Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Só is Markus Jooste as ‘baasbrein’ uitgewys

Markus Jooste, as die beweerde baasbrein, en sewe ander spelers wat deur PwC geïdentifiseer is as die mense wat na bewering betrokke is by meer as R100 miljard se fiktiewe en onreëlmatige transaksies by Steinhoff sedert 2009 is gister deur die maatskappy op instruksie van die parlement bekend gemaak.

Steinhoff
Louis du Preez, uitvoerende hoof, en Heather Son, voorsitter, Dinsdag in die parlement by 'n sitting van vier komitees waar hulle terugvoer moes gee oor die gebeure by die groep. Foto: Nellie Brand-Jonker

Louis du Preez, uitvoerende hoof van Steinhoff, het die name een vir een voorgelees nadat Yunus Carrim, voorsitter van die staande komitee oor finansies, hom opdrag gegee het om dit te doen.

Du Preez het gesê hulle kan nie vrywillig die name bekend maak nie, maar die parlement het magte om instruksie te gee dat die name bekend gemaak word.

Dit het gevolg op baie druk op hom deur lede van die vier parlementêre komitees.

Steinhoff het Vrydag in ’n mediaverklaring van net elf bladsye bloot genoem van ’n “senior uitvoerende bestuurder” wat ’n klein groep voormalige uitvoerende bestuurslede en ander mense buite die groep gelei het om verskeie transaksies oor ’n aantal jare te struktureer en deur te voer wat gelei het tot ’n wesenlik oordrewe wins en bates by Steinnhoff.

Rory Voller, hoof van die Kommissie van Maatskappye en Intellektuele Eiendom (CIPC), het in sy voorlegging aan die parlement gesê hy sien geen rede hoekom Steinhoff die name meer vertroulik moet hou nie. “Dié skippie het gevaar,” het hy gesê.

Die CIPC is verlede jaar versoek om die name vertroulik te hou omdat gevrees is dit gaan die ondersoek benadeel. “Daar is nou geen rede meer daarvoor nie.”

Hy het gesê Steinhoff moet dus die name bekend maak.

Carrim het adv. Frank Jenkins, regsverteenwoordiger van die parlement, se advies gevra en toe gesê daar is ten minste tien redes wat die komitees geopper het hoekom dit nodig is om die name bekend te maak.

Twee boeke het verlede jaar die lig gesien wat Markus Jooste impliseer. Dit was Rob Rose se Steinheist en James-Brent Styan se Steinhoff en die Stellenbosse boys.

“Ons het geen keuse nie as om jou opdrag te gee om ons die name te gee wat PwC beweer die ernstigste oortredinge gepleeg het.”

Du Preez het verwys na sy voorlegging, wat verwys het na ’n “klein groep topbestuurders en ander mense buite Steinhoff” wat van ’n uitvoerende bestuurslid instruksies gekry het.

Hy het gesê die uitvoerende bestuurslid is Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof.

Die ander topbestuurders is Dirk Schreiber, wat in die 2016-jaarverslag aangedui is as die finansiële hoof van Steinhoff Europe, Ben la Grange, voormalige finansiële hoof van die groep, en Stéhan Grobler, ook in 2016 nog ’n lid van die uitvoerende bestuur van die groep verantwoordelik vir tesourie en finansiering.

Du Preez het toe verwys na die entiteite wat geïdentifiseer is wat betrokke is by die fiktiewe en onreëlmatige transaksies wat tot die oordrywing van Steinhoff se wins en bates gelei het:

  • Campion/Fulcrum-groep
  • Talgarth-groep
  • TG-groep

Hy het gesê die individue wat betrokke is by die entiteite is: Siegmar Schmidt, wat tot 2012 die finansiële hoof van die filiaal Steinhoff Europe was,

Steinhoff
Van voor Rory Voller, hoof van die Kommissie vir Maatskappye en Intellektuele Eiendom (CIPC), Brandon Topham, nuwe hoof van ondersoeke en wetstoepassing van die FSCA, Jurgen Boyd, hoof van kollektiewe beleggings van die FSCA. Topham en Voller moes terugvoer gee oor stappe teen skuldiges by Steinhoff. Foto: Nellie Brand-Jonker

George Alan Evans, Jean-Noel Pasquier en Davide Romano. Evans is ’n Brit, Schmidt (wie se voornaam op verskillende maniere gespel word) ’n Duitser, Pasquier ’n Fransman en Romano ’n Italianer.

