Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Só knou 2de golf Momentum se wins

Die groter getal sterftes as voorspel tydens die tweede vlaag van koronavirusinfeksies het die versekeringsgroep Momentum Metropolitan se wins geknou.

Hillie Meyer, uitvoerende hoof van die Momentum Metropolitan-groep. Foto: Verskaf

Hillie Meyer, uitvoerende hoof, sê bykomende voorsiening van R655 miljoen vir sterftes is in die halfjaar gemaak nadat meer eise as verwag ontvang is.

Dit is bykomend tot die R983 miljoen wat reeds teen die boekjaareinde einde Junie 2020 vir Covid-19-sterftes opsygesit is.

Die voorsiening is nie net vir potensieel meer sterftes nie, maar ook weens die verwagting dat meer polisse beëindig gaan word en vir korttermynversekeringseise vir die onderbreking van sake.

In die halfjaar is reeds R423 miljoen van die voorsiening benut. Sy totale voorsiening vir meer as verwagte eise het einde Desember dus R1,2 miljard beloop.

Teen einde Desember was daar kumulatief meer as 1 miljoen bevestigde koronavirusgevalle in die land, met 28 921 Covid-19-sterftes.

Die tweede vlaag van infeksies in Suid-Afrika het middel Januarie ’n piek bereik en die piek van sterftes was sowat twee weke later.

Die inligting oor oormaatsterftes van die Mediese Navorsingsraad (MNR) dui egter daarop dat heelwat meer mense aan Covid-19 dood is as wat die amptelike syfers aan die hand doen.

Momentum Metropolitan se eise vir sterftes is in ooreenstemming met die oormaatsterftesyfer erger as wat aanvanklik deur sy aktuarisse se modelle voorspel is, veral in Januarie.

By Momentum Corporate – wat groepversekering aan werkgewers verkoop – was die eise vir sterftes wat in die halfjaar ontvang is sowat 35% meer as wat gemiddeld in ooreenstemmende tydperke ontvang is.

Die ouderdomsgroepe 40 tot 70 jaar is die ergste getref met eise wat 50% hoër as die gemiddelde in die ooreenstemmende tydperke was.

Die oormaatsterftes in die eerste halfjaar het gelei tot eise ter waarde van R102 miljoen méér as voorspel by Momentum Corporate.

Dit is die enigste onderneming in die groep wat ’n verlies gely het.

By die lewensversekering wat Momentum Metropolitan aan individue verkoop, was die eise vir sterftes sowat 20% meer as in ooreenstemmende tye.

Die groep het sy modellering aangepas op grond van die jongste ervaring met eise en die MNR se data oor oormaatsterftes. Dit het gelei tot die besluit om voorsiening vir sterfte-eise met meer as R600 miljoen te verhoog.

“Ons het R6 miljard aan eise uitbetaal in die eerste sewe maande van die huidige boekjaar, waar ons normaalweg daardie bedrag in ’n hele jaar aan eise betaal,” sê Meyer.

Dit is volgens hom die doel van versekeraars om eise te betaal en hy hoop dit bring ’n mate van verligting vir hul kliënte en hul families.

Beste verkope sedert samesmelting

Die groep se nabelaste wins in die halfjaar tot einde Desember het met 38% tot R967 miljoen gedaal.

Dit is toegeskryf aan die voorsiening wat gemaak is vir meer eise weens Covid-19.

Meyer sê daar was in die halfjaar indrukwekkende groei in nuwe sake, wat dui op goeie vordering met die omkeerstrategie wat in 2018 begin is.

Die nuwe sake wat geskryf is, het met 14% gestyg.

Volgens hom is ’n uitstekende bedryfsprestasie behaal.

Uitgesluit die bykomende voorsiening vir Covid-19-sterftes, sou die bedryfswins 20% hoër gewees het.

Die ondernemings wat polisse en produkte aan individue verkoop – Momentum en Metropolitan – het rekordverkope behaal. Dit was die beste sedert die samesmelting tussen dié twee ondernemings in 2010.

“Gegewe die moeilike ekonomiese omgewing, is ons tevrede met die sterk groei in die onderliggende bedryfswins,” sê Meyer.

Die groep hou vol om die getal ondersteunende onafhanklike finansiële adviseurs wat sy produkte verkoop, te verhoog. In Desember het die getal adviseurs wat Momentum-produkte aan individue verkoop, tot 2 000 gestyg.

Metropolitan Life se adviseurs, wat nét sy produkte verkoop, het ook hul beste vlak van produktiwiteit bereik sedert die samesmelting.

Toekoms nog donker

Meyer sê die groep bly versigtig oor die sekondêre impak van die pandemie op die ekonomie omdat verbruikers se besteebare inkomste steeds onder druk gaan wees.

Dit kan nuwe sake demp of daartoe lei dat meer kontrakte beëindig word.

Die tempo van ekonomiese herstel gaan in die afsienbare toekoms steeds deur die teenwoordigheid van die koronavirus bepaal word.

As gevolg van hierdie onsekerheid meen hy dis onvanpas om vaste leiding te gee oor wat in die huidige boekjaar ten opsigte van sy winste verwag word.

Die groep is besig om sy strategie vir die komende boekjaar aan te pas. Hy sal dit in Mei aan beleggers bekend maak.

Sy kapitaalposisie het die groep in staat gestel om ’n tussentydse dividend van 25c per aandeel te verklaar.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.