Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Sluit SAL en SA Express, vra tesourie
’n Airbus A320-200 van die SAL styg op vanaf die O.R. Tambo-lughawe. Foto: Getty Images

Die sluiting van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) en SA Express, die staat se twee lugdienste, word voorgestel in die nasionale tesourie se ekonomiesebeleid-reaksie op die Covid-19-pandemie wat hy Woensdag aan die kabinet vir bespreking sal voorlê.

Tito Mboweni, minister van finansies, het Dinsdag dié drastiese aankondiging gemaak in ’n telekonferensie met die media.

Die SAL en SA Express is albei tans in sakeredding weens hul geldelike probleme, en die tesourie het vanjaar meer as R16 miljard aan die SAL belowe. Voordat alle vlugte van die SAL gestaak is, was sy sakeredders reeds besig met herstrukturering wat die verlies aan meer as 2 300 werkgeleenthede of sowat die helfte van sy plaaslike personeelkorps van sowat 4 700 mense sou inhou.

Lening van $60 miljoen by Wêreldbank

Suid-Afrika praat nou boonop wel met die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) en die Wêreldbank oor spesifieke lenings geoormerk vir sy stryd teen die pandemie, het Mboweni bevestig.

Suid-Afrika onderhandel oor ’n lening van sowat $60 miljoen by internasionale instellings soos die Wêreldbank, het hy gesê.

Hy het beklemtoon die geld wat die tesourie by die IMF wil kry is nie om die nasionale begroting te laat klop nie, maar is ’n spesifieke hulpmiddel wat die IMF aan lande beskikbaar stel gemik op die stryd teen Covid-19. Dit kom te midde van toenemende oproepe dat Suid-Afrika by die IMF sal moet geld leen, ’n stap wat baie lande probeer vermy omdat hulle meen die IMF se voorwaardes vir lenings is te ingrypend.

Begroting word daagliks hersien

Die begroting van Februarie word tans daagliks hersien en aansienlike bedrae word herprioritiseer na gesondheidsorgkoste, het Mboweni gesê. “Ons kan nie toelaat dat die departement van gesondheid sonder kontant sit nie.”

Die tesourie kan nie wag tot Junie of die mediumtermynbegrotingsraamwerk in Oktober om die begroting te hersien nie – dit word van dag tot dag reeds hersien en groot bedrae word geherkanaliseer, het Mboweni gesê. Hy wil dit nie ’n noodbegroting noem nie, maar hy sal binnekort ’n gekonsolideerde hersiende begrotingstandpunt moet uitreik.

Van die ander voorstelle wat die tesourie Woensdag aan die kabinet sal voorlê, is bykomende hulp aan kleinsakeondernemings, ’n ondersoek na die aangaan van nog lenings in die plaaslike en internasionale geldmark, en die konsolidering van sekere staatsentiteite om geld te bespaar.

Fiskale afgrond dreig

“Die staatsfinansies was reeds voor die pandemie broos, so ons moet seker maak dat wat ook al ons doen, nie skade aan ons langtermyn- fiskale volhoubaarheid sal aanrig nie.”

As dringende strukturele hervormings nie uitgevoer word nie, kan die bykomende staatsbesteding om die pandemie te beveg, die staatskas nader aan ’n fiskale afgrond bring, het Mboweni gewaarsku.

Die tesourie verwag vanjaar ’n diep resessie. Die IMF se jongste vooruitskatting is dat die plaaslike ekonomie met 5,8% kan krimp. Die Reserwebank verwag self ’n inkrimping van 6,1%.

Lugdiensbedryf

Lugdienskenners meen die sluiting van die twee staatslugdienste kan geld bespaar, maar sal nie noodwendig ’n verskil in die lugdiensbedryf maak nie, want die hele lugdiensbedryf is in sy peetjie. Die private lugdiensgroep Comair is self besig met herstrukturering en kan 200 poste sny. Hy sal dus nie werk hê vir die duisende mense wat by SAL en SA Express hul werk kan verloor nie.

Meer oor:  Sal  |  Suid-Afrikaanse Lugdiens  |  Sa Express  |  Tesourie  |  Ekonomie  |  Maatskappye  |  Lugdiens  |  Staatsondernemings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.