Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Só loop onderhoud vir Johann Rupert skeef

’n Radio-onderhoud waarin die bekende Stellenbosse sakeman Johann Rupert waardevolle raad oor sake uitgedeel het, het geëindig met aantygings van arrogansie en rassisme teen hom. Netwerk24 vat saam hoe dinge vir hom skeefgeloop het.

Die miljardêr-sakeman, wie se familie die grootste aandeelhouers in die groot genoteerde maatskappye Richemont en Remgro is, was ’n gas van die radiostasie Power 98.7. Given Mkhari, voorsitter van die radiostasie se beheermaatskappy, MSG Afrika Group, het vir langer as twee uur ’n onderhoud met hom gevoer vir sy Chairman’s Conversation.

Johann Rupert het in hierdie stadium van die gesprek gesê hy voel hy word persoonlik beledig in plaas daarvan dat kwessies gedebatteer word. Dit is waarom hy hier sy hande in die lug op gooi.Foto: Skermgreep

Die onderhoud het heel gemoedelik begin, selfs al het dit afgeskop met Mkhari wat sê Rupert word deur talle beskou as die verpersoonliking van witmonopoliekapitaal. Hy het Rupert ook vroeg in die onderhoud reggehelp om nie van “swartes” te praat nie, maar van “swart mense”.

Mense wat meer van die Ruperts, en Remgro en Richemont se suksesse en geskiedenis wou weet, sou die onderhoud interessant gevind het.

Maar teen vraetyd was dit duidelik dat nie almal die gesprek as positief ervaar het nie.

Lees ook: Hier is Johann Rupert se ‘omstrede’ onderhoud

Die Power 98.7-aanbieder Iman Rappetti het aan Rupert gesê sy kry die gevoel op Twitter dat mense wat na die radio luister dink Rupert is uit voeling met hoe Suid-Afrikaners sy boodskap ervaar; dat dit rassisties voorkom.

Rupert het geantwoord mense wat so oud soos hy is, weet hy is nie ’n rassis nie. “Maar dis ’n ou ding daai, as mense se argumente opraak. In die ou dae toe ek teen apartheid was, is ek daarvan beskuldig dat ek ’n kommunis is. Noudat ek teen korrupsie is (word ek van rassisme beskuldig) . Hoe verdedig jy jouself as jy ’n rassis genoem word? Jy kan enigiemand ’n rassis noem.”

Hy het gesê hy neem aanstoot daaroor.

Mkhari het gesê hoe hy die reaksie interpreteer, is dat die manier waarop Rupert op ’n vraag in die onderhoud geantwoord het, mense laat dink hy stereotipeer swart mense.

Rupert het reageer op ’n vraag van Mkhari oor hoe Afrikaners se onderdrukking deur die Engelse bygedra het tot die stigting en groei van Rembrandt (Remgro se voorganger).

(Luister op die skakel hierbo van 1:07:26 af)

“Dit was dié rede,” het Rupert gesê. Hy het verduidelik hoe gedrewe dié geslag Afrikaners ná die Anglo-Boereoorlog was, hoe hard hulle gestudeer het en hoe hulle gespaar het.

“Hulle het nie BMW’s gekoop en heeltyd gaan uithang by Taboo en The Sands (nagklubs) nie . . .”

Hy het in reaksie op Rappetti se opmerking ontken dat hy “swart mense” gesê het. “Ek het gesê mense. Dink jy wit kinders doen nie dieselfde nie? Dink jy ’n hele generasie kinders doen nie dieselfde nie? Wat ek probeer sê, is ’n vorige geslag het dit nie gedoen nie. Dit was ’n heel verskillende generasie, dit was mense wat in die Depressie grootgeword het. Daar is internasionaal nou ’n verbruikerskultuur. As mense dit persoonlik opneem, moet hulle bevraagteken wat hul ouers opgeoffer het, en húl ouers. Ek praat in die algemeen, ek verwys nie na kleur, geslag of ras nie.

Ek is jammer as dit as rassisties voorgekom het, dit is nie rassisties nie. Dit is ’n filosofie.
Johann Rupert

“Ek is jammer as dit as rassisties voorgekom het, dit is nie rassisties nie. Dit is ’n filosofie.”

