Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Só lyk die enorme eise teen Steinhoff nou

Die toekoms van Steinhoff is nou verweef met die uitkoms van die tientalle hofsake teen die maatskappy.

Christo Wiese eis deur ondernemings waarin hy belange het en familietrusts byna R64 miljard van die Steinhoff-groep.

Louis du Preez, uitvoerende hoof, skryf in die jaarverslag oor die 2017-resultate, wat Dinsdagnag uitgereik is, daar is “wesentlike onsekerheid oor die uiteindelike uitwerking” van die hofsake op die groep se likiditeit.

Die totale waarde van die eise – uitgesluit enige regskoste – is volgens Netwerk24 se berekeninge gegrond op nuwe inligting in die jaarsyfers en vorige berigte minstens R108,178 miljard. Van die groepsgedinge het nog nie aangedui wat hulle eis nie. Dit sluit ook enige regskoste uit wat teen Steinhoff toegestaan kan word.

Steinhoff se inkomste vir die 2017-boekjaar was 18,8 miljard (nagenoeg R303 miljard), maar die maatskappy se uitgawes en skuld beteken hy het ’n bedryfsverlies van 3,9 miljard (nagenoeg R64 miljard) gely.

Lees ook: Steinhoff ly verlies van €3,9 miljard ná afskrywings

Die groep het ’n litigasiekomitee op die been gebring wat bestaan uit Louis du Preez, uitvoerende hoof, Pieter Wakkie, ’n direkteur op die toesighoudende direksie, nog twee benoemde direkteure, Paul Copley en David Pauker. Dié komitee sal die meriete van en reaksie op elke eis oorweeg.

Werksmans, ’n Suid-Afrikaanse regsfirma, en Linklaters, ’n multinasionale firma met sy hoofkantoor in Londen, is Steinhoff se regsverteenwoordigers in die sake.

Die hofgedinge word bemoeilik omdat hulle in verskillende lande aanhangig gemaak is.

Een van die sleutelaannames van Steinhoff is dat geen wesentlike eise of boetes binne die volgende 12 maande betaalbaar sal word nie.

Die maatskappy sê ook hy sal “maniere ondersoek om die eise op te los”, ’n frase wat die moontlikheid van skikkings opper, wat dalk goedkoper as duur hofsake sal wees, veral as eise slaag.

Die volgende eise is reeds teen Steinhoff gebring en die groep sê hy verweer homself teen almal. Al die eise word gebring op grond van die eisers se siening dat die finansiële verslae wat aan hulle verskaf is, “misleidend” was.

Lees ook: Deloitte wil nie ouditmening gee

Die meeste eise is van mense wat hul belange in ander maatskappye – soos Pepkor, Tekkie Town en PSG – verruil het vir Steinhoff-aandele. Omdat die aanbiedinge gegrond was op wanvoorstellings van Steinhoff se waarde, eis dié aandeelhouers nou óf hul maatskappye óf aandele in maatskappye terug óf skadevergoeding vir die verliese wat hulle gely het.

Hier is die grootste sake teen Steinhoff en die waarde van potensiële eise, regskoste uitgesluit, kortliks opgesom:

1. Tekkie Town-stigters teen Steinhoff: R1,85 miljard

  • Die eis wat Braam van Huyssteen, Bernard Mostert en ander stigters en topbestuurders van Tekkie Town bring omdat hulle Tekkie Town in September 2016 aan Steinhoff verkoop het op grond van misleidende syfers. Hulle is betaal met aandele in Steinhoff.

2. Tekkie Town-stigters se eis teen Pepkor: R890 miljoen

  • Dit gaan oor betalings wat die Tekkie Town-stigters en -topbestuurders sê aan hulle beloof is indien Tekkie Town sekere teikens haal.

3. Thibault en Upington: Altesame meer as R60,22 miljard

  • Thibault en Upington, albei maatskappye waarin Christo Wiese belange het, eis vir die verkoop van Pepkor aan Steinhoff. Upington se eis is later oorgedra aan nog ’n Wiese-firma, Titan.

4. Wiesfam-eise: Minstens R3,4 miljard

  • Familietrusts van Christo Wiese eis vergoeding vir PSG-aandele wat hulle vir Steinhoff-aandele verruil het.

5. GT Ferreira en die Tokara-trust: R1,17 miljard

  • Hulle eis skadevergoeding vir PSG-aandele wat hulle vir Steinhoff-aandele verruil het.

6. Le Toit-trust: R740 miljoen

  • Die trust het PSG-aandele vir Steinhoff-aandele verruil.

7. Enrico de Villers Greyling: R98 miljoen

  • Greyling het PSG-aandele vir Steinhoff-aandele verruil.

8. Lancaster 101: Drie eise van altesame R11,7 miljard

  • Dié firma het so onlangs as 18 April vanjaar met sy eis teen Steinhoff begin vir skadevergoeding met betrekking tot ’n belegging in Steinhoff en ’n leningsooreenkoms om dit te finansier.

9. HLSW en LSW: Verskeie eise van tot R14,5 miljard

  • HLSW en LSW is entiteite van dr. Andreas Seifert, ’n voormalige Steinhoff-vennoot in Oostenryk. Seifert en Steinhoff het saam Poco, Conforama en Kika-Leiner gekoop. Die huidige waarde van die verskillende eise is aansienlik meer as wat voorheen berig is.

10. Bruyn-groepsgeding in Suid-Afrika: Waarde onbekend

  • 42 Suid-Afrikaanse aandeelhouers eis skadevergoeding vir die daling in Steinhoff se aandeelprys.

11. Vereniging van Effectenbezitters: Waarde onbekend

  • Die Vereniging van Effectenbezitters (VEB) verteenwoordig Europese beleggers wat skadevergoeding eis vir die daling in Steinhoff se aandeelprys omdat hul beleggings gedoen is op grond van foutiewe finansiële inligting.

12. Deminor Recovery Services: R11 miljard

  • Deminor maak die saak namens homself en 84 ander aandeelhouers vir die skade wat hulle gely het nadat Steinhoff se aandeelprys geval het.

13. Trevo Capital: R2,16 miljard

  • Dié belegger eis ook vir die daling in Steinhoff se aandeelprys.

14. BVI: R2,16 miljard

  • Business Ventures Investments (BVI) bestaan onder meer uit bestuurslede en voormalige werknemers van Pepkor wie se Pepkor-aandele in Steinhoff-aandele omgeskep is met Steinhoff Africa Retail (Star) se notering. Star het verlede jaar sy naam terugverander in Pepkor.

15. Oudwerknemers van Pepkor: R450 miljoen

Dis nog ’n eis deur voormalige topbestuurders van Pepkor.

Ander eise

  • Steinhoff sê daar is ook heelwat ander eise waarvan die bedrae onbeduidend is.
Meer oor:  Steinhoff  |  Deloitte  |  Pwc  |  Andreas Seifert  |  Markus Jooste  |  Christo Wiese  |  Meubels  |  Meubelhandel  |  Bedrog  |  Kleinhandel  |  Kleinhandelaars
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.