Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Só het Matjila, Survé die OBK geslag vir eie gewin

Dr. Dan Matjila, voormalige uitvoerende hoof van die Openbare Beleggingskorporasie (OBK), en dr. Iqbal Survé, voorsitter van die Sekunjalo-groep, het hul posisies misbruik om transaksies in hul guns te beklink.

Dan Matjila. Foto: Elvira Wood

Luidens die verslag oor gebeure by die OBK wat Donderdag bekendgestel is, “is dit duidelik dat die OBK se interaksie met en beleggings in die Sekunjalo-groep van die begin af twyfelagtig was”.

Die verslag stel verder dat Matjila oneerlik oor veral die transaksie met Survé se Ayo Technology Solutions was, terwyl Survé glo weer verantwoordelik was vir die “blatante manipulasie” van Ayo se aandeelprys.

Die kommissie, onder leiding van regter Lex Mpati, sê in die verslag die korrekte prosesse is nié gevolg toe die OBK besluit het om R4,3 miljard in Ayo te belê nie.

Die OBK het R43 per aandeel betaal toe hy in Desember 2017 in dié maatskappy belê het. Sedertdien het Ayo se aandeelprys tot R2,38 geval.

Survé het deurgaans voet by stuk gehou dat daar niks ongerymds was met dié transaksie nie.

Hy het ook sedert die openbare sittings in 2019 afgehandel is, in ’n berig op IOL gesê die verslag, wat glo reeds in Desember uitgelek het, het hom en Matjila vryspreek van enige ongerymdhede by dié transaksie.

In die verslag van 1 000 bladsye word daar 850 keer na Matjila en 64 keer na Survé verwys.

Die verslag sê verder “die voorgestelde Sagarmatha-transaksie beklemtoon tot waar Matjila en Survé bereid was om te gaan om te verseker dat die ooreenkoms afgehandel word”.

Iqbal Survé, sakeman en voorsitter van Independent Newspapers. Foto: Argief

Die OBK het nooit in Sagarmatha belê nie. Dit was egter nie die OBK se besluit nie, maar dié van die JSE.

“As die Sagarmatha-notering voortgegaan het (dit het nie omdat die JSE dit nie goedgekeur het nie) en die aandelebeursooreenkoms deurgevoer is wat deur Matjila onderteken is, sou die OBK teen ’n prys van R39,62 in Sagarmatha belê het, en nié teen R7,06 soos wat die OBK-span dit gewaardeer het nie,” lui die verslag.

“Boonop sou die OBK se eie geld gebruik word om geld wat Independent Media aan hom geskuld het, aan hom terug te betaal.”

Die kommissie sê Matjila was ten volle bewus daarvan dat dít is wat dié maatskappy, wat ook aan Survé behoort, wou doen.

Die kommissie sê verder ’n brief wat, nadat Matjila getuienis voor die kommissie gelewer het, as bewys aan hom gestuur is, wys dat Matjila gejok het toe hy gesê het hy laat hom deur die beleggingskomitee lei oor besluite wat geneem word.

Matjila het glo nooit melding gemaak van die brief wat wys dat hy self die ooreenkoms geteken het om in Ayo te belê nie.

Misbruik van mag

Benewens die talle ongerymdhede en verontagsaming van prosesse waaraan Matjila hom in sy interaksie met die Sekunjalo-groep skuldig gemaak het, sê die kommissie Matjila het duidelik sy posisie in die korporasie in verskeie gevalle misbruik.

Die kommissie sê Matjila se besluit om ’n bedrag van R10,4 miljard in ’n transaksie met Lancaster tot R9,4 miljard te verminder sodat hy die finale besluit daaroor kon neem, was ongerymd.

Lancaster sou dié geld in Steinhoff belê.

“Die redes wat Matjila verskaf het vir sy besluit om in Steinhoff te belê, weerspieël ’n ontkenning van die belange van die kliënte van die OBK in die strewe om oënskynlik ’n maatskappy wat op die JSE genoteer is, te beïnvloed,” lui die verslag.

Die kommissie sê daar is geen twyfel dat dié transaksie ’n enkele individu beduidend finansieel bevoordeel het nie.

Jayendra Naidoo was die stigter en enigste aandeelhouer in Lancaster.

LEES OOK: Matjila ‘aanvaar blaam vir Steinhoff’

Die kommissie kap Matjila verder oor hoe hy by individue betrokke geraak het.

“Matjila se herhaalde pogings om Lawrence Mulaudzi te oortuig om finansiële hulp aan Pretty Louw te verleen, weerspieël hoe hy sy posisie misbruik het, en die invloed wat hy gehad het op maatskappye waarin die OBK belê het.”

Die kommissie sê verder dit is duidelik dat Matjila sy posisie ook misbruik het om polities blootgestelde persone te help.

“Matjila het nie net versoeke van politieke partye en ander invloedryke individue om finansiering deurgegee nie, maar hy het in werklikheid sulke versoeke opgevolg.

“Matjila se versoeke om finansiële bystand te verleen of om bydraes aan individue, organisasies en politieke partye te lewer, weerspieël sy misbruik van sy amp en die vermoë om onbehoorlike invloed uit te oefen op maatskappye waarin belê is,” lui die verslag.

LEES OOK: Matjila erken hy het ANC-man help geld kry

Nog ’n probleem wat die kommissie van ondersoek met Matjila het, is die manier hoe hy waarde heg aan die geld wat deur die OBK beheer word.

“Matjila se houding ten opsigte van beleggingsprestasie toon ’n onvoldoende verbintenis tot die omsigtigheidsvereiste.”

Die kommissie sê Matjila het persentasies gebruik om veral verliese wat gelei is, te probeer verskans.

Volgens die kommissie het Matjila aspris verkeerde berekeninge voorgelê sodat dit lyk of die bedrae baie kleiner is as wat dit werklik was.

Die kommissie sê daar was ook ’n konsekwente patroon in Matjila se getuienis waar hy “geen individuele aanspreeklikheid aanvaar vir wesenlike foute of mislukkings nie”.

Ramaphosa se reaksie

Pres. Cyril Ramaphosa het Donderdag ten tye van die vrystelling van die dokument gesê die kommissie impliseer ’n aantal persone wat verkeerd opgetree het.

“Die kommissie stel voor dat huidige en/of voormalige werknemers wette met betrekking tot korrupsie en omkopery, beskermde onthullings, elektroniese onderskeppings en gedeeltes van die maatskappywet kon oortree het,” sê Ramaphosa. Hy sê strafsake sal na die betrokke owerhede verwys word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.