Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Só het OBK geknoei om in Ayo te belê

Die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) het R4,3 miljard in dr. Iqbal Survé se Ayo Technologies belê sonder om enige prosesse te volg.

Iqbal Survé, wie se familie belange het in onder meer African Equity Empowerment Investments, Independent Media en Ayo Technology Solutions. Twee van sy ondernemings is geteiken vir omstrede OBK-beleggings.

Boonop het hy hard probeer om sowat R3 miljard in Survé se Sagarmatha Technologies teen R39,62 per aandeel te belê terwyl dit volgens ’n kenner net sowat R4,39 per aandeel werd was.

Dit is wat Victor Seanie, assistentportefeuljebestuurder van die OBK wat op 22 Januarie geskors is juis weens sy betrokkenheid by dié transaksie, Woensdag voor die Mpati-kommissie van ondersoek in Pretoria getuig het.

Lees ook: Matjila belê om sy ‘goeie vriend Iqbal Survé’ te help

Seanie het die hele proses wat die Ayo-transaksie voorafgegaan het volledig bespreek – van waar Fidelis Madavo, die OBK se hoof van genoteerde beleggings, vir hom gesê het om met Ayo te vergader, tot waar sy aanbevelings geïgnoreer is en die belegging gemaak is.

Seanie sê in sy beëdigde verklaring benewens dr. Dan Matjila, voormalige uitvoerende hoof van die OBK, het Lebogang Molebatsi, hoofbestuurder vir genoteerde aandele) die onherroeplike ooreenkoms om die belang in Ayo te bekom, geteken.

Die volgende bestuurslede het die memo om die betaling goed te keur op 19 Desember 2017 geteken:

  • Dan Matjila
  • Matshepo More (finansiële hoof van die OBK)
  • Leon Smit (waarnemende uitvoerende hoof van genoteerde beleggings)
  • Winnifred Setshedi (waarnemende hoof van regs, raad, bestuur en nakoming) en
  • Gaanewe Adams (waarnemende hoofbestuurder van genoteerde aandele).

Proses

Volgens Seanie neem dit maklik tussen 11 en 12 weke vir kenners soos hy om ’n behoorlike verslag oor moontlike beleggings saam te stel.

Hy sê ook die OBK dikteer gewoonlik wanneer hy ’n besluit kan maak, en sal nie huiwer om ’n maatskappy te versoek om ’n notering op die JSE uit te stel totdat alle prosesse gevolg is nie.

In die geval van die Ayo-belegging is hy glo net drie weke gegun om die navorsing af te handel en was dit duidelik Ayo het die trom geslaan oor wat die spertye was.

“Daar is ook geen onderhandeling wat die noteringsprys van R43 per aandeel betref nie.

“Dit is ongehoord. Die OBK onderhandel gewoonlik daaroor gebaseer op die waardasie wat vir die betrokke maatskappy bereken is,” het Seanie getuig.

Seanie het ook herhaaldelik gesê sy verslag het duidelik gesê Ayo is nie ’n goeie belegging nie.

Tog het Madavo hom aangesê om die verslag te verander en juis aan te beveel dat die OBK in die maatskappy belê.

Sagarmatha

Nóg ’n transaksie wat die kern van Seanie se getuienis was, was die voorgestelde belegging van tussen R3 miljard en R7,5 miljard in Survé se Sagarmatha.

“Soos wat ek dit verstaan het was die sukkelende Independent Media deel van Sagarmatha.

“As die OBK in Sagarmatha sou belê sou dit baie van Independent se skuldprobleme opgelos het,” sê Seanie.

Hy was verbaas dat ongeag sy aanbeveling dat dit nie ’n goeie idee was om in Sagarmatha te belê nie, die OBK duidelik daarmee wou voortgaan.

“Dit was soort van ’n reddingsboei,” was sy kommentaar.

Die OBK het R235 miljoen aan Independent Media geleen.

Seanie sê die OBK het eindelik besluit om nié in Sagarmatha te belê nie nadat ’n kollega uitgewys het die ooreenkoms het reëls van die Raad op Finansiële Dienste (nou die Gedragsowerheid van die Finansiële Sektor) oortree.

Skorsing

Seanie het getuig daar was drie redes hoekom hy kort na aanvang van die kommissie se openbare sittings op 22 Januarie geskors is.

Die eerste was omdat hy glo nie die regte prosesse gevolg het om ’n noulettendheidstudie oor Ayo te laat goedkeur nie.

Hy het verduidelik die omvang van die transaksie was van só ’n aard en die spertyd só kort dat hy gevoel het ’n noulettendheidsondersoek was nodig.

“Ek het aansoek by die portefeuljebestuurskomitee ingedien vir só ’n studie. Ek het voordat dié aansoek goedgekeur is, voortgegaan met ’n interne studie wat net die OBK se hulpbronne gebruik het en geen ekstra koste meegebring het nie,” sê Seannie.

“Ek het dus geen prosesse verontagsaam deur geld uit te gee op ’n studie nie,” sê hy.

Die tweede rede vir sy skorsing is dat hy glo nie die OBK se beleggingskomitee ingelig het dat die Ayo-transaksie reeds goedgekeur en geteken was toe die kommissie vergader het nie.

Dit was ongeag die feit dat More een van die persone was wat die dag vóór die vergadering op 20 Desember 2017 die memo geteken het om die betaling vir die transaksie goed te keur.

Die derde rede vir Seanie se skorsing was omdat hy glo nie sy samewerking gegee het toe ’n interne ondersoek oor die Ayo-transaksie gedoen is nie.

Seanie het dié bewering heftig ontken.

Hy sê ook werknemers by die OBK is bang om te praat oor hoe hulle geïntimideer word.

“Kyk na my, ek is nie eens ’n fluitjieblaser nie, en kyk wat het met my gebeur.”

* Die kommissie se sittings oor gebeure by die OBK hervat aan die einde van Februarie.

Lees Seanie se volledige verklaring hier 

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.