Markus Jooste het géén skeidingspakket ontvang nadat hy in Desember 2017 as uitvoerende hoof van Steinhoff bedank het nie.

Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff, toe hy verlede jaar in die parlement volgehou het hy is onskuldig aan enige ongerymdhede.
Die groep se jaarverslag vir die 2018-boekjaar stel dit baie duidelik dat Jooste ook bonusse en aandeleregte kwyt is ná sy bedanking. Jooste het die aand van 4 Desember 2017 deur ’n regsverteenwoordiger bedank, maar Steinhoff gee sy bedankingsdatum as die volgende werkdag, 5 Desember, aan.
Ben la Grange, wat op 4 Januarie 2018 as finansiële direkteur bedank het, het ook geen skeidingspakket of bonus ontvang nie, volgens die jaarverslag, wat Dinsdagaand uitgereik is.
Jooste het wel in die twee maande van die 2018-boekjaar waarin hy nog uitvoerende hoof van Steinhoff was, ’n stewige €326 000 verdien. Dis meer as R5,3 miljoen (volgens die huidige wisselkoers). Dit het bestaan uit sy basiese salaris vir die tyd van €322 000 en ’n pensioenfondsbydrae van €4 000.
Steinhoff se boekjaar begin in Oktober, wat beteken vir die 2018-boekjaar het Jooste net Oktober en November vir die maatskappy gewerk en dus effektiewelik sowat R2,65 miljoen per maand verdien.
Jooste het bedank toe Steinhoff se eksterne ouditeur, Deloitte, geweier het om die 2017-jaarresultate af te teken en Jooste se beloofde antwoorde op Deloitte se vrae nie vorendag gekom het nie. Dit het gelei tot ’n forensiese ondersoek deur PwC wat Jooste, La Grange en nog ses ander mense uitwys wat na bewering by bedenklike transaksies betrokke was.
LEES OOK: Steinhoff: Adviseurs kos al byna R2 miljard
Die transaksies het Steinhoff se syfers baie blinker laat lyk het as wat hulle was.
Steinhoff het in Mei uiteindelik sy 2017-jaarsyfers heraangegee as ’n enorme verlies van nagenoeg €4 miljard (sowat R64 miljard volgens die wisselkoers met die uitreiking van dié resultate) en ook aangedui dat hy in 2016 ’n verlies gely het. Die 2016-verlies van €237 miljoen was teenoor die wins van €1,2 miljard wat vantevore aangegee is.
Die 2018-boekjaar – die syfers wat pas uitgereik is – wys steeds ’n groot verlies van sowat €1,2 miljard (nagenoeg R19,6 miljard). Op bedryfsvlak is die groep wel winsgewend.
LEES OOK: Is Steinhoff nog ’n lopende saak?

Ben la Grange, voormalige finansiële hoof van Steinhoff.
La Grange se vergoeding in dié boekjaar was altesame €1 190 000 (nagenoeg R19,4 miljoen) gewees. Dit sluit ’n uitgestelde bonus van €965 000 in wat in die vorige boekjaar aan hom toegeken is en eers in Oktober en November 2017 uitbetaal is.
Sy basiese salaris en pensioenfondsbydrae vir die net meer as drie maande vanaf Oktober 2017 tot 4 Januarie 2018 was €219 000 (nagenoeg R3,6 miljoen). Dit kom neer op byna R1,2 miljoen per maand.
La Grange het ook €324 072 verdien vir “konsultasiegeld” omdat hy vanaf Januarie tot September 2018 nog “dienste” aan die groep gelewer het. Dié bedrag is nie by sy vergoeding ingesluit nie, maar beteken hy het in die 2018-boekjaar altesame €1 514 072 (nagenoeg R24,7 miljoen) van Steinhoff ontvang.
Geen bonusse teruggeëis
In die 2018-boekjaar is geen bonusse van voormalige bestuurslede teruggeëis nie. Die maatskappy sê egter sowel die huidige bestuursdireksie as die toesighoudende direksie bly daartoe verbind om die reg om vergoeding terug te vorder, gebruik gaan word, “waar toepaslik”.
Die maatskappy verwys na die tientalle hofsake wat aandeelhouers en voormalige vennote teen die groep begin het, maar verwys nie na enige regstappe wat hy self beoog nie. Daar is egter ’n skimp dat so iets oorweeg word.
Hy kondig in die jaarverslag aan dat hy PwC versoek het om met “fase twee” van ’n forensiese ondersoek te begin. Dié deel van die ondersoek sal gaan oor “sekere vraagstukke wat geïdentifiseer is ... wat nie wesentlik is vir die maatskappy se finansiële state nie, maar wat om ander redes belangrik kan wees en daarom verdere ondersoek, gevolgtrekkings en resolusie vereis.”