Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Smelters pleit by Ramaphosa oor duur krag

Ferro-allooi-produsente, wat meer as 10% van die land se krag gebruik, sê 120 000 onregstreekse werksgeleenthede is op die spel.

Ferro-allooi-produsente betaal saam R15 miljard per jaar aan Eskom. Foto: Matthew Henry

Die bedryfsliggaam Fapa het ’n brief aan pres. Cyril Ramaphosa geskryf om dringende ingryping te vra oor hoë kragpryse. Fapa sê 17 500 mense sal afgelê moet word as hy nie ingryp nie.

Die bedryf betaal meer as R15 miljard per jaar aan Eskom vir krag.

Fapa-lede sluit in Samancor, Glencore, Richards Bay Minerals, Assmang, South32, Silicon Smelters, Transalloys en SACC.

Elektrisiteitskoste maak sowat 40% van dié bedryf se insetkoste uit en hul produkte word tot ’n groot mate uitgevoer aangesien baie van die plaaslike kliënte verdwyn het weens onbekostigbare bedryfskoste.

Silicon Smelters was die eerste intensiewe kraggebruiker wat in 2017 ’n ooreenkoms met Eskom bereik het om krag teen afslagtariewe te koop. Die energiereguleerder (Nersa) het dié ooreenkoms goedgekeur vir ’n tweejaartydperk.

Dié vergunning was uitsluitlik vir maatskappye wat op die rand van sluiting gestaan het.

Volgens Silicon Smelters se bestuurshoof, Nellis Bester, het dit die maatskappy in staat gestel om weer volstoom te produseer vanaf 2018 nadat hulle ’n hele aanleg in 2017 moes afsit. Hy sê meer as 200 regstreekse en 3 500 onregstreekse werksgeleenthede is deur dié afslagooreenkoms gered.

Dit was ’n wen-wen-situasie, want dit het vir Eskom inkomste verseker. Die kragvraag is ook versprei na aande wanneer ander verbruikers min krag gebruik en Silicon Smelters kon só 24 uur per dag werk.

Vandag is die hele metallurgiese mark op sy rug.
Nellis Bester van Silicon Smelters

Bester sê as Silicon Smelters nie sy tariefooreenkoms met Eskom verleng kan kry of iets soortgelyks kan beding nie, sal die groep in die huidige markomstandighede kwalik kan volhou met die winsgewende produksie van silikon in Suid-Afrika.

“Silicon Smelters is tans die enigste silikonprodusent wat oor is op die vasteland,” sê hy. “Vandag is die hele metallurgiese mark op sy rug.”

Silikonprodusente verloor volgens hom tans baie geld ná die wêreldwye ineenstorting van die silikonmark sedert laat 2018. “Dis die swakste in tien jaar, en insetkoste styg elke jaar.”

China het sy eie produksievermoë uitgebrei met die gevolg dat daar geen vraag is na invoer van Suid-Afrika nie. In Amerika het pres. Donald Trump invoer beëindig om plaaslike produsente te beskerm, met die gevolg dat uitvoerders nou almal markte in Europa teiken. Dit het ’n oorskot tot gevolg, wat die prys in duie laat stort het, sê hy.

Suid-Afrikaanse produsente sê hul insetkoste is nie mededingend nie.

Soortgelyke metallurgiese smelters betaal ongeveer $40-$45/MWh vir krag in die VSA, $45-$50 in Spanje en minder as $35 in Frankryk. Hul mededingers in Suid-Afrika moet sowat $65-$70 opdok teen Eskom se huidige “gunstige” Megaflex-tariewe.

Bester sê om te kan meeding met die meeste van die Westerse lande moet die plaaslike bedryf minder as $40/MWh vir krag betaal.

Dit geld vir silikon-, chroom-, staal- en mangaanprodusente, sê hy.

Volgens Chabisi Motloung, voorsitter van Fapa, het vyf van die vereniging se lede by Eskom aansoek gedoen vir ooreenkomste soortgelyk aan dié van Silicon Smelters, maar al vyf is vroeër vanjaar afgekeur.

Dit is moontlik omdat die afslag wat hulle vra te ver verwyderd is van Eskom se opwekkingskoste, sê Motloung. Fapa meen egter Eskom se opwekkingskoste is tans besonder hoog weens die oormatige gebruik van dieselturbines en voortslepende instandhoudingsprobleme. As dit buite rekening gelaat word, kan die partye baie nader aan ’n ooreenkoms wees, sê hy.

Fapa het in die eerste kwartaal ’n voorlegging gedoen aan Eskom se bedryfshoof, Jan Oberholzer, met voorstelle hoe lede met Eskom kan saamwerk tot almal se voordeel.

Daar is egter nog geen verligting nie.

Die vereniging hoop ook op ’n algemene laer tarief vir intensiewe gebruikers, waaraan Eskom al meer as ’n jaar werk.

Die kans dat dit egter gou gaan realiseer is skraal, het Rapport verneem.

Eskom se omstandighede het verander en daar is nie meer deurlopend ’n kragoorskot nie.

Die vraag word gevra waarom daar nie ’n spesiale tarief, wat in ooreenstemming is met ander lande, vir al die metallurgiese produsente ingestel kan word nie.

Die kragreus werk al langer as ’n jaar aan ’n tariefvoorstel, maar glo dat die regering deur ’n subsidie of ander maatreëls vir die verlies aan inkomste weens enige afslag sal vergoed. Sulke besluite neem egter bitter lank. Dan sal Nersa dit ook nog moet goedkeur.

Bedryfsleiers vrees die metallurgiese bedryf sal nie vir langer as twee jaar staande kan bly met jaarlikse verhogings in kragtariewe, die bykomende las van koolstofbelasting en die loonverwagtinge van die arbeidsmag nie.

Meer oor:  Nersa  |  Eskom  |  Kragtariewe  |  Mynbou  |  Krag  |  Elektrisiteit  |  Vervaardiging
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.