Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Só is SAL beroof, toon verslag

’n Vorige waarnemende finansiële direkteur van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) moes geweet het dat die maatskappy BNP Capital net ’n front was om geld van die SAL onwettig te onttrek, lui ’n verslag van die advokaat wat die tugverhoor van twee voormalige SAL-werknemers gelei het.

Phumeza Nhantsi, vorige finansiële hoof van die SAL. Foto: SAL

Phumeza Nhantsi, wat tot middel 2018 as finansiële hoof van die SAL gedien het, is aan ernstige wangedrag in die tugverhoor skuldig bevind.

Netwerk24 het ’n verslag oor die verhoor, wat deur adv. Nazeer Cassim gelei is, gesien.

Nhantsi het haar etiese plig as geoktrooieerde rekenmeester en finanshoof versaak en haar gedrag behoort by die betrokke owerheid wat die gedrag van geoktrooieerde rekenmeesters reguleer, aangemeld te word, het Cassim bevind in die tugverhoor wat tussen April en Junie 2018 gehou is.

Die tugverhoor spruit uit gebeure in 2015 en 2016 toe die SAL die herfinansiering van R15 miljard van sy skuld wou reël. Die omstrede Dudu Myeni, ’n vertroueling van oudpres. Jacob Zuma, was toe nog voorsitter van die SAL se direksie.

Die SAL het ’n tender uitgereik vir die herfinansiering, en die voorkeurtenderaar was Seacrest Investments wat R15 miljard oor 10 jaar teen 5,6% per jaar kon uitleen.

Musa Zwane, toe waarnemende hoof van die SAL, moes saam met Nhantsi die taak aanpak om die herfinansiering te reël.

In die noulettendheidstudie is egter bevind Seacrest het self geen geld nie maar steun op geld van ’n Russiese onderneming genaamd Grissag. Dit blyk Myeni het toe ingemeng en die Vrystaat Ontwikkelingskorporasie as voorkeurtenderaar aangewys wat nou die geld van Grissag sou kry.

Cassim bevind Nhantsi het nooit die geloofwaardigheid van Grissag as finansier ondersoek nie. Haar enigste ondersoek het bevind dat dit twee Afrikaanssprekende boere van die Vrystaat, een wie se van Van der Merwe is, wat die verbintenis met Grissag het.

Nhantsi het in Januarie 2016 gevra ’n transaksie-adviseur moet aangestel word om die SAL raad te gee oor die herfinansiering. Dit is hier waar BNP Capital in die verhaal gekom het toe hy as die transaksie-adviseur aangewys is.

Cassim sê in sy verslag daar was min bekend oor BNP Capital behalwe dat hy ’n enkele direkteur genaamd Daniel Mahlangu gehad het. Teen Mei 2016 het Pravin Gordhan, toe minister van finansies, ’n stokkie gesteek voor die Vrystaatse Ontwikkelingskorporasie se betrokkenheid. Cassim wys op die absurditeit dat dié korporasie as deel van die staat genader word om die skuld van die SAL, ook ’n staatsonderneming, te finansier. Dit het nie enige kommersiële sin gemaak nie.

Zwane en Nhantsi het egter intussen voortgegaan om BNP aan te stel in die plek van die Vrystaatse Ontwikkelingskorporasie om die R15 miljard vir die SAL te vind, teen ’n tarief van R256 miljoen. BNP sou ook die finansiële adviesdienste aan die SAL te lewer teen ’n koste van R2,66 miljoen. Dit blyk BNP se aanstelling is nie korrek gedoen nie, en tenderwetgewing is nie gevolg nie.

Mahlangu het ’n klousule in die kontrak gevoeg dat hy ’n kansellasiefooi van 50% van die totale tarief betaal moet word as die SAL die kontrak voortydig sou kanselleer.

Berigte wat die transaksie ontbloot, het daarna in die media verskyn en die transaksie is gekanselleer. Daar is vasgestel BNP het nie ’n geldige lisensie van die Raad op Finansiële Dienste nie. Zwane het getuig Myeni het druk op hom geplaas om die kansellasiefooi aan BNP te betaal, maar hy was net gemagtig om betalings van tot R50 miljoen te maak. Enigiets meer as dit moes eers deur die direksie van die SAL goedgekeur word. Volgens Zwane se getuienis het Myeni hom gedruk om wel R50 miljoen aan BNP te betaal.

In Mei 2016 het Cynthia Stimpel, groeptesourier vir finansies by die SAL, boonop Nhantsi ingelig dat die tarief van R256 miljoen om kapitaal te vind buitensporig is aangesien die banke net R85 miljoen vir dieselfde bedrag sou vra.

Cassim bevind in sy verslag dat Myeni die hele transaksie met BNP georkestreer het bloot om BNP te verryk.

Volgens Cassim het Nhantsi en Zwane geen berou getoon nie. Hy het bevind hulle was skuldig aan ernstige wangedrag. Zwane was oneerlik en Nhantsi het roekeloos en oneerlik opgetree. Hy het hul summiere afdanking aanbeveel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.