Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Só daal Wimpy, Steers se verkope

Die eienaar van Wimpy, Steers, Debonairs en House of Coffees het swaar getrek in sy 2020-boekjaar, wat byna volledig onder Covid-19-inperkings geval het.

Debonairs, wat sy eie afleweringsdiens het, was die eerste van Famous Brands se restaurante wat vanaf Mei 2020 kon sake doen. Foto: Debonairs

Famous Brands het Donderdag in ’n handelsverklaring gesê die invloed van inperkings in al die lande waarin hy bedrywig is, het die hele boekjaar tot einde Februarie in ’n mindere of meerdere mate sy tol geëis.

Inkomste by die groep se hoofstroomrestaurante in Suid-Afrika, wat Wimpy, Steers en Debonairs insluit, het met 28,6% gedaal vergeleke met 2019. Baie van dié restaurante was reeds voor die pandemie gereed vir wegneemetes, maar ander, soos Wimpy, het baie gou aangepas om Uber Eats en Mr D se afleweraars te akkommodeer.

Inkomste by die groep se nisrestaurante, wat Lupa, House of Coffees en Paul insluit, het baie swaar getrek omdat hulle nie juis geskik is vir aflewerings nie. Die afdeling se inkomste het met 66,6% geval.

Restaurante kon vanaf 27 Maart tot einde April glad nie sake doen in Suid-Afrika nie, en daarna is slegs wegneemetes wat afgelewer word, in Mei toegelaat. In Junie kon mense weer hul eie wegneemetes gaan haal. Aansit-restaurante is ernstig geknou deur die langdurige verbod op drankverkope en die aandklokreëls wat heeltyd verander het. Selfs nou nog moet restaurante teen 23:00 sluit om te verseker dat klante en personeel voor middernag tuis kan wees.

Ook in ander Afrika-lande, lande in die Midde-Ooste en Brittanje het die pandemie sy tol geëis, met baie streng inperkings in baie lande.

’n Ligpunt vir Famous Brands in April was die feit dat Wimpy- en Steers-souse deurgaans in winkels verkoop kon word en aftrek gekry het soos mense meer by die huis kosgemaak het. Verkope van dié produkte aan klein- en groothandelaars het R151 miljoen beloop, sowat 5% meer as in 2019.

Verkope by restaurante in die res van Afrika en die Midde-Ooste het met 22,9% gedaal.

Die groep se afdeling vir vervaardiging en verspreiding, wat ’n wye reeks produkte aan die groep se restaurante verskaf, het onderskeidelik 24% en 27% minder verdien.

In Brittanje wag Famous Brands vir die afhandeling van die administrasieproses van Gourmet Burger Kitchen (GBK), maar dit gaan geen invloed op sy boeke hê nie aangesien hy sy R1,3 miljard-belegging in GBK reeds in Augustus ten volle afgeskryf het.

Die groep kan nog nie met sekerheid aandui met hoeveel sy wins vir die boekjaar gedaal het nie. Die resultate word op 25 Mei uitgereik.

Meer oor:  Debonairs  |  Steers  |  Wimpy  |  Famous Brands  |  Covid-19  |  Staat Van Inperking  |  Koronavirus  |  Restaurante  |  Inperking  |  Kitskos
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.