Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Só het Woolworths se gek troue Doer Onder verloop

Woolworths se verkryging vyf jaar gelede van die afdelingswinkel David Jones in Australië teen R21,6 miljard het die afgelope vyf jaar in ’n nagmerrie vir die groep ontaard.

woolworths
'n Advertensie van 'n klerereeks van die Australiese klerekleinhandelaar David Jones wat deur Woolworths oorgeneem is. Woolworths-webwerf

David Jones is die oudste afdelingswinkel in Australië en een van die oudstes ter wêreld.

Woolworths het besonder baie vir die maatskappy betaal en het allerhande sinergieë en skaalvoordele as rede daarvoor gegee wat nou blykbaar nie realiseer nie.

Die maatskappy het Donderdag aangekondig hy gaan nog ’n reusebedrag van R4,3 miljard (A$437,4 miljoen) van die belegging afskryf.

Dit kom nadat hy in 2018 amper ’n derde van die belegging afgeskryf het.

Die groep het toe gesê die vertoning van David Jones en die swakker vooruitsig het tot die afskrywing van A$712,5 miljoen (R6,9 miljard) gelei.

Die afskrywingskoste het gelei tot ’n nabelaste verlies van R3,5 miljard – die eerste keer in 16 jaar wat Woolworths ’n verlies gely het.

Die handelsoorsig Donderdag toon Woolworths gaan nou weer in die boekjaar tot einde Junie ’n verlies ly weens die koste van die afskrywing.

Die A$1,2 miljard wat nou afgeskryf is (wat in vandag se wisselkoers op R11,3 miljard neerkom) beteken hy het nou meer as die helfte van die belegging afgeskryf.

Woolworths se aandeelprys het in 2015 sy hoogste vlak bereik van R102,52 en daarna begin daal tot die laagtepunt van sowat R44 wat dit vroeër die jaar was.

Dit het sedertdien effens teruggeklim tot die R54,65 waarop dit nou is.

Sy aandeelprys het 35c of 0,6% gedaal van Woensdag se sluitingsprys in reaksie op die aankondiging.

Die jongste aankondiging kom nadat Woolworths begin van die jaar met die uitreiking van sy halfjaarsyfers sy dividend verlaag het en erken het hy het foute gemaak.

LEES OOK: Woolies: ‘Ons het foute gemaak’, verlaag dividend.

Tien jaar gelede het dinge só gelyk:

  • Woolworths verkry David Jones Augustus 2014 vir R21,6 miljard. Die transaksie word met R10 miljard se kontant gefinansier nadat sy bedryfskapitaalgeriewe herfinansier is; A$264 miljoen (R2,5 miljard) deur senior skuldbriewe wat in Australië uitgereik is; en ’n R9,9 miljard-oorbruggingslenings wat terugbetaal is met die opbrengs van ’n regte aanbod Oktober daardie jaar.
  • In die eerste boekjaar tot einde Junie 2015 beloop David Jones se inkomste R13,6 miljard. Sy wins voor buitengewone items en belasting beloop R1,04 miljard.
  • Einde van die 2015-boekjaar word die totale bates van David Jones op R24,1 miljard aangedui.
  • In die jaarverslag word getoon die groep se opbrengs op ekwiteit daal van 45,1% tot 31,7% weens die verkryging.

Vandag lyk dinge so:

  • In 2018 probeer Woolworths verskeie dinge met David Jones wat genoem word “sake-transformasie-inisiatiewe”. Dit sluit in nuwe stelsels vir aankope, aanlyn en finansiële sake en die verskuiwing van David Jones se hoofkantoor van Sydney na Melbourne. Die groot vlagskipwinkel in Elizabeth Street word opgeknap en Woolworths brei sy voedselwinkel-formaat van Suid-Afrika daarheen uit.
  • “Die ontwrigting wat die inisiatiewe meebring, saam met verbruikersbesteding wat onder druk is en die marktoestande wat deur baie promosies gekenmerk word, het tot ’n teleurstellende vertoning gelei,” skryf die groep in sy jaarverslag vir die boekjaar tot einde Junie 2018.
  • David Jones se inkomste beloop R16,6 miljard, 2,8% laer in randwaarde.
  • Die vertoning van die onderneming en die swakker vooruitsig lei tot die afskrywing van A$712,5 miljoen (R6,9 miljard) in die drawaarde van die bates.
  • Die afskrywingskoste bring ’n verlies vir David Jones van R6,5 miljard vergeleke met die vorige jaar se R2,5 miljard wins.
  • Die afskrywing verlaag nou David Jones se totale bates van einde 2017 tot einde 2018 van R24,2 miljard tot R18,8 miljard.
  • Einde van die boekjaar beloop Woolworths se opbrengs op ekwiteit 20,7%. Dit het deurgaans gedaal sedert die verkryging.
Meer oor:  David Jones  |  Woolworths  |  Australië  |  Klerekleinhandel  |  Kleinhandel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.