Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Só lyk die Gupta-sakeryk nou

Regstelling: In ’n vorige weergawe van die berig is die embleem van Idwala Industrial Holdings Limited  verkeerdelik op die grafika gebruik as embleem vir Idwala Coal.  Idwala Industrial Holdings het geen bande met die Guptas nie en daar is geen gedeelde belange nie. Investec Equity Partners Portfolio One is die uiteindelike eienaar van Idwala Industrial Holdings.

Ajay en Atul Gupta met Duduzane Zuma (toe direkteur van Sahara) in Midrand op 4 Maart 2011. Foto: Gallo Images/Getty Images

Dit lyk asof die Gupta-familie se sakeryk in Suid-Afrika vinnig aan die verkrummel is.

Die proses is verhaas toe Bank of Baroda – die enigste bank wat nog sake met Gupta-verwante maatskappye gedoen het – dié week die groen lig van die hooggeregshof in Pretoria gekry het om aan die land te onttrek. Dit was nadat verskeie Gupta-verwante maatskappye die bank deur ’n hofbevel wou dwing om in die land te bly.

Maar as ’n mens begin krap, is daar bitter min bekend oor sommige van dié “maatskappye” wat deel van die aansoek was.

Verskeie Gupta-ondernemings is ook reeds in sakeredding geplaas.

So ver ons kon vasstel, lyk die stand van sake by al die Gupta-maatskappye tans so (sien ook die grafika onderaan die berig):

  

BEHEERMAATSKAPPY

   

  • Oakbay Investments

Oakbay Investments is die oorhoofse beheermaatskappy van die Guptas. Volgens die 2016-jaarresultate wat die maatskappy op 8 September 2016 uitgereik het, was Sahara Computers en Oakbay Resources & Energy die beheermaatskappy se twee grootste bronne van inkomste.

Die maatskappy het net die een keer sy resultate bekend gemaak.

Hiervolgens was sy inkomste vir die jaar tot einde Februarie 2016 R2,62 miljard.

Alle ander maatskappye by wie Netwerk24 meer inligting wou kry, het navrae na Oakbay verwys.

Oakbay het nie op die vrae gereageer nie.

  

MYNBOU

       

  • 1. Oakbay Resources & Energy

Luidens Oakbay se jaarverslag is sy mynbouafdeling sy grootste bron van inkomste. Dit het in die 2016-boekjaar 44,5% van sy inkomste oftewel R1,17 miljard verdien.

In die 2015-’16-boekjaar het 3 719 mense in dié afdeling – bestaande uit Shiva Uranium en Idwala Coal – gewerk.

Shiva Uranium is in Februarie in sakeredding geplaas.

Louis Klopper, die sakereddingspraktisyn wat saam met Kurt Knoop aangestel is om die situasie by verskeie van die Gupta-maatskappye te beredder, het aan skuldeisers gesê die Gupta-familie het die winsgewende maatskappye wat hulle beheer het “verkrag en gestroop” om ander te subsidieer en vir alles van huise tot ’n wildplaas en hul private straler te betaal.

Klopper sê die meeste van die myne is winsgewend, maar ’n “bloedskandige” netwerk van lenings tussen die

sustermaatskappye het verseker dat hulle leeggesuig is.

  • 2. Westdawn Investments

Westdawn Investments dryf handel as JIC Mining. Oakbay het volgens JIC se webwerf ’n 60,74%-belang in hom.

JIC het weer Aforika Borwa Mining Solutions (ABMS) – wat tot onlangs kontrakmynwerk vir Royal Bafokeng Platinum (RBPlat) gedoen het – besit.

RBPlat het egter in 2017 besluit om nie sy kontrak met ABMS te hernu nie.

Fin24 het berig JIC het eers probeer om ABMS aan RBPlat te verkoop. RBPlat het egter Reagetswe Rasimone in sy plek as kontrakteur aangestel.

Bloomberg berig RBPlat het op 1 Januarie vanjaar al 1 200 werkers van ABMS na Reagetswe laat oorplaas.

  • 3. Shiva Uranium

Die uraanmyn in Noordwes is tans in sakeredding.

Klopper sê die sakereddingspraktisyns probeer hard om die myne in bedryf te hou.

