Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Slegte skuld: Dís wat pandemie banke kan kos

Suid-Afrika se vyf groot banke verwag dat hulle tot R64,275 miljard se slegte skuld sal moet afskryf.

Suid-Afrikaanse banke maak voorsiening vir tot R64 miljard se slegte skuld. Foto: Pixabay

Dit is ’n styging van 136% teenoor die R27,224 miljard waarvoor Absa, Capitec, FirstRand (wat FNB insluit), Nedbank en Standard Bank ’n jaar gelede voorsiening gemaak het.

Dié enorme styging is te danke aan die Covid-19-pandemie, wat groot finansiële druk op individue en maatskappye geplaas het.

Volgens die syfers wat die banke die afgelope twee maande bekend gemaak het, maak hulle as volg vir slegte skuld voorsiening:

  • Absa: R14,7 miljard (teenoor R3,695 miljard ’n jaar gelede)
  • Capitec: R6,3 miljard (R2,8 miljard)
  • FirstRand: R24,3 miljard (R10,5 miljard)
  • Nedbank: R7,675 miljard (R6,129 miljard)
  • Standard Bank: R11,3 miljard (R4,1 miljard)

Die syfers is in al die gevalle, buiten vir FirstRand, vir die eerste helfte van die huidige boekjaar. In die geval van FirstRand was dit egter vir die voljaar tot einde Junie.

Al vyf die banke het aandeelhouers en kliënte tydens voorleggings verseker dat hulle die nodige buffers het teen dié bedrae.

Gerrie Fourie, uitvoerende hoof van Capitec, het juis aan Netwerk24 verduidelik mense moet onthou dat dié bedrae is waarvoor die banke voorsiening maak – dit beteken nog glad nie dat die geld nié ingevorder kan word nie.

Van die banke het ook gesê dat hulle reeds gedurende die eerste helfte van die jaar voorsiening maak vir slegte skuld wat hulle nie in die tweede helfte van die jaar sal kan invorder nie.

Daniel Mminele, uitvoerende hoof van Absa, het in Augustus gesê die bank het besluit om eerder konserwatief te wees en om vroeg in die jaar behoorlik voorsiening vir slegte skuld te maak as om later verdere aanpassings te moet doen.

Hulp

Wanneer dit by finansiële hulp kom, het meer as miljoen mense skuldverligting van meer as R505 miljard van die banke ontvang.

Al die banke het vorme van skuldverligting aan kliënte gebied. Dit het gewissel van betaalvakansies tot die herstrukturering van skuld. In al die gevalle moes kliënte se rekeninge op datum gewees het voor die uitbreking van die pandemie.

Al die banke het bevestig dat baie van kliënte reeds weer begin het om skuld terug te betaal.

Hoewel al die banke ’n aanduiding gegee het van wat die bedrag beloop wat skuldverligting betref, het nie almal syfers gegee oor hoeveel kliënte gehelp is nie.

Volgens die resultate beloop hulp as volg:

  • Absa: R154 miljard vir sowat 538 000 kliënte;
  • Capitec: R7,5 miljard;
  • FirstRand: R107,74 miljard vir sowat 220 000 kliënte;
  • Nedbank: R119 miljard aan sowat 375 000 kliënte; en
  • Standard Bank: R118 miljard.

Die skuldverligting is aan kliënte in Suid-Afrika asook die res van Afrika waar die banke bedrywig is. In die geval van FirstRand sluit dié bedrag wel sy bedrywighede in Brittanje uit. Volgens FirstRand se resultate het hy R71,8 miljard se skuldverligting aan Britse kliënte gebied.

Meer oor:  Nedbank  |  Fnb  |  Absa  |  Capitec  |  Standard Bank  |  Firstrand  |  Betaalvakansie  |  Lenings  |  Bankbedryf  |  Banke  |  Huislenings  |  Krediet  |  Skuld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.