Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Snelbusse nie reg vir SA, was ‘ego-projek’ vir 2010
MyCiTi-busse is te klein vir Kaapstad se lang roetes, meen 'n kenner.

Busdienste met toegewyde busbane is die oplossing vir Suid-Afrika se probleme met openbare vervoer.

Dis die mening van Francois Meyer, uitvoerende hoof van die Golden Arrow-busdiens.

Algemene verkeersopeenhopings belemmer die optimale benutting van busse, het Meyer Dinsdag op die Mededingingskommissie se openbare sitting gesê as deel van die kommissie se markondersoek na openbare vervoer.

As minibustaxi’s die oplossing was vir openbare vervoer, was die Europese stede met hul digte bevolkings lankal vol daarvan, daarom dink hy nie minibustaxi’s is die beste oplossing nie, sê Meyer.

’n Bus van Golden Arrow kan egter weens die verkeersknope in Kaapstad hoogstens twee of drie ritte per dag onderneem: een in die oggend en dalk twee in die aand. Vir die res van die dag is die bate dus onbenut.

Dit vat ’n bus omtrent ’n uur om deur Khayelitsha te ry omdat dit elke 200 m moet stop. Minibustaxi’s kan meer ritte per dag inpas, want hulle kan dinge doen soos om links van jou op die snelweg verby te glip.

As daar vir Golden Arrow egter ook toegewyde busbane is, soos met die MyCiTi-busdiens, kan die een bus sy getal ritte per dag van drie tot ses verdubbel, en daarmee die inkomste.

Wat van treine?

Is treindienste dan nie deel van die oplossing vir openbare vervoer nie? Meyer meen Metrorail se dienste behoort aan private operateurs uitgekontrakteer te word. Tans kry Metrorail soos busvervoerdienste subsidies van die staat, maar hy verhaal steeds nie al sy koste nie, want op sommige roetes betaal tot soveel as 84% van die passasiers nie vir treinkaartjies nie.

Verkeerde busse

Meyer meen ook die MyCiTi-busse is die verkeerde busse vir Suid-Afrikaanse stedelike omstandighede. Hulle is ontwerp vir die omstandighede in Bogotá, Colombië, waar roetes kort en die bevolkingsdigtheid hoog is. Die busse in Bogotá se gemiddelde ritte is net 7 km en dit is ontwerp vir staande passasiers.

Mense is bereid om te staan vir ’n kort rit van net 7 km, maar in Kaapstad wissel die tipiese busrit van 20 km tot 50 km.

In Bogotá is die spitstye ook langer – so lank as drie tot vier uur, terwyl spitstye vir busritte in Kaapstad net twee relatief kort tye soggens en saans is. Dit beteken die busse word nie so doeltreffend benut nie.

Meyer glo nie daar was regtig ’n gaping in die busvervoermark voordat die snelbusdienste soos MyCiTi ingestel is nie. Dit was volgens hom meer ’n “ego-projek” vir die Kaapstad-metro en vir die doel van die Wêreldbekersokkertoernooi in 2010.

Die nasionale regering het boonop in daardie stadium aan stede ’n subsidie aangebied solank dit vir snelbusdienste gebruik word, daarom wou elke stad spring om dié dienste te kry.

Diesel
Golden Arrow verbruik sowat 30 miljoen liter diesel per jaar, en moes heelwat aan programmatuur bestee om die brandstofverbruik van sy busse te verminder.

Probleme

Golden Arrow kan egter binne vier tot ses jaar in dieselfde bootjie sit as die Putco-busdiens in Gauteng wat finansieel sukkel, waarsku Meyer. Dit is as niks verander aan die manier hoe subsidies toegeken word en hoe die busmark gereguleer word nie.

Meyer verduidelik Golden Arrow moet sy busdiens bedryf in marktoestande tipies aan ’n ontwikkelende mark, maar sy koste is soos dié in Eerstewêreldlande, want sy busse word van Europa ingevoer. Hy is dus blootgestel aan die rand-euro-wisselkoers en die brandstofprys word deur die rand-dollar-wisselkoers bepaal.

Meer oor:  Golden Arrow  |  Metrorail  |  Myciti  |  Putco  |  Mededingingskommissie  |  Busse  |  Openbare Vervoer  |  Treine
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.