjiene het met 11% tot net meer as 108 000 gedaal. Internetbankdienste is ook 5% minder gebruik en het verminder tot net meer as 88 000 transaksies.

Kaarte is 6% minder gebruik.

Sy kliënte het egter met ’n vaart die FNB-app begin gebruik en aktiwiteit het met 22% tot meer as 184 000 transaksies gestyg.

Groei in kliënte

Die bank se totale kliënte het met 3% tot 8,52 miljoen gestyg.

Die groei onder verbruikers is met 2% op tot 7,4 miljoen.

Kommersiële kliënte het met 9% tot 1,09 miljoen vermeerder.

Spaargeld styg

’n Ligpunt is dat kliënte baie meer kontant gespaar het: Deposito’s by die bank het met 19% tot R99,9 miljard gestyg.

Alan Pullinger, uitvoerende hoof van FirstRand Bank, sê die sterk groei in deposito’s word sedert Maart 2020 beleef. “Dit is duidelik ’n reaksie op die skok van Covid-19 wat die gedrag veroorsaak.”

Verbruikers se deposito’s het met 14% tot R37,3 miljard gestyg en ondernemings s’n met 24% tot R62,6 miljard.

Slegte skuld styg

Minder krediet is in die ses maande aan verbruikers toegestaan.

Nie-presterende lenings het met 28% verhoog vergeleke met die ooreenstemmende tydperk.

Dit is toegeskryf aan die ekonomiese druk wat verbruikers asook sekere kommersiële sektore ervaar. Die nie-presterende lenings van klein tot mediumgrootte ondernemings het toegeneem weens die inperkings en kliënte wat nie in aanmerking gekom het vir die leningverligting nie.

Nog ’n rede is die toename in die noodherstrukturering van skuld van mense in skuldberading.

RMB

RMB se genormaliseerde wins voor belasting het met 5% tot R3 miljard gestyg. Die grootste bydraer is sy makelaarsdienste, wat meer as verdubbel het.

Die bydrae van sy banksake het met 20% gedaal weens die konserwatiewe voorsiening wat vir kredietafskrywings gemaak is.

WesBank

WesBank se genormaliseerde wins voor belasting het met 46% tot R412 miljoen gedaal.

Ook sy wins het gedaal weens die skerp verhoging in die kredietafskrywingskoste asook rente-inkomste wat gedaal het nadat die rentekoers met drie persentasiepunte verlaag is.

Vooruitsigte

Pullinger sê sedert Junie het die bankgroep se wins vinniger herstel as wat verwag is, “aangedryf deur ’n beter as verwagte herstel in die ekonomie, wat transaksievolumes en die groei in depositobalanse ondersteun het, asook die ervaring met krediet verbeter het.”

Die groep het nie ’n finale dividend vir die boekjaar tot einde Junie 2020 verklaar nie op grond van ’n riglyn van die Reserwebank.

Hy sê FirstRand het die afgelope ses maande sy kapitaal aangevul en sy balansstaat versterk en dit het hom in staat gestel om ’n tussentydse dividend van 110c (2019: 146c) te verklaar.

“Ons verwag vorentoe tot jaareinde einde Junie voortgesette herstel namate die ekonomie geleidelik verder open. Daar is egter verskeie sektore waar nog probleme vir die res van 2021 ondervind gaan word en die volle impak van die aangepaste vlak 3-inperking moet nog gevoel word.

“Die moontlikheid van ’n derde vlaag infeksies in die winter, met mini-inperkings, en die lang tydsbestek om die teiken met inentings te bereik, vereis dat ons ’n versigtige vooruitsig het.”

Meer oor:  Wesbank  |  Fnb  |  Firstrand Bank  |  Rmb  |  Firstrand  |  Covid-19  |  Koronavirus  |  Banke  |  Bankbedryf  |  Inperkings  |  Lenings  |  Staat Van Inperking  |  Krediet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.