In vraetyd het Ronny McKenzie, president van Farmers United of South Africa (Fusa), gesê dit is jammer hoe Rupert dinge gestel het. “Jy gaan as baie arrogant beskou word. Geld kom in die meeste gevalle saam met arrogansie . . .”

Hy het gespot Rupert kan Suid-Afrika waarskynlik “koop”. “Dis hoekom jy seker voel jy kan praat soos jy praat.”

Hy het gesê “swart boere kom met baie Afrikaners in aanraking wat baie arrogant is en baie eiegeregtig voel en meen die bedryf gaan net oor hulle en nie oor swart mense nie”.

Net ná sy kommentaar het Andile Nomlala, Wes-Kaapse provinsiale voorsitter van die Black Management Forum, gesê hy voel beledig deur Rupert se stellings. “Ons het nou die geleentheid om te sien wat ons wit eweknieë van ons dink . . .”

Rupert het gesê hy het na die onderhoud gekom om vir mense te sê hulle moet op ’n onbevooroordeelde wyse met mekaar praat.

“Dit werk na albei kante toe, en ek het na jou geluister en ek is jammer as ek jou aanstoot gegee het.

“Ek sê ons land het baie ernstige probleme. En dit word die beste geïllustreer deur die duidelike verdeling hier vanaand; daar is duidelike haat, duidelike vyandigheid en beledigings.

Stellenbosse mafia en swart vriende

Mkhari het in ’n stadium tydens die onderhoud vir Rupert oor die Stellenbosse mafia uitgevra.

Mkhari het gesê daar is ’n siening onder mense in die land dat “daar ’n donker kamertjie is waar ouens onder Rupert se leiding planne beraam om ‘darkies’ uit te hou en die land te beheer; dit is die konsep van die Stellenbosse mafia.”

“Is jy ernstig? Is jy regtig ernstig? Glo jy nog in Kersvader ook en dat Marilyn Monroe agter in my erf woon en Elvis Presley vir Kersfees kom?” het Rupert geantwoord.

Rupert het gesê sy “swart Amerikaanse vriende” sal lag oor die idee dat mense dink hy probeer dít doen.

Hy het die bekende Amerikaanse basketbalspeler Michael Jordan en Naomi Campbell as sy vriende genoem.

“Om heeltemal eerlik te wees, as dit die houding is, gaan ons ernstige probleme in hierdie land hê,” het Rupert gesê.

Mkhari wou weet hoe dit opgelos kan word, maar Rupert het net laat blyk dat hy reeds sy hulp aangebied het.

“Om heeltemal eerlik te wees, ek is baie, baie tevrede om nie betrokke te raak nie en om tyd saam met my vriende en kinders deur te bring. (Om so) beledig te word . . . in baie ander lande word ’n mens nie so behandel nie.”

Nog ’n persoon het in vraetyd gesê Rupert glo hy is geregtig op “wit bevoorregting” en hy meen Rupert moet townships toe gaan en sy geld op swart nyweraars bestee. Rupert het daarop geantwoord: “Ek het my bes gedoen, en eerlik, ek ken nie mense wat saam met my werk wat nie gelukkig is nie. Hulle het almal huise, ek kyk na hul kinders en gee beurse vir hulle . . . ek is nie Kersvader wat na die land kan omsien nie.”

“My ma het my geleer om te deel en ek gee baie meer geld weg as wat ek aan ons familie bestee. Om eerlik te wees, ek het nie ’n les in mededeelsaamheid nodig nie.”

Mkhari het hom aan die einde van die onderhoud bedank dat hy iets gedoen het wat hy nog nooit voorheen gedoen het nie, waarop Rupert gesê het dat hy dit nooit weer sal doen nie. “Ek was 68 jaar lank slim en hierdie was ’n dom besluit.”

#JohannRupert was sedert Dinsdagaand lank op Twitter die gewildste onderwerp.

Die verwysing na die nagklub Taboo het selfs dié nagklub ’n gewilde onderwerp op Twitter gemaak.

Rupert het nie gereageer op ’n versoek om kommentaar nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.