Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Só lyk blikkiesvis wat jy nie moet eet nie

Suid-Afrikaners het skaars weer polonie begin koop ná twee jaar gelede se listeriose-uitbreking of ’n nuwe paniek oor voedselveiligheid is van stapel gestuur.

west point
Saldanha-sardyne is een van die handelsname waarvan spesifieke kooksels aan die mark onttrek is.

West Point Processors, ’n blikkiesvisfabriek in St. Helenabaai aan die Weskus, het Saterdag sekere 400 g-blikkies sardyne in tamatiesous aan die mark onttrek. Luidens die maatskappy se verklaring het iets moontlik in die blikproses verkeerd geloop wat die produk ongeskik vir menslike gebruik maak.

Die komplikasie is dat sardyne uit West Point se fabriek onder ses verskillende handelsname verkoop word, insluitend die huisnaam van Shoprite (Ritebrand), Checkers, OK en U-Save. Daarby word dit ook as West Point en Saldanha verkoop.

West Point sê in sy verklaring die kans dat verbruikers van die betrokke kooksel 400 g-blikkies sardyne in tamatiesous in hul besit het, is baie skraal. Die blikkies is reeds in hul eie fabriek geïsoleer, onttrek aan kleinhandelaars se verspreidingsentrums en ook van rakke af verwyder.

Enkele blikkies is wel moontlik reeds verkoop. Verbruikers word dus aangeraai om te kyk of hulle enige van die handelsname op hul rak het met die kode ZST2 of ZSC2 bo-op gedruk. Sien ook foto hieronder.

Hiér moet jy kyk watter blikkies sardyne in tamatiesous jy in jou koskas het. Slegs kode ZST2 en ZSC2 kan jy terugneem winkel toe om jou geld terug te kry.

Dis slegs van toepassing op sardyne in tamatiesous, geen ander geblikte vis nie. West Point blik ook tuna en ander vissoorte.

Dié handelsname word geraak

Al die blikkies wat geraak word, is 400 g-sardyne (pilchards) in tamatiesous met die kode ZST2 of ZSC2 op die blikkie gedruk.

  • Cape Point
  • Saldanha
  • Ritebrand (Shoprite)
  • Checkers Housebrand
  • OK
  • Ubrand (Usave)

West Point sê in sy verklaring hy probeer die probleem opspoor “om te verseker dat ons produkte aan die hoë standaard voldoen wat ons klante tereg van ons verwag”.

Die Shoprite-groep het Sondagoggend in ’n verklaring gesê hy het baie vinnig op West Point se herroepingskennisgewing gereageer “aangesien kommer oor voedselveiligheid in ons onderneming met groot erns bejeën word”.

“Ons het verseker dat geen verdere produk wat moontlik geraak is, in ons winkels verkoop kan word nie.”

Shoprite doen ’n beroep op mense om hul koskaste na te gaan. Indien hulle die betrokke blikkies in hul kas het, kan hulle dit terugneem na die supermarkgroep waar dit gekoop is en hulle sal hul geld terugkry.

Shoprite se kommunikasie-afdeling het in reaksie op Netwerk24 se navraag gesê omdat die proses om blikkies uit hul eie winkels en verspreidingsentrums en dié van mededingers te verwyder, nog nie afgehandel is nie, kan hulle nog nie sê hoeveel blikkies altesame onttrek is nie.

Die groep het verbruikers verseker hy koop slegs produkte aan van verwerkers en produsente wat aan die verskeie regulasies oor voedselveiligheid voldoen. Dit word sowel intern as onafhanklik geoudit en gesondheidsowerhede en ander reguleerders doen gereeld kontroles. “Die Shoprite-groep verkry kosprodukte van verskaffers met ’n goeie reputasie en bewese veilige prosedures vir koshantering, en verwag van hulle om ten alle tye aan relevante regulasies te voldoen.”

Met die uitsondering van die Ubrand-blikkies is dié al die produkte wat moontlik deur die herroeping geraak word.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.