La Grange, wat Maandag nog per WhatsApp op vrae gereageer het, het nie gereageer op ’n versoek om kommentaar nie. Hy het Maandag nie die vraag beantwoord of hy deel van die klein span is nie.

Hy het gesê hy het nie toegang tot die verslag nie en het ’n hele paar onderhoude met PwC gedoen.

Jooste se prokureur, Callie Albertyn, het gesê hy gaan nie reageer nie. Jooste het verlede jaar in die parlement ontken hy is bewus van boekhoukundige ongerymdhede.

Grobler het by navraag gesê hy is geadviseer dat hy vanweë vertroulikheidsverpligtinge verhoed word om enige kommentaar te lewer.

Die name wat hy bekend gemaak het, is nie ’n groot verrassing nie.

Hulle is al genoem in verskeie nuusberigte in 2018 en twee boeke wat oor die Steinhoff-debakel geskryf is.

Arqaam Capital het in Desember 2017 in ’n verslag oor die maatskappye waarmee Steinhoff die transaksies gedoen het na die Campion Capital-groep verwys en Evans, Pasquier, Schmidt en Romano as direkteure genoem.

In dié groep is talle van die maatskappye gesetel wat Steinhoff in die verklaring Vrydag genoem het wat by die verdagte transaksies betrek word.

Valke
Lt.genl. Godfrey Lebeya, nasionale Valke-hoof, Dinsdag in die parlement. Hy het deurgeloop onder die kritiek oor die stadige vordering van die Valke se ondersoek. Foto: Nellie Brand-Jonker

Dit was feitlik die enigste nuwe inligting wat by die gesamentlike sitting van vier parlementêre komitees uitgekom het.

Die Valke, wat ook terugvoering moes gee oor strafregtelike sake wat verlede jaar aanhangig gemaak is oor die beweerde bedrog by Steinhoff, is erg gekritiseer toe hulle geen vordering kon toon nie.

Die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA) het Steinhoff Dinsdag gedagvaar om PwC se forensiese verslag teen Vrydag aan hom beskikbaar te stel.

Dit het voor die sitting geblyk dat daar ’n meningsverskil tussen Steinhoff en die FSCA is oor of laasgenoemde volledige toegang tot die verslag sal kry.

Brandon Topham, hoof van ondersoeke van die FSCA, het aanvanklik gesê die FSCA gaan toegang tot die volledige verslag kry.

Du Preez het kort daarna gesê Steinhoff het nooit ’n onderneming gegee om die FSCA volle toegang tot die verslag te gee nie.

Mpho Doubada
Adv. Mpho Doubada, senior adjunk-direkteur van openbare vervolging van die Nasionale Vervolgingsgesag. Foto: Nellie Brand-Jonker

Heather Sonn, voorsitter, het verduidelik die verslag moet vertroulik wees om te verseker dat vervolging “ongehinderd kan plaasvind”. Steinhoff het bedrywighede in verskillende lande, waar sekere vereistes oor vertroulikheid geld.

“Die maatskappy moet hom ook beskerm teen litigasie, want hy tree namens baie belangegroepe op, ook sy aandeelhouers,” sê sy.

Die parlementariërs wou egter weet of die werklike rede vir die aandrang op vertroulikheid nie bloot is omdat Steinhoff hom teen litigasie wil beskerm nie.

Meer oor:  Steinhoff  |  Pwc  |  Ben La Grange  |  Markus Jooste  |  Yunus Carrim  |  Meubelhandel  |  Bedrog  |  Kleinhandel  |  Kleinhandelaars
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.