Hy sê daar is egter ’n hele netwerk van lenings tussen verskeie van die Gupta-maatskappye – wat Shiva insluit – wat sake bemoeilik.

Tegeta Exploration and Resources skuld byvoorbeeld vir Shiva Uranium R1,3 miljard.

Volgens Oakbay werk daar 700 mense by dié myn.

  • 4. Tegeta

Tegeta is in 2007 as ’n beheermaatskappy geskep. Oakbay hou ’n belang van 29% in hom.
Tegeta besit Tegeta Resources, Tegeta Exploration and Resources, wat weer die Optimum- en Koornfontein-steenkoolmyn besit, en Idwala Coal.

In Augustus is berig Oakbay het Tegeta Exploration and Resources vir R2,97 miljard aan die Switserse maatskappy Charles King verkoop. Daar is bitter min bekend oor die koper, behalwe dat Charles King aan Amin Alzorooni van Dubai behoort.

Die transaksie sou glo binne 12 maande afgehandel word. Daar is geen verdere inligting beskikbaar oor wat die vordering hiermee is nie.

Tegeta Exploration and Resources is sedert 19 Februarie in sakeredding.

  • 5. Optimum en Koornfontein

Die Optimum-myn, wat die Guptas in 2016 op omstrede wyse vir R2,15 miljard van Glencore gekoop het, is saam met die Koornfontein-steenkoolmyn in sakeredding.

Die Optimum-steenkoolterminus in Richardsbaai is ’n afsonderlike maatskappy van die Optimum-myn en was nie deel van die maatskappye wat Baroda wou keer om aan Suid-Afrika te onttrek nie.

Klopper het bevestig dat dié maatskappy ook in sakeredding is.

  • 6. Idwala Coal

Dit was een van die maatskappye wat Baroda se onttrekking teengestaan het.

Oakbay sê op sy webwerf Idwala Coal besit die Brakfontein-steenkoolmyn en mynregte vir die Brakfontein-uitbreiding. Bitter min is verder hieroor bekend.

News24 het in 2014 berig die Guptas wou Eskom oortuig om ’n kontrak met ’n myn van Idwala Coal in Mpumalanga te sluit om steenkool aan van sy kragstasies te lewer. Dit het egter geblyk die myn was onwettig en het verskeie wette en regulasies oortree. Eskom het dit as te riskant beskou.   

  • 7. Mabengela Investments en Mabengela Resources and Energy

Dié twee entiteite word in hofstukke as Gupta-maatskappye genoem.

Die enigste verwysing na hulle wat egter opgespoor kon word, is ’n verklaring deur die kredietgradeerder S&P Global Ratings wat lui dat Mabengela Investments ook ’n belang in die Optimum-steenkoolmyn het.

Geen verwysing kon opgespoor word na Mabengela Resources and Energy nie.

  • 8. Optimum- en Koornfontein-mynrehabilitasietrust

Dié twee entiteite is nie maatskappye nie, maar die trusts waarin die rehabilitasiefondse vir die myne bewaar word.

Hulle was onder die Gupta-entiteite wat Baroda wou dwing om in die land te bly.

Nagenoeg R1,75 miljard word volgens wet in trusts gehou om die myne te rehabiliteer sou hulle gesluit word.

  

TEGNOLOGIE

       

  • 1. Sahara Computers

Sahara was die eerste maatskappy wat die Guptas in Suid-Afrika gestig het. Hy het sy ontstaan in 1997 gehad en het tot 2008 veral rekenaars aan die staat voorsien.

Luidens Oakbay se jaarresultate van 2016 het die maatskappy egter sedert 2008 nie meer werk vir die staat gedoen nie en sy produkte hoofsaaklik in die kleinhandel verkoop.

Die maatskappy het in ’n stadium glo 210 werkers in diens gehad.

News24 het op 16 Februarie berig Sahara se kantore in Midrand staan verlate met groot advertensieborde wat aandui die geboue is te koop. Die geboue word deur Islandsite Investments One Hundred and Eighty besit.

Die telefoonnommer vir Sahara is ook dieselfde nommer vir Sahara Consumables en Annex Distribution.

Die person wat die foon geantwoord het, het in Afrikaans gevra alle navrae moet aan “wie dit aangaan” by Oakbay Investments gerig word.

Sahara se webwerf werk nog.

Wanneer nommers van ander takke geskakel is, het die persone wat geantwoord het, vinnig ontken dat dit Sahara is en is gesê die verkeerde nommer is geskakel.

  • 2. Sahara Consumables

Sahara Consumables is een van twee Gupta-maatskappye verbonde aan Sahara Computers.

Dié maatskappy verskaf drukkersink. Dit het dieselfde adres as Sahara en ook dieselfde kontaknommers. Sy webwerf werk ook steeds.

Geen syfers is beskikbaar oor hoeveel mense daar werk en of sy werkergetalle by die oorhoofse 210 wat vir Sahara gegee word, ingesluit is nie.

  • 3. Annex Distribution

Annex is die tweede maatskappy met regstreekse bande met Sahara. Hy beskryf homself op sy webwerf as ’n verspreider van “digitale leefstyltegnologie”.

Annex se kantore is volgens Google Maps 650 m van dié van Sahara.

Dieselfde telefoonnommer word vir Annex gegee as vir Sahara.

Die persoon wat die telefoon geantwoord het, het gesê alle navrae moet aan Oakbay gerig word. Sy wou nie bevestig of die maatskappy nog bedrywig is nie.

Daar is geen inligting beskikbaar oor hoeveel mense vir Annex werk nie. Sy webwerf werk nog.

   

EIENDOM

   

  • 1. Confident Concepts

News24 het voorheen berig Confident Concepts is een van die maatskappye wat heelwat van die Guptas se eiendomme besit.

Dit sluit eiendom reg langs hul huis in Saxonwold, Johannesburg, in. Dit is ook luidens News24 die maatskappy onder wie se naam Duduzane Zuma se Porsche geregistreer is.

Die maatskappy besit ook grond op die plaas Brakfontein naby Delmas. News24 berig die eiendomme is met enorme lenings wat by Bank of Baroda geregistreer is, gekoop.

Die maatskappy is in sakeredding.

  • 2. Islandsite Investments One Hundred and Eighty

Dié maatskappy word volgens News24 deur Atul Gupta en sy vrou, Chetali, saam met sy broer Tony en dié se vrou, Arti, beheer. Dit besit verskeie bekende eiendomme, onder meer die gebou waarin Sahara Computers in Midrand was.

News24 berig die maatskappy besit ook die Guptas se huis in Constantia.

Islandsite besit ook All Craze 20, nóg ’n eiendomsmaatskappy wat aan die Guptas behoort.

All Craze het ’n verbandlening van R43,8 miljoen vir die Clifftop-wildplaas op die plaas Welgevonden in Lephalale in Limpopo. Die plaas word op R12,6 miljoen gewaardeer.

Islandsite en Confident Concepts besit glo saam eiendom ter waarde van bykans R175 miljoen.

Islandsite is in sakeredding.

  

INGENIEURSWESE

        

  • 1. VR Laser Services

VR Laser is ’n ingenieursmaatskappy wat onder meer werk vir Denel en Transnet gedoen het.

VR Laser is ook nou in sakeredding.

Luidens Oakbay se jaarresultate van 2016 het dié maatskappy 250 mense in diens.

         

MEDIA

      

Die Guptas het voorheen ook belange in die mediasektor gehad. Hy het The New Age-koerant en die ANN7-nuuskanaal besit.

Die familie het albei in Augustus verlede jaar vir onderskeidelik R100 miljoen en R300 miljoen aan Mzwanele Manyi verkoop.

Oakbay het die transaksie gefinansier deur ’n lening aan Manyi te gee.

The New Age word steeds gepubliseer. MultiChoice het in Februarie aangekondig hy gaan nie ANN7 se kontrak hernu om op sy infrastruktuur uit te saai wanneer dit in Augustus verval nie.

Meer oor:  Bank Of Baroda  |  Shiva Uranium  |  Tegeta  |  Oakbay  |  Sahara Computers  |  Guptas  |  Jacob Zuma  |  Duduzane ­Zuma  |  Optimum  |  Koornfontein  |  Staatskaping
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.