Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Só lyk die kans dat jy Covid kry as jy vlieg
Kenners sê die kanse is skraal om Covid-19 in ’n vlug van twee uur op te doen. Foto: Unsplash

Sou jy besluit om te vlieg, is die kans dat jy Covid-19 opdoen baie skraal.

Dit is luidens die navorsing deur Arnold Barnett, professor in bestuurswetenskap by die Massachusetts Instituut vir Tegnologie (MIT), in Cambridge, Massachusetts.

Ondanks die bekende gevare van oorvol, afgeslote ruimtes, is vliegtuie nog nie geïdentifiseer as ’n ruimte waar die virus na ’n groot aantal mense versprei is nie.

Dit beteken nie dat vlieg heeltemal veilig is nie – veilig is relatief en subjektief.

Barnett het ’n studie gedoen om die kanse te kwantifiseer om die virus in ’n twee uur lange vlug op te doen. Hy het ’n groot aantal veranderlikes ingebring, waaronder die kans dat hy naby iemand in die oordraagbare stadium van die siekte sal sit en die kans dat die beskerming van maskers sal misluk.

Hy het in gedagte gehou dat die lug in die kajuit die heeltyd gefiltreer word. Kenners sê die filtrasie van lug maak dit hoogs onwaarskynlik dat jy die virus sal aansteek as mense nie naby jou sit nie.

Barnett het bevind dat die kans dat jy die virus op ’n twee uur lange vlug kan opdoen, een uit 4 300 is. As die middelste sitplek oopgelaat word in ’n ry met drie sitplekke, daal dié kans tot een uit 7 700.

Barnett het spesifiek na Amerikaanse vlugdata gekyk. Hy het sy bevindinge op 2 Augustus op die mediese-wetenskap-webwerf MedRxiv gepubliseer.

Volgens Barnett is die kans dat jy kan doodgaan omdat jy die virus op ’n vlug aangesteek het, selfs nog kleiner. Hy het bevind dat dit tussen een uit 400 000 en een uit 600 000 is, afhangende van jou ouderdom en ander risikofaktore.

Op die vraag oor of Barnett self nou sal vlieg, was sy antwoord nee. Hy wys daarop dat hy 72 jaar oud is en dat dit hom in ’n hoërrisikogroep plaas.

Ander kenners het gemengde gevoelens oor of hulle nou self sal vlieg of nie.

The Boston Globe het onlangs berig dat 13 uit 15 epidemioloë en kenners oor aansteeklike siektes wat aan ’n peiling deelgeneem het, sê dat hulle nie nou sal vlieg nie. Hulle het egter nie redes daarvoor gegee nie.

Erin Bromage, professor in biologie by MIT, sê hy vlieg wel elke week aangesien hy ’n raadgewer vir die Amerikaanse regering is. Op grond van sy agtergrond in industriële meganika en vlieënieropleiding, sê Bromage dat die filtrasie van lug in vliegtuie beter is as in hospitale, met die lug in die kajuit wat 30 keer per uur heeltemal vervang word.

Hy stem egter saam met Barnett dat dit moontlik is om die siekte van jou naaste bure op die vliegtuig aan te steek of om hulle aan te steek. Sy aanbeveling is dat jy, as jy wel moet vlieg, ’n lugdiens kies wat die middelste sitplek ooplaat.

Benewens Barnett se studie wys data wat die Australiese regering ingesamel het dat hoewel daar mense in die land was wat met die virus besmet was en gevlieg het, het niemand wat saam met hulle gevlieg het dit aangesteek nie.

Daar was wel wêreldwyd ’n paar gevalle waar mense moontlik die virus in ’n vlug opgedoen het, maar daar was geen gevalle van massaoordrag nie. – Bloomberg, verkort

Meer oor:  Koronavirus  |  Vlieg  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.