Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
So baie direksies, so min direkteure
’n Direkteur wat op 5 direksies dien, moet minstens 40 vergaderings per jaar bywoon. Foto: iStock

Hoe deeglik is die toesig oor die maatskappy waarin jou geld belê is as ’n direkteur in tot tien direksies dien?

In ’n verslag oor praktyke en vergoeding aan nie-uitvoerende direkteure noem die ouditfirma PwC so ’n geval waar ’n enkele mens tien direkteurskappe hou.

Die verskynsel word “over-boarding” genoem en is volgens kenners ook in Suid-Afrika ’n probleem.

Direkteure moet genoeg tyd hê om vergaderings by te woon en hulle behoorlik daarop voor te berei sodat hulle hul toesig­rol behoorlik kan vervul.

Nou is daar ’n moontlikheid van gedeeltelike regulering van dié verskynsel, ook in Suid-Afrika, waar die tekort aan bekwame direkteure een van die redes is waarom dieselfde mense in te veel direksies dien.

So iets stel maatskappye, werkers, aandeel­houers, kliënte en die direkteure self aan risiko bloot.

Die Europese Unie het ná die wêreldwye finansiële krisis in 2008 reeds regulasies ingestel oor die aantal toelaatbare direkteurskappe, maar Amerika nie.

Jeremy Kress van die Universiteit van Michigan wei op die webwerf van die Harvard Law School Forum daaroor uit in ’n artikel getiteld “Board to Death”.

Volgens Frik Landman, uitvoerende hoof van USB-Ed, die bestuursontwikkelingsmaatskappy van die Universiteit Stellenbosch se sakeskool, het oorlaaide direkteure bloot te veel werk.

Dít is ’n vol program, met ’n hoëvlak-vergadering byna elke week van die jaar wat baie tyd en behoorlike voorbereiding eis.
Parmi Natesan van Iodsa

Parmi Natesan, direkteur van die sentrum vir korporatiewe beheer van die Instituut van Direkteure van Suider-Afrika (IoDSA), sê daar is geen vaste reël nie, maar die riglyn is dat een mens nie meer as vyf poste as nie-uitvoerende direkteur behoort te beklee nie. Dit hang uiteraard af van die persoon se vermoë, ander verpligtinge (soos heeltydse werk) en die grootte en kompleksiteit van die organisasies wat hulle dien.

“Te veel direkteurskappe per persoon behoort aandag te kry, maar daar is net ’n klein getal direkteure met meer as vyf direkteurskappe, vergeleke met dié met minder as vyf,” sê Natesan.

Landman sê daar is beslis direkteure wat dit oordoen.

Prakties beteken vyf direkteurskappe 20 vergaderings per jaar omdat elke direksie minstens vier vergaderings per jaar hou. ’n Direkteur is ook lid van minstens een direksiekomitee in elk van die vyf direksies, wat nog 20 vergaderings per jaar vereis.

“Dít is ’n vol program, met ’n hoëvlakvergadering byna elke week van die jaar wat baie tyd en behoorlike voorbereiding eis. En dit is wanneer daar geen langdurige krisisse is wat die direksie moet hanteer nie.”

Frik Landman, uitvoerende hoof van USB-Ed.

Direkteurskappe lyk goed op ’n CV én jy word betaal.

Volgens Landman is ’n direksievergadering ’n goeie netwerkgeleentheid en gee dit direkteure blootstelling aan goeie bestuurspraktyke en ander benaderings tot probleemoplossing.

Gegrond op inligting van JSE-genoteerde maatskappye, het ’n direksievoorsitter in 2016 gemiddeld R520 000 per jaar verdien en ’n nie-uitvoerende direkteur gemiddeld R345 000 per jaar, volgens die PwC-verslag.

“Nog meer verrassend” is dat sekere nie-uitvoerende direkteure in meer as een maatskappy ook die voorsitter van die direksie is. Dit is ’n geweldig veeleisende rol.

In die King IV-verslag oor etiese korporatiewe bestuur is aanbevelings gedoen oor hoe ’n voorsitter en die direksie saam moet besluit oor watter ander professionele poste hy kan vul en steeds die voorsitterspligte doeltreffend uitvoer.

Hoewel Landman teen oorregulering maan, steun hy ’n tussentydse perk op die aantal direkteurskappe wat een persoon kan hou totdat die poel van potensiële direkteure voldoende uitgebrei het.

Natesan sê IoDSA het ’n program om die talentpoel te vergroot en ervare direkteure die kans te bied om uiteindelik as ’n geoktrooieerde direkteur erken te word. Die instituut laat ook assosiaatlede toe sodat jong, voornemende direkteure hul vaardighede kan slyp.

Natesan sê baie mense het geen inkomste benewens hul direkteurskappe nie. Omdat daar nie enige minimum standaarde is om as ’n direkteur te dien nie, bied die benaming van geoktrooieerde direkteur aan dié mense ’n manier om hul kwalifikasies objektief te toon en dit verder uit te brei deur ’n formele ontwikkelingsprogram.

Professionele direkteurs onderskryf ook ’n kode van professionele etiese waardes en hul titel kan weggeneem word. Teen einde Mei was daar 70 geoktrooieerde direkteurs in die IoDSA se register. Onder hulle is drr. Prieur du Plessis en Reuel Khoza, Tito Mboweni, Venete Klein, Mark Lamberti, Gloria Serobe, Louis von Zeuner en proff. Linda de Beer en Deon Rossouw.

Meer oor:  Pwc  |  Maatskappye